Toe haar seuntjie nog ’n piepklein snuiter was, het Karin Steyn al agtergekom hy voer hom met sy linkerhand en hou die potlood of vetkryt links vas. Maar omdat niemand in die familie linkshandig is nie, het dié Johannesburgse ma eers ná klein Philip se vierde verjaardag agtergekom haar seun se linkerhand is oorheersend.

Dit was nadat die skool arbeidsterapie voorgestel het omdat sy knipwerk met ’n regterhandskêr so slordig en agter was. Die kleuterskoolklassie het nie ’n linkerhandskêr gehad nie. Die oomblik toe Karin die korrekte skêr aanskaf, het Philip se knipwerk normaal ontwikkel.

Het jy as regshandige al probeer om met ’n linkerhandskêr te knip, of andersom? Daar gebeur ’n volle … niks. Dis die ene frustrasie. Dit het ek besef toe my eie klein hotklou (nou 4) vir my sy skêrtjie leen om ’n papierspeelding mee uit te knip. Hoeveel meer moet die handjie wat nog ontwikkel en in die proses is om vaardighede aan te leer, nie met die verkeerde gereedskap sukkel nie? Dit maak hom inderdaad leergestrem, al is die res van sy ontwikkeling normaal.

’n Linkshandige kind het geen breinontwikkelingsagterstand nie (die teen deel is eerder waar), maar daar is ’n paar basiese uitdagings waarvoor hierdie 10 persent van die wêreldbevolking elke dag te staan kom. Die uitdagings val veral in twee kategorieë:

  • ’n Werk- of leeromgewing wat vir regshandiges ingerig is, en
  • Toerusting/gereedskap vir die gebruik van regshandiges.
    Met so baie regshandiges in die omtrek (en omdat linkshandigheid eeue lank onderdruk is), is dit nie verbasend dat skoolbanke vir regshandiges gemaak word nie. So ook natuurlik alle vorms van skryfbehoeftes: skêre, skerpmakers, penne, aantekeningboeke en selfs passers.

Ná die eerste skooldag gaan bespreek ek my seuntjie se linkshandigheid met sy nuwe juffrou, Nicolette Garraway by die Orban-skool in Johannesburg. Nog voor ek iets kan sê, vertel sy my sy het gesien hy organiseer sy hele werkruimte om by sy linkerdominansie te pas.

Hy’t sy papier geskuif, sy gom links bo in die hoek gesit sodat hy nie mors wanneer hy werk nie (hy haat dit om vuil te word). Sy dominansie is so sterk gevestig dat hy nie twee keer daaroor hoef te dink nie. Sy’t dadelik besef sy sal sy skryfbehoeftes moet aanpas.

Ek is stom van verbasing – sy is oplettend en paraat. Sy vertel uit ’n familie van vyf is sy die enigste regshandige en besef sy hoe belangrik dit is om die werkruimte van ’n linkshandige aan te pas sodat hulle op hul beste kan leer.

Sy let byvoorbeeld daarop om sy waterbotteltjie of koeldrank links aan tafel te dek sodat hy nie onnodig mors nie. Sy sal hom waar moontlik eerder op papier laat teken as op ’n witbordjie, waar linkshandiges alles uitvee wat hulle pas probeer teken het. (’n Ander Orban-juffrou, Estelle Horn, is linkshandig en vind dit onmoontlik om op ’n witbord klas te gee; sy gebruik eerder ’n projektor.)

Hy sal so geskuif word dat hy gemaklik met sy linkerhand kan teken sonder dat sy elmboog sy maatjie langsaan pla, maar sodat daar genoeg plek is waarop sy elmboog kan rus.

En dan is daar natuurlik die skoenveters. “Dit was een van ons grootste uitdagings,” vertel Karin. “Hoe wys jy as regshandige vir jou linkshandige om sy skoenveters te knoop? Ons moes ’n hele nuwe storietjie en manier van doen uitdink voor hy dié mylpaal kon haal.”

Nicolette se raad is: “Gaan vra jou kind se linkshandige oupa om hom te wys. Moenie eens probeer om dit self te doen nie; dit gaan julle albei frustreer.”

Ander uitdagings sluit in potlode wat smeer omdat jy met jou hand oor die werk beweeg wat jy pas geskryf of geteken het. Dieselfde gebeur met bordkryt op ’n swartbord of koki’s op ’n witbord.

Potlood skerpmaak, ringlêers (wat geen linkshandige kan gebruik nie) en eetgerei wat verkeerdom gedek word, is ook probleme. Later kan jou kind sukkel met blikoopmakers, knipmesse, kurktrekkers en eenvoudige gereedskap soos bore, skawe en sae.

Dit, sê Karin, is een van die moeilikste goed: om as regshandige ouer, onderwyser of afrigter vir ’n linkshandige kind sekere vaardighede te demonstreer.

“Dink aan eenvoudige goed soos tande borsel, maar dan iets moeiliker soos hoe om ’n ‘d’ te skryf. Daardie ‘d’ se magie sit reg onder sy hand en hy moet leer om genoeg plek te los om die letter te kan vorm. Philip se ‘d’ lyk maar altyd bietjie ineengedruk.”

Die beste sport

Sportdemonstrasies is nog ’n uitdaging, sê Karin. “Alle krieketafrigting vind regshandig plaas en linkerhandgholf- of hokkiestokke is so skaars so hoendertande. Dan leer hulle maar eenvoudig die vaardigheid met die ander hand aan.”

Wat sport betref, is daar goeie nuus vir seuntjies soos Philip. Interaktiewe sportsoorte waar twee mense teen mekaar speel – soos tennis, tafeltennis en krieket – pas linkshandiges blykbaar soos ’n handskoen. Amper die helfte van almal wat skerm, is linkshandig.

Dit, sê Wikipedia, is omdat linkshandiges gewoond daaraan is om 90 persent van die tyd teen regshandiges mee te ding en daarom assimmetrie goed kan hanteer. Kom hulle teen ander linkshandiges te staan, is dit ’n gelyke speelgrond en goeie uitdaging. Kom regshandiges egter teen linkshandige spelers te staan, is hulle minder geoefen en sukkel met die assimmetrie.

Slimkoppe

Dit bring ons by linkshandiges se breinontwikkeling. Die Britse sielkundige prof. Chris McManus skryf in sy boek Righthand, Left-hand dat linkshandiges as ’n groep histories ’n bogemiddelde kwota uitblinkers oplewer.

Volgens hom is linkshandiges se brein so gestruktureer dat dit die register van hulle vermoëns vermeerder en uitbrei. Dieselfde gene wat linkshandigheid bepaal, bepaal ook die ontwikkeling van die taalsentrums in die brein.

Dis nie dat linkshandiges ’n hoër IK as regshandiges het nie (slegs een gemiddelde punt meer, wat weglaatbaar is), maar danksy hul breinstruktuur kan hulle taal, ruimtelike verhoudings en emosies wyer en op meer diverse maniere verwerk, en daarom is hulle soms ook meer kreatief.

’n Paar persent meer linkshandiges as regshandiges is spesifiek begaaf as dit by wiskunde en musiek kom. In ’n studie van musikante in professionele orkeste is gevind dat daar ’n betekenisvolle groter verhouding talentvolle linkshandiges is – selfs by instrumente wat vir regshandiges ontwerp is, soos die viool.

In studies van tieners wat toetse skryf om begaafdheid in wiskunde te bepaal, is bevind daar’s veel meer linkshandiges onder die begaafdes.

In een studie waaroor in die joernaal Developmental Psychology (2014) berig is, is bevind daar is ’n verband tussen peuters wat hulle dominansie (regs of links) voor een jaar oud vaslê en bogemiddelde taalvermoë.

As jou kind dus van voor ’n jaar af beslis ’n spesifieke hand gebruik om sy fopspeen in te sit, hom te voer of sy speelgoed op te tel, dui dit gewoonlik op beter taalvaardigheid en behoort hy vroeg te praat en woordeskat vinnig aan te leer.

Kinders wat hulle dominansie later vestig, se ontwikkeling is normaal volgens hul ouderdom.

Is dit oorerflik?

Waar kom linkshandigheid vandaan? Wetenskaplikes is nie seker wat dominansie bepaal nie, maar weet dat ingewikkelde oorerwing beslis ’n rol speel en vermoed dat omgewingsfaktore ook mildelik bydra.

’n Artikel wat in September 2013 in die tydskrif Time verskyn het, berig dat al is jy en jou man albei linkshandig, het jou kind ’n kans van net 26 persent om ook links te wees.

Wie's nog links?

Haai, hotklou, gewonder in wie se geselskap jy jou bevind?

Albert Einstein, Angelina Jolie, AB de Villiers, Gary Kirsten, FW de Klerk, Percy Montgomery, Graham Pollock, Napoleon Bonaparte, Marilyn Monroe, Luke Perry, Keanu Reeves, Bruce Willis, Oprah Winfrey, Ronald Reagan, George Bush, Bill Clinton, Barack Obama, Jeanne d’Arc, Alexander die Grote, Charlemagne, Julius Caesar, koning Lodewyk XVII, koningin Victoria, koning George II en koning George VI, prins Charles, prins William, Fidel Castro, Benjamin Netanyahu, Henry Ford, John F. Kennedy, Uri Geller, koning Edward II, Lewis Carroll, Kurt Cobain – die lys van beroemdes is nimmereindigend, maar let tog op die aantal landsregeerders… en dit uit net 10 persent van die wêreldbevolking!

Watter loopbane pas beter by linkshandige mense?

Volgens ’n meningspeiling op die webwerf www.lefthandersday.com waaraan meer as 2 000 mense tot dusver deelgeneem het, kan jou kind se dominansie sy loopbaankeuse beïnvloed. Die deelnemers aan hierdie peiling was meestal linkshandig en het gesê dat hulle administratiewe poste en handarbeid vermy.

Kantoorruimtes wat vir regshandiges ingerig is, is suiwer marteling. Die telefoonkabel, rekenaarmuis en alle rakke of laaie is aan die regterkant. In banke word tellers se tafelruimtes vooraf ingerig en vasgeheg – dis onveranderbaar. Kaartmasjiene is aan die regterkant – dis glad nie gebruiksvriendelik nie.

Wat handarbeid betref, word die meeste stukke elektriese kraggereedskap vir regshandiges gemaak. Daar is soms linkerhandweergawes te kry, maar dis gewoonlik duur. En natuurlik kan dit baie gevaarlik wees om sulke gereedskap met die verkeerde hand te manipuleer. Linkshandiges verkies blykbaar beroepe soos rekenaarontwerp, die media, taalgerigte loopbane, kuns, musiek, wiskunde en wetenskap.

’n Musiekloopbaan hou sy eie uitdagings in. Alle snaarinstrumente is vir regshandiges ontwerp. Jy kan dikwels linkerhandinstrumente laat maak, maar dit gaan jou sak ruk, want dit moet spesiaal volgens spesifikasie vervaardig word en in klein hoeveelhede.

Die kitaarlegende Jimmy Hendrix het hierdie struikelblok oorkom deur sy kitaar om te draai, die snare se volgorde van bo na onder om te draai en ’n hele stel nuwe drukke uit te werk wat ’n spieëlbeeld van die oorspronklikes is.

Paul McCartney het vir hom ’n linkerhandbaskitaar laat maak toe hy nog lid van The Beatles was, en beskik blykbaar oor ’n hele klomp linkerhandsnaarinstrumente, aldus www.beatlesbible.com.

Handigste winkel

’n Baie nuttige webtuiste vir ma’s met linkshandige kinders is www.writeleft.co.za. Hier kan jy enigiets bekom, van skryfbehoeftes en ander skryfhulp tot regsgebinde aantekeningboeke, rekenaarbykomstighede, selfdoen-gereedskap, kombuisgereedskap en geskenke wat die lewe vir linksies ’n bietjie makliker maak.

Daar is ook penne wat gemaak is vir die stootaksie van ’n linkshandige pleks van die trekaksie van ’n regshandige, potlode met ’n linkerhandgreep, linkerhandskerpmakers en -skêre.