book-icon Uitgawe Februarie & Maart 2019

Lekkerspeel-leerjaar

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

Die graad O-jaar is een van jou kind se ontwikkelingsjare wat in ’n oogwink verby is. Maak dus seker dat jy hierdie wonderlike, opwindende jaar saam met jou kind geniet! So sê Karin Adlem, graad O-onderwyseres by PEMPS-laerskool in Polokwane, Limpopo. (Die O in graad O staan vir ontvangs – in Engels is dit bekend as grade R, oftewel die reception year.) Maar wat kan jy alles van hierdie belangrike skooljaar verwag? In die eerste plek is dit die eerste jaar waarin kinders by die amptelike onderwysleerplan aansluit. Dit vorm deel van die grondslagfase, wat strek van graad O tot graad 3. “Jou kind gaan nou in baie meer spesifieke leerareas onderrig word, naamlik huistaal, wiskunde en lewensvaardighede,” sê Karin.

In graad O hou jou kind aan om te leer deur te speel en dinge met sy lyf te ervaar. “Ja, daar is nou ’n mate van formaliteit en meer eise word gestel as in vorige jare, maar dis nog glad nie die formele leerprogram wat in graad 1 intree nie,” verduidelik Karin. “Graad O se dagprogram verskil steeds hemelsbreed van ’n graad 1- tot 3-kind se skoolrooster. Die manier van leer bly op die kind se vlak: sensories en kinesteties (om met sy lyfie deur beweging en ervaring te leer). Die werkboekies is kleurryk en prettig en slegs daar om hom liggies te begin voorberei op fyner motoriese aktiwiteite in graad 1. Boekwerk en werkvelle is nog glad nie die maatstaf vir leer nie.” ’n Goeie graad O-program sal kinders se perseptuele en sensories-motoriese ontwikkeling só goed vir graad 1 voorberei dat formele lees en wiskunde in die grootskool gemaklik kan plaasvind, sê Karin. “In graad O word aan die fondament van formele leerproses gewerk. As jou kind in graad O al sou wegspring met formele lees en wiskunde, sal dit hulle meer skade as goed berokken. Dit is ’n tragiese resep vir latere leerprobleme.” Dit gebeur dikwels dat ’n kind in graad 1 en 2 gemaklik hoë punte behaal en dan in graad 3 en later nie meer nie. “Dit is meestal omdat daar in graad O te vinnig formeel geleer is. Ons graad O-juffroue sê graag ons volg ’n ‘afgewaterde graad 1-program’. Die grondslag van leer in graad O is altyd speel. Dit beteken nie die graad O-juffrou sit en kyk hoe die kinders in haar klas en op die speelgrond speel nie, maar dat elke wiskunde-, taal- en lewensvaardigheidsles met spel as grondslag uitgewerk word.” Vroeër jare is daar in graad 1 byvoorbeeld ’n volle 12 weke aan ’n perseptuele program afgestaan voor daar met formele werk begin is. Hierdie taak is nou deel van graad O. In graad O word daar op voorlees- en voorskryfvaardighede gefokus, terwyl daar in graad 1 op lees en skryf self gefokus word. Dit beteken dat al die aktiwiteite – byvoorbeeld kunsaktiwiteite soos verf, teken, ryg, kleispel en knip – wat vir ’n ma of pa soms onsamehangend kan lyk, eintlik voorbereidende skryf is. Aktiwiteite soos patrone bou en voltooi is nie net wiskundige voorbereiding nie, maar ook ’n voorleesvaardigheid.”

Karin Adlem, graad O-onderwyser by PEMPS-laerskool in Polokwane, het die volgende raad:

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees