Kul jou hier, kul jou daar

akkreditasie
As jou kleuter net eenvoudig weier om sekere kossoorte te eet, is dit tyd om ’n haas uit die hoed te pluk. Ons leer jou ’n paar kulkunsies.

Jy het deeglike navorsing gedoen en weet dat jou kind twee glase melk, sowat vier eetlepels gaar vleis en vyf groentes en vrugte per dag nodig het.

Maar hoe gemaak as jou kind net droë ontbytkos eet, weier om aan vleis te raak en die een groente as meer “jig” as die ander beskryf? Hoe kry jy die voedingstowwe in jou kind se lyfie as sy sekere kosse nie wil eet nie?

’n Ma wat omgee se instink is om met haar kind te baklei of haar te dwing om te eet, maar die uiteinde kan slegter wees as waarop jy gehoop het. Die oplossing vir hierdie groot probleem is gelukkig makliker as wat jy dink!

Penwortel of bangwortel

Die eerste stap is om te probeer agterkom hoekom jou kind sekere kosse nie wil eet nie. Jy moet die wortel van die kwaad opspoor en daaraan werk. Een van die algemeenste redes waarom kinders veral sekere groentes en vrugte nie wil eet nie, is wat neofobie genoem word. Voedselneofobie is ’n vrees vir nuwe of vreemde kosse en dis eintlik heel normaal dat klein kindertjies dit het.

Dit kan egter ook wees dat jou kind vir die tekstuur gril. As sy nie hou van sand tussen haar tone of ’n harde geraas nie, het sy dalkies sensoriese sensitiwiteite wat ook haar eetgewoontes kan beïnvloed. Of dalk hou jou kind net eenvoudig nie van die smaak nie, of sy sukkel om die kos te kou.

As nie een van dié redes jou kind se fiemies verklaar en sy dit self nie kan verduidelik nie, kan dit wees dat sy die kos iewers met iets negatiefs verbind het. Dalk kan jou kind nie haar lippe aan vis of melk sit nie omdat sy daarvoor allergies is. Wat die wortel ook al is, kan jy desondanks sorg dat sy steeds al die nodige voedingstowwe inkry.

Vleis-kulkunsies

Die belangrikste voedingstowwe in vleis is proteïene, yster, sink en vitamien B12. Daar is geen ander kossoort wat ál hierdie voedingstowwe op een slag kan vervang nie.

As jou kind nie gereeld vleis wil eet nie, beproef iets nuuts wat sag is en maklik om te eet: klein frikkadelletjies, maer spekvleis in pasta of groentegeregte, of gekrummelde hoenderstukkies. Sny hoender van die been af en ryg dit aan ’n peuselstokkie, of beproef klein stukkies wors.

As jy alles beproef het en jou kind steeds geen vleis wil eet nie, gee haar ander bronne van proteïen, soos melk, eiers en sojaprodukte.

Bone, lensies en neute is ook goeie bronne van proteïen, maar is nie volledige proteïene nie. Om lyfies te bou, moet dit in dieselfde maaltyd saam met ’n graan geëet word. Dit beteken dat jy byvoorbeeld stampmielies en bone of lensies en rys saam moet voorsit.

Nie een van hierdie vleisvervangers is egter goeie bronne van yster, sink en vitamien B12 nie. As jou kleinding dus nie vleis eet nie, is ’n aanvulling ’n slim plan. Kies ’n goeie multivitamien en -mineraal en ’n aparte ysteraanvulling en gee dit op verskillende tye van die dag.

Vis-toertjies

Vis is propvol proteïene en is ook die beste bron van die omega-3 vetsuur DHA (dokosaheksanoësuur). DHA is nodig vir kinders se brein- en oogontwikkeling en daarom is dit belangrik dat hulle vis eet. As jou kind nie van ’n heel stukkie vis hou nie, kan jy visvingers beproef.

’n Vistert, vissmeer of tuisgemaakte viskoekies (noem dit sommer Vaaldam-plaatkoekies) kan dalk ook werk. Probeer ’n blikkie tuna of ’n stokvisfilet by lekker geurige maalvleis of ’n hoenderpastei inwerk. As jy steeds geen vis in jou kind se lyfie kan kry nie, gee ander bronne van proteïen en ’n visolie-aanvulling.

Onthou dat kinders wat allergies is vir vis, ook nie visolie-aanvullings kan drink nie. Hulle moet dus maar op plantolies soos lynsaad- en kanola-olie staatmaak om hul omega 3’s in te kry.

Oplossings vir vrugte

Net soos groente bevat vrugte ook ’n groot verskeidenheid vitamiene en minerale. As jou kind nie gretig is om vars heel vrugte te eet nie, beproef opgesnyde blokkies vrugte soos vrugteslaai, stukkies vrugte aan ’n stokkie geryg, of vrugte in jogurt of ’n gladdejantjie.

Voeg rosyne by hul ontbytkos of gee droëvrugte as peuselhappie. Jy kan ook vrugte verdoesel soos gerasperde appel in vleisgeregte, fyngemaakte perskes by hoenderpastei, of piesang, appel of droëvrugte in muffins. As jou kind geen vrugte of groente eet nie, maak seker jy gee elke dag ’n goeie multivitamien en -mineraalaanvulling.

Fiemie-moets

  • Laat jou kind saam met jou kos maak; veral dié kosse wat sy nie wil eet nie.
  • Plant ’n groentetuin met gunstelinge asook ’n paar soorte groente wat sy nie eet nie.
  • Probeer dit in ’n ander vorm voorsit. Pleks van fyn botterskorsie kan jy botterskorsiesop of oondgebakte botterskorsieskyfies prakseer.
  • Sit die kos anders voor en gee dit snaakse name. Druk wortelslaai in ’n bakkie, keer dit uit op jou kind se bord en noem dit kasteelwortels, of sit twee frikkadelle op mekaar met ’n tamatiehoed en wortelserp en noem dit ’n moddersneeuman.
  • Begin met wat hulle wel eet en probeer uitbrei na ander soortgelyke kosse. As jou kind net jogurt eet maar nie melk drink nie, kan jy haar drinkjogurt gee en later gegeurde melk voor jy die melk oor haar pap begin gooi.
  • As jy iets nuuts maak, noem dit ’n verrassing. Dit skep onmiddellik ’n positiewe afwagting by jou kind.
  • Ryg dit aan ’n stokkie. Kinders hou van stokkies!
  • Hou dit interessant; kinders kan maklik verveeld raak.

Planne met melk

Melk is die beste bron van kalsium en vir sterk bene en tande het jou kleinding twee glase per dag nodig. As jou kleuter net van jogurt hou, maak jou eie drinkjogurt deur melk by jogurt te voeg en met ’n vrolike strooitjie voor te sit. Voeg ’n opgehoopte teelepel of twee poeiermelk by haar jogurt of beproef gegeurde melk.

Maak jou eie melkysies van gegeurde, verrykte melk en kook dit saam met ingedampte melk. Witsouse met ekstra poeiermelk, hawermoutpap gemaak met melk pleks van water, of bredies en souse gemaak van melk, is alles maniere om te sorg dat die hele gesin meer melk inkry.

Kaas bevat natuurlik ook baie kalsium en kan maklik by van souse tot soutterte en slaaie ingewerk word. Kaas bevat egter baie vet en daarom kan ons nie net op kaas staatmaak vir al die kalsium wat ons nodig het nie.

As jou kleinding geen suiwelprodukte wil of kan inneem nie, moet sy kalsium op ander maniere inkry. Kies blikkiesvis wat met grate en al geëet word, soos sardientjies, sardyne, makriel, ansjovis en salm. Groen blaargroente soos spinasie, broccoli, boerkool, groenbone en brusselse spruite bevat baie kalsium, maar hierdie kalsium word swak opgeneem.

Sojaprodukte soos tofoe en verrykte sojamelk asook amandels en kalsiumverrykte vrugtesap is ook goeie bronne van kalsium. Sonder suiwel is dit egter moeilik om die 800 mg kalsium wat jou kleinding elke dag nodig het, in te kry en daarom sal ’n kalsiumaanvulling nodig wees. Kies een wat ook magnesium en vitamien D bevat en 400-500mg kalsium per dag gee.

Waterkunsies

Skoon water is belangrik omdat dit jou kleinding se lyfie van binne af skoon was. As jou kleuter net koeldrank wil drink en nie skoon water nie, kan jy haar stadig leer deur ’n beloningskaart vir almal in die gesin te maak.

Stel klein doelwitte soos dat elkeen een klein botteltjie water op ’n dag moet drink. As sy dit die hele week lank reggekry het, beloon haar met ’n klein speelding of tyd wat jy saam met haar deurbring.

As die beloningwortel wat jy voor haar neus hou nie werk nie, kan jy haar leer water drink deur ’n klein bietjie melk of vrugtesap by die water te voeg en dit geleidelik minder te maak. Dit is egter belangrik dat dit so gou as moontlik heeltemal weggevat sal word, aangesien die klein slukkies verdunde vrugtesap nie goed vir haar tande is nie.

Groente-hase

Groente bevat ’n groot verskeidenheid belangrike vitamiene en minerale. As jou kind haar neus daarvoor optrek, kan jy dit probeer wegsteek. Fyn gerasperde wortels of murgpampoentjies of gaar pampoen kan maklik in maalvleis of ’n fynhoendergereg verdoesel word. ’n Lekker dik groentesop of hoendersop kan ook help om groente te verskaf.

Probeer ’n gladdejantjie gemaak van ’n verskeidenheid vrugte en ’n paar stukkies gaar pampoen, patat of wortel. Selfs gevriesde ertjies of gemengde groente, ’n rou murgpampoentjie of ’n stuk komkommer kan ook maklik ingeglip word as sy nie kyk nie.

Muffins kan gemaak word met gerasperde wortels, gerasperde murgpampoentjies of gerasperde botterskorsie.

Die geheim van die groente-wegkruipertjie is om nie te veel op ’n slag by te voeg nie; jy wil nie hê sy moet dit uitsnuffel nie. As sy jou een keer uitgevang het, gaan sy dalk nooit weer daardie gereg eet nie.

As jy op geen manier groente in jou kleinding se lyfie kan inkry nie, kan jy met ’n geruste hart haar groente met vrugte vervang.

Fiemie-moenies

  • Moenie jou kind met lekkerneye omkoop om iets te eet nie.
  • Moet haar nie dwing nie.
  • Moenie haar net haar gunstelinge gee nie.
  • Moenie vir haar ander kos maak as vir die res van die gesin nie.
  • Moenie jok nie. As jy gerasperde wortels by die bolognaisesous ingesmokkel het en sy vra jou of daar wortels in is, erken dit. As jy jok en sy vang jou uit, gaan jy sukkel om weer haar vertroue te wen en gaan sy nóg meer skepties wees.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees