Kyk regs, kyk links

akkreditasie
'n Mens wil jou so-iets nie eens indink nie, maar die werklikheid is dat ongelukke gebeur en dat daar jaarliks te veel kinders op ons paaie sterf. Leer jou kind van vroeg af van padveiligheid.

Dalk dink jy jou kind loop nooit oor ’n pad nie; jy gaan haal haar immers by die skool en sy gaan nooit alleen iewers heen nie, maar padveiligheid is een van daardie lesse wat kinders van kleins af moet leer.

En hoe gouer, hoe beter, vertel kenners. Petro Kruger is die medestigter van die Stigting vir Padveiligheid. Sy sê daar sterf na raming 1 500 kinders per jaar op Suid-Afrika se paaie.

“Volgens die Mediese Navorsingsraad (MNR) is padongelukke die grootste oorsaak van sterftes onder seuns tussen die ouderdom van vyf en 15 en ook van meisies tussen 10 en 15. Dis die naasgrootste oorsaak van sterftes onder meisies tussen die ouderdom van vyf en 10.”

Petro benadruk die belangrikheid daarvan om jou kind van kleins af padslim te maak.

“Goeie gewoontes word vroeg gekweek. As kinders van jongs af leer om die padreëls te gehoorsaam en die basiese beginsels van veilige padgebruik by hulle ingeskerp word, behoort hulle wanneer hulle groot is, verantwoordelike padgebruikers te wees.

“Die voorbeeld wat ouers en ander volwassenes stel, het ’n groot invloed op hoe ons kinders optree. Baie volwassenes volg nie die padreëls nie en stel ongelukkig nie ’n goeie voorbeeld nie.” Petro sê dis ’n werklikheid in Suid-Afrika dat baie van ons skoolkinders, selfs so jonk as vier jaar oud, elke oggend skool toe moet stap.

“Hierdie kinders moet dikwels besige paaie oorsteek en daarom moet veiligheid deur ouers, onderwysers, gemeenskapsleiers en selfs ouer kinders by hulle ingeprent word.” Petro vertel die ideaal is dat jonger kinders altyd deur ’n volwassene of selfs ’n ouer kind (minstens 12 jaar oud) wat ’n goeie voorbeeld stel, padslim gemaak word.

Frances Smit, ’n spelterapeut van Pretoria, sê ouers wat hul kinders wil toerus om veilig op ons paaie te wees, moet vanuit hul kind se perspektief na verkeer kyk en begrip vir kinders se ontwikkeling en vermoëns hê.

“Dit gebeur dat ouers hul kleuters se vermoëns oorskat wat daartoe kan lei dat hulle in situasies beland waarvoor hulle nog nie gereed is nie.

“Dit is noodsaaklik dat kleuters die oordeel ontwikkel om tussen verskillende situasies op die pad te kan onderskei. Daarvoor moet hulle kognitiewe vermoëns sowel as hul ¬sieke en sosiale ontwikkeling met hul kennis van padveiligheid kombineer om veilig te wees.” Frances vertel kinders begin reeds in hul eerste lewensjaar leer deur waar te neem.

“Nog voor hulle kan praat, verken hulle hul wêreld deur hul ouers dop te hou en daarom sal kinders as hulle aan verkeer en paaie blootgestel word, eerstens na hul ouers kyk vir leiding.”

Frances sê ’n groot gevaar is kleuters se onvermoë om altyd aankomende verkeer raak te sien weens stilstaande voertuie en ander obstruksies wat hul uitsig versper.

“Kinders se periferiese visie is nog nie ten volle ontwikkel nie en hulle kan daarom nie al die voorwerpe en bewegings van die kant af sien nie. Kleuters is ook geneig om impulsief te wees en moet daarom goed dopgehou word op die pad.”

Leer jou kind speel-speel

Frances vertel daar’s ’n paar maniere om die leerproses makliker te maak:

  • Moedig jou kind aan om oplossings vir situasies te kry en om aan gevolge van situasies te dink. Vra byvoorbeeld: “Wat sal gebeur as jy net oor ’n pad hardloop sonder om vir motors uit te kyk?”
  • Loop saam met jou kind oor die pad en herhaal veiligheidsmaatreëls. Herhaling help kleintjies om nuwe konsepte te bemeester.
  • Wanneer julle in die motor is of op ’n sypaadjie loop, probeer verskeie situasies identi-seer soos: “Wie kan eerste ’n vragmotor raaksien? Ry hy vinnig of stadig? Watter motor kom na ons toe en watter motor ry van ons af weg? ”
  • Maak gebruik van buite-aktiwiteite, speletjies, inkleurprente, liedjies en rympies om padveiligheidsreëls eenvoudig en prettig maak.

Dit moet jou kind weet

Petro sê kortliks moet kinders geleer word om: Nooit in die pad te speel nie; Nie alleen langs die pad te stap nie; Die pad op veilige plekke oor te steek; In ’n motor altyd ’n sitplekgordel of veiligheidstoeltjie te gebruik en nooit die bestuurder se aandag af te trek nie.

Wat kan kinders begryp?

Frances verduidelik:

  • Twee- tot driejariges kan opdragte naboots sonder om die rede daaragter te begryp.
  • Drie- tot vierjariges kan tussen reg en verkeerd onderskei, hoewel die konsep van gevolge eers teen vyf jaar sterk teenwoordig is. Hulle kan ook onder leiding reëls en roetine volg.
  • Vier- tot vyfjariges ontwikkel ’n sin vir besorgdheid oor veiligheid.
  • Vyf- tot sesjariges kan met selfvertroue reëls volg en nakom en het ook ’n beter begrip van oorsaak en gevolg.

Wat kan ek my kleuter leer?

  • ¬Kinders moet geleer word om regs, links en regs te kyk (nie “links regs links” soos in Amerika nie) voordat hulle die pad oorsteek en ook om dit op ’n veilige plek, soos ’n stopstraat, voetgangeroorgang of by ’n verkeerslig oor te steek.
  • Klein kinders, jonger as 12, het nie die vermoë om die spoed van ’n aankomende motor te skat of op gehoor die rigting van die motor te bepaal nie en moet daarom deur ’n ouer persoon vergesel word.
  • Kinders wat in motors vervoer word, is ook blootgestel en moet van jongs af geleer word dat die gebruik van ’n sitplekgordel verpligtend is omdat dit hulle veiliger hou as die motor in ’n ongeluk betrokke is.
  • Kinders wat so kort is dat hul bene nog nie by die knieë oor die voorkant van die agtersitplek kan buig nie moet ’n veiligheidstoeltjie of “booster”-sitplek gebruik sodat die sitplekgordel nie oor hul nekkie vasmaak nie.
  • Ouers moet die voorbeeld stel deur self hul sitplekgordel te gebruik.
  • Kinders moet ook geleer word om aan die sypaadjie se kant van die voertuig uit te klim.
  • Gebruik die “kinderslot” op die agterdeure sodat ’n kind nie die deur self van binne kan oopmaak nie.
  • As jy as ouer na ’n winkelsentrum of skool toe gaan, los eers jou kind in die veiligheidstoeltjie totdat jy die stootwaentjie uit die motor gehaal het. Wanneer jy alles uitgepak, opgeslaan, ingepak en onder beheer het, kan jy jou kind in die stootwaentjie sit. Dit is baie moeilik om die kind met een hand vas te hou en die stootwaentjie met die ander hand op te slaan.
  • Kinders is beslis nie bagasie nie en behoort nooit agterop ’n bakkie vervoer te word nie aangesien dit geen beskerming bied nie.

Petro se wenke vir ouers

  • As jou kleuter moeilik of ongelukkig raak in die motor, stop op ’n veilige plek soos ’n motorhawe en gee aandag aan hom.
  • Moet nooit as bestuurder tussen die sitplekke deur probeer om jou kind te paai nie. Jou aandag moet op die pad wees.
  • Bêre jou handsak in die bagasiebak van jou voertuig sodat jy nie jou selfoon kan gebruik nie.
  • Kinders onder die ouderdom van 12 behoort nooit in die voorste passasiersitplek van die motor te sit nie, veral nie as die motor met ’n passasierslugsak toegerus is nie. As die lugsak ontplooi, kan die kind ernstig beseer word as gevolg van die krag en spoed van die lugsak.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees