WORD saam kreatief

Kreatiwiteit lewer ’n groot bydrae tot emosionele welstand. As jy saam met jou kinders kunstig raak, is dit wonderlike bindingstyd. Hier’s hoe: Skep ’n kunsstasie in jul huis – ’n plekkie waar al jul toebehore gehou word en julle saam kan sit. Gee jou kind elke dag ’n kreatiewe uitdaging. Kry inspirasie en idees by bickids.com en ook op Bic se Facebookblad. Moenie die kunswerke weggooi nie. Stel hulle ten toon – dis goed vir jou kind se selfbeeld.

Wie ry saam?

Saamrygeleenthede skool toe en terug is vir baie ouers ’n kopseer. Zipalong, ’n nuwe diens wat deel uitmaak van die d6 Connect-app van jou kind se skool (wat jy in elk geval reeds vir skoolsake gebruik), kan vanjaar hiermee help. Die diens bring ouers in verbinding met mekaar sodat dié wat ’n rit soek, kan uitkom by dié wat plek in die motor vir nog kinders het.

Jy besluit self of jou kind kan saamry en jy kan die rit op jou foon volg. Ouers in die netwerk moet almal by dieselfde skoolgemeenskap geregistreer wees. Bestuurders en passasiers registreer met ’n profiel wat ook gekoppel aan ’n rekening is om betaling maklik te maak.

Jou kind kry ’n unieke wagwoord vir elke rit sodat jy seker kan wees hulle is by die regte bestuurder. Jy is heeltemal in beheer en kan self besluit saam met wie jou kind ry.

’n Deel van die geld gaan na skool. Ouers wat dikwels bestuur, kan dus selfs ’n bietjie geld daaruit verdien, maar dan moet hulle ’n professionele rybewys hê. Kyk by d6.co.za/rides of stuur e-pos na support@zipalong.co.za.

Skoon, skoner, Sanitouch

Dié plaaslike 30 jaar oue handelsmerk wat bekend is vir hul Saniwipe-trolliedoekies, se reeks het uitgebrei en sluit hand- en oppervlakprodukte in, asook mediese en alkoholvrye produkte. Die beste van alles? Die produkte het die Europese standaardtoets Coronavirus EU 14476 geslaag. Dis ’n internasionaal geakkrediteerde laboratoriumtoets. Jy kan dus seker wees dat die produkte werklik teen die virus beskerm.

6 wenke vir minder skermtyd

Dis baie moeilik om skermtyd te beperk terwyl ons almal meer as ooit aan die huis vasgekluister is om die coronavirus te probeer ontduik. Dr. Iqbal Karbanee, pediater en hoof van Paed-IQ Babyline, deel ’n paar wenke wat kan help om gesonde skermgewoontes te skep:

  1. Moenie skermtyd in die twee uur voor slaaptyd toelaat nie. Dit kan inmeng met slaappatrone en slaap is van kardinale belang in jou kind se ontwikkeling.
  2. Maak seker jou kind neem blaaskanse van die skerm se aanhoudende stimulasie. Die blaaskanse moet verkieslik beweging insluit.
  3. Maak seker jy weet waarmee jou kind besig is. Daar moet reëls wees oor wat hulle mag kyk of speel. Ouers moet seker maak hulle weet hoe die beheerverstellings werk op al die toestelle in die huis.
  4. Hou by een toestel op ’n slag. Moet byvoorbeeld nie toelaat dat hulle op die selfoon of tablet speel terwyl die televisie ook aan is nie.
  5. Daar moet duidelikheid wees oor wanneer geen skerms toegelaat word nie, byvoorbeeld tydens familiefunksies of aan die etenstafel.
  6. Stel ’n goeie voorbeeld. Die reëls geld almal. As ouers konstant op hul foon is, sal kinders dit ook wees. Maar, voeg Karbanee by: “Streef na ’n liefdevolle en gebalanseerde gesinsomgewing eerder as ’n perfekte een.”


Pikkie se ouers skei

Leer & lees oor egskeiding

Boeke maak mos altyd die seer ’n bietjie beter. Almal weet egskeiding is moeilik. Pikkie se ouers skei is ’n hulpmiddel vir ouers wat wonder hoe om egskeiding aan hul kinders te verduidelik, hoe om die moeilike vrae te beantwoord, hoe om dit makliker te maak vir die kleingoed en natuurlik ook hoe om die hele gesprek te begin.

Die skrywer is Lizelle Stoltz, wat tans as egskeidingsregsadviseur, egskeidingsafrigter en familiereg- mediator praktiseer. In die inleiding van die boek skryf sy dat sy “die hoogste vlak van opleiding” behaal het toe sy self in 2019 geskei het terwyl haar kind ses jaar oud was. Wat sy daar geleer het, het haar in staat gestel om haar regskennis met “egskeidingsempatie” aan te vul. Sy dra ook die boek aan haar dogter op.

Pikkie se ouers skei is soveel meer as net ’n pragtige storieboek – dis terapie. Jy, die ouer, gaan sommer ook beter voel terwyl jy jou kind met kennis bemagtig. Soos Lizelle skryf: “Navorsing het getoon dat egskeiding per se nie kinders so seermaak soos wat hoë vlakke van konflik in ’n huwelik en konflik tydens ’n egskeiding doen nie.

“Alhoewel niemand wat kinders het, ooit kies om eendag te skei nie, kan jy wel kies om jou kinders deur hierdie proses te lei, by te staan en hulle te beskerm teen onnodige konflik en drama ten einde te verseker dat hul harte heel anderkant uitkom.”

Die boek is te kry by pikkieandco.com teen R300, aflewering uitgesluit. Illustrasies deur Marilize Janse van Rensburg.