VRAAG

My graad O-kind sukkel om veters vas te maak. Hoe help ek haar?

LIZANNE DU PLESSIS ANTWOORD:

Namate kleuters ouer word, leer klein vingertjies om fyn werkies te doen, ’n opeenvolgende patroon uit te voer en saam te werk. Kleuters bemeester hierdie vaardighede gewoonlik tussen vyf en ses jaar oud – ontspan dus gerus.

Wat jy nodig gaan hê, is hope geduld en ’n gesindheid wat pret en plesier uitstraal. Beginaanvanklik deur net knope te maak – met toue, wol, veters, linte of enigiets anders wat julle indie hande kan kry. Oefen ook om die knope loste maak; dis ’n bietjie moeiliker.

Daar’s heelwat speletjies wat julle kan speel of aktiwiteite wat julle kan doen om klein vingertjies vaardig te maak en fyn motoriese koördinasie aan te moedig. Spuit plante met water nat, rol balletjies klei met die vingers, knip wasgoedpennetjies oop en toe en tel klein items met ’n knyptangetjie op.

Jy kan ook ’n skoenveter-vasmaak-oefenbord van ’n harde stuk karton maak. Trek twee skoenbuitelyne daarop af, druk gaatjies in en ryg veters deur. Kleur die een deel van die skoenveter met ’n viltpen in sodat dit anders as die ander een lyk. Laat jou kind die knope eers op die bord bemeester voor julle haar eie skoene pak. 

Skoenveters word op verskillende maniere geknoop. Die een wat vir jou gewerk het, is dalk vir jou kind moeilik. Kyk op YouTube en beproef nuwe maniere saam-saam.

Die twee algemeenste maniere noem ek sommer “oorkruis-hasie” en “haastige hasie”. 

Oorkruis-hasie: Vou elke veter in ’n lus (haas-ore). Kruis die haas ore in die lug sodat dit ’n x vorm. Vou die onderste veter bo-oor en onderdeur die boonste een en trek styf.

Haastige hasie: Maak eers ’n knoop deur die een veter oor en onderdeur die ander een te voer en styf te trek. Vou een veter in ’n lus. Neem die ander veter en verduidelik hoe dit die hasie is wat om die boom hardloop en oeps! daar sien hy ’n hond en moet hy vinnig by die gat inspring (druk ’n deel van die veter deur die gaatjie). Trek styf. 

My kind het onlangs vir my die YouTube-video gewys wat glo die vinnigste manier demonstreer waarop skoenveters geknoop kan word. Beproef dit gerus. Dit heet die Ian knot en is genoem na die man wat dit prakseer het. Kry dit hier: fieggen.com/shoelace/ianknot.htm

Geniet hierdie tyd saam met jou kleuter. Dis ’n fantastiese lewensvaardigheid wat jyhaar leer. Voor jy jou oë uitvee, doen sy dit woerts-warts self.