Aktiewe luister help jou kind wanneer hy ongelukkig is of ongemaklike emosies moet verwerk. Aktiewe luister help hom om sy emosies te ontlont wanneer hy ontsteld is. Maar voordat ons by aktiewe luister uitkom, moet ons eers na nieverbale kommunikasie en passiewe luister kyk.

Nieverbale kommunikasie

Nieverbale kommunikasie verwys na die dinge wat ons sê sonder om woorde te gebruik. Dit sluit in ons stemtoon, gesigsuitdrukking, handbewegings, oogkontak en lyftaal. Hóé jy iets sê, is baie belangriker as wát jy sê – nie net in die kommunikasie tussen ouers en kinders nie, maar in álle verhoudings. Hier is ’n voorbeeld: Jy is in die kombuis besig om wortels te rasper. Jou dogter kom ingehardloop en sê: “Mamma, luister gou hier.” Jy antwoord: “Ek luister na jou, my liefie,” maar jy gaan aan om die wortels te rasper met jou rug na jou kind gekeer. In hierdie situasie word die verbale kommunikasie (“Ek luister …”) heeltemal deur die nieverbale boodskap (jy hou aan rasper met jou rug na jou kind toe gedraai) oorskadu. Jou dogter kry ’n negatiewe boodskap en is glad nie oortuig dat jy na haar luister nie. Dit is waarom dit so belangrik is om noukeurig op jou nieverbale kommunikasie te let wanneer jy met jou kinders praat. Maak seker jou kind ontvang ’n positiewe boodskap. Onthou, deur regtig na jou kind te luister, programmeer jy in sy brein dat hy belangrik is. Luister daarom meer as wat jy praat. Daar is vyf dinge wat ’n mens behoort te doen as jy doeltreffend wil luister:

1. Jy kyk jou kind vas in die oë terwyl julle gesigte na mekaar gedraai is. Onthou, moenie oor jou skouer met iemand praat nie. Dit is ’n swak posisie vir positiewe kommunikasie.
2. Dit is belangrik dat jy nie jou arms vou nie. Dit plaas ’n versperring tussen julle.
3. Dit werk in jou guns as jy effens vorentoe leun of jou kop vorentoe buig, want dit gee aan jou kind die gevoel dat hulle al jou aandag het en dat jy na net hulle luister en met hulle praat. Dit laat hulle ook voel jy is regtig betrokke by die gesprek.
4. Oogkontak is absoluut noodsaaklik vir doeltreffende kommunikasie.
5. As jy gespanne is, dra jy hierdie spanning binne twee tot 16 minute aan die ander persoon oor.

Passiewe luister

Passiewe luister beteken jy luister sonder om te onderbreek. Om passief te kan luister, moet jy al vyf elemente inspan [wat aan die begin van die artikel genoem word]. Knik kort-kort, sê af en toe “ja” of net “hm”. Maak seker jy is opreg wanneer jy só reageer, en nie afgetrokke nie. Om passief te luister is hoegenaamd nie ’n passiewe proses nie; dit is in werklikheid ’n buitengewoon aktiewe manier van luister.

Verbale kommunikasie

Natuurlik kan jy nou ook nie heeldag net sit en knik en glad nie praat nie. Verbale kommunikasie is daarom net so belangrik, al speel dit ’n kleiner rol. Kom ons kyk na ’n paar verskillende soorte verbale kommunikasie, wat aktiewe luister insluit.

Herfraseer of parafraseer

Parafrasering is ’n kragtige maar maklike tegniek om te gebruik om vir jou kind te wys jy luister regtig. Jy herfraseer wat jou kind sê, met ander woorde, jy som op wat jy gehoor het hy vir jou sê, maar met gevoel. Die rede waarom ek sê met gevoel is dat jy daardeur seker maak jy klink nie soos ’n papegaai wat jou kind net napraat nie.

Aktiewe of empatiese luister

Met aktiewe luister is jy nie net deur aktiewe nieverbale kommunikasie betrokke nie, maar jy tree ook in gesprek met jou kind. Jy gebruik aktiewe luister wanneer jou kind ’n sterk en ongemaklike emosie ervaar of in enige situasie waar daar ’n behoefte aan empatiese begrip bestaan, soos wanneer jou kind seergekry het, gespanne, bekommerd, bang of teleurgesteld is of aan homself en sy vermoëns twyfel. Baie kinders kan egter nie hulle emosies uitdruk nie en dan kom dit in wangedrag na vore. Hulle weier om opdragte uit te voer, gooi ’n vloermoer, slaan iemand, breek iets of kerm. Ouers reageer dikwels op die kind se wangedrag en maak só die situasie net erger. Wanneer jou kind sy broer skop, wat is jou reaksie? Jy gryp dadelik in en sê: “Hou op om jou broer te skop. Gaan dadelik na jou kamer toe!” Dit is natuurlik ’n normale reaksie en soms is die regte optrede om die kind uit die situasie weg te neem. As jy egter vermoed daar is ’n diepere emosie ter sprake, is dit natuurlik ’n totale miskenning van die kind se gevoelens en gaan dit die kind niks help nie. Jou taak is nie net om jou kind se wangedrag te hanteer nie, maar ook sy dieper emosies wat die uitbarsting veroorsaak het. Wanneer jy jou kind se gevoelens deur aktiewe luister hanteer, verdwyn die wangedrag dikwels gouer. Die voordeel van aktiewe luister is dat jou kind sien jy gee om vir sy gevoelens. Hy voel jy verstaan hom en het begrip vir sy emosies. Wanneer jy net raad gee, preek, raas, en so meer, kan dit sy wangedrag vererger omdat hy voel hy word nie verstaan nie. Nog ’n belangrike voordeel van aktiewe luister is dat die kind met verloop van tyd leer om sy gevoelens beter uit te druk omdat hy voel hy word verstaan. Hy leer om sy gevoelens in woorde uit te druk in plaas daarvan om deur wangedrag daaraan uiting te gee. Kom ons kyk na belangrike stappe wat jy moet volg voor jy aktief kan luister:

  1. Sit jou emosies eers opsy. Wangedrag by ’n kind maak dikwels sterk emosies by ’n ouer los. Maak daarom seker jy is baie kalm voordat jy reageer. Haal ’n paar keer diep asem voor jy op die situasie reageer. Mense met ’n kreatiewe brein visualiseer letterlik hoe hulle hulle woede, teleurstelling of bekommernis in hulle hande neem en dit eers eenkant in die vertrek gaan neersit. Dit maak nie saak hoe jy dit doen nie, raak net eers kalm.
  2. Hou op met waarmee jy besig is, kyk na jou kind en luister na hom. Hoe beter jy na jou kind gaan luister, hoe vinniger sal die wangedrag opgelos word en hoe vinniger sal rus en vrede weer heers. Gebruik die tegnieke van passiewe luister.
  3. Probeer identifiseer wat jou kind voel en eggo dit aan hom terug. Om iemand te slaan, ’n speelding te gryp of te weier om te luister kan dikwels die enigste manier wees wat ’n kind kan gebruik om te kry wat hy wil hê. Ouers dink dan dikwels die kind wil hulle net met sy wangedrag irriteer, maar jy as ouer kan kies om eerder jou kind se gedagtes te verander en aan hom te eggo hoe jy dink hy voel. Al is jou interpretasie verkeerd, sal jou kind ervaar jy probeer hom verstaan en wil na hom luister. Kom ons sê jy vra jou kind om sy speelgoed weg te pak, maar hy doen dit nie. In plaas daarvan om self kwaad te word, eggo eerder sy gevoelens vir hom: “Jy wil nie nou ophou speel nie, want dit is vir jou te lekker.” Wees ook versigtig dat jy nie jou interpretasie met ’n “maar” volg nie.
  4. Hier is ’n lysie gevoelswoorde wat jou kind dalk kan ervaar: bang, kwaad, geïrriteerd, skaam, deurmekaar, teleurgesteld, ontsteld, jaloers, voel uit, voel alleen, voel hy word verkeerd verstaan, senuweeagtig, hartseer, jammer, nie opgewasse nie, onseker of bekommerd.

Baie dankie aan Lux Verbi vir die gebruik van hierdie verkorte en aangepaste uittreksel uit dr. Pieter van Jaarsveld se boek ’n Gelukkige kind – bemagtig jou kind om positief te dink (R225).

Ek-boodskappe tydens konfrontasie

Natuurlik kan jy nie altyd net empaties luister nie; soms moet jy jou kind konfronteer. Wanneer jy jou kind moet konfronteer, is ek-boodskappe die heel beste metode. Jy wil jou kind teregwys sonder om sy selfrespek te vernietig. Jy kan hierdie tegniek gebruik wanneer jy ontevrede is oor iets of wanneer jou kind se gedrag onaanvaarbaar is. Probeer duidelik en reguit praat en verduidelik vir jou kind presies hoe jy voel (terneergedruk, hartseer of teleurgesteld). Sê wat jy van hom verwag sodat jy sal weet hy respekteer jou gevoelens. Die vier elemente van ek-boodskappe:

  1. Begrip Wys vir jou kind jy aanvaar sy gedrag, al irriteer dit jou grensloos op daardie oomblik. Veronderstel jou vyfjarige seuntjie spring op jou bed. Jy kan wys dat jy verstaan hoekom hy dit doen deur te sê: “Dis vir jou lekker om op my bed te spring, nè?”
  2. Die ouer se gevoelens Wanneer jou kind op jou bed spring, het jy gevoelens daaroor. Een hiervan is waarskyn­lik ergerlikheid. Jy gaan dus so voort: “Maar dit maak my regtig kwaad.”
  3. Die kind se optrede Wat jou kwaad maak, is dat die kind op die bed spring. Jy kan dus jou verduideliking uitbrei: “As jy nog langer op my bed spring ...”
  4. Die gevolge van die kind se optrede Dit is nie altyd nodig om die gevolge van die optrede te noem nie. In die geval van jou kind wat op die bed spring, sal die uiteinde wees dat hy die matras be­skadig. Daarom voltooi jy jou sin soos volg: “… sal die matras stukkend raak.”

Hier is die voltooide ek-boodskap met al vier die elemente: “Ek weet dit is vir jou lekker om op my bed te spring, maar ek word kwaad daaroor, want jy kan die matras beskadig.”