Lees gee jou kind se ontwikkeling ’n enorme hupstoot én dis iets wat julle elke dag saam kan geniet. Onthou egter dat geen kind gebore word met ’n liefde vir boeke en lees nie.

Dis iets waaraan jy jou kind gewoond moet maak: Sorg dus vir genoeg boeke op haar boekrak, en jy is so te sê ’n lewenslange leser gewaarborg!

Hoekom moet ons lees?

1. Voorlees bied heerlike interaksie tussen jou en jou kind. Dit ontwikkel positiewe gevoelens oor boeke en word later met lees verbind.

2. Dit help met perseptuele en sintuiglike ontwikkeling. As jy soos die voëltjie tjirp of jou stem diep maak om soos die brulpadda te klink, word jou kleuter of voorskoolse kind se sensitiwiteit vir klank gestimuleer. Prente wys kleure en die verskil tussen lig en donker, en baie boeke het deesdae teksture wat gewaarwording deur die vel stimuleer.

3. Dit help met verstandelike ontwikkeling. Gereelde aanraking met boeke help jou kleuter onthou, en verskillende geheuevermoëns word bevorder. Stories help ’n begrip van oorsaak en gevolg ontwikkel, en voorwerpe in boeke leer jou kleuter om tussen dinge te onderskei en voorwerpe in kategorieë te plaas, soos mense, diere en plante. Dit word algaande verfyn van konkrete tot abstrakte onderskeidingsvermoë.

4. Boeke bevorder getallebegrip. En dit geld nie net telboeke nie – enigiets in ’n prenteboek kan getel word.

5. Dis uitstekend in alle fases van taalontwikkeling. Van die namaak van taalklanke en dieregeluide tot die benoeming van dinge en handelinge en die vorm van basiese en later meer uitgebreide sinne. Ook latere meertaligheid kan bevorder word, al word jou kleuter net aan die klank van ander tale gewoond gemaak. Hoe vroeër ’n kind met taal in klank en skrifbeeld in aanraking kom, hoe vroeër word ander soorte verstandelike, emosionele en morele ontwikkeling gestimuleer.

6. Dit help met emosionele ontwikkeling. Dit bevorder die begrip van konsepte soos gelukkigheid, hartseer, woede en vrees, wat ’n belangrike deel van sosiale kommunikasie tussen jou kind en sy ouers of sy maats is.

7. Sosiale ontwikkeling en boeke gaan hand aan hand. Stories handel gewoonlik oor karakters en verhoudings wat ooreenstem met jou kind se lewe. Dit help met morele ontwikkeling. Die meeste boeke gaan oor die stryd tussen goed en kwaad en hoe die goeie uiteindelik oorwin. Dit help ook met jou kind se godsdiensbelewing.

Moedig dit só aan

  • Maak dit ’n gewoonte. Indien moontlik moet jou kind elke dag lees. Selfs al is sy ’n goeie leser, kan jy steeds aanhou om hardop vir haar voor te lees – studies dui daarop dat dit woordeskat en begrip bevorder.
  • Maak goeie keuses. Daar is ’n wye verskeidenheid boeke beskikbaar. As jou kind nie deur ’n bepaalde boek geboei word nie, kan julle ’n ander soort boek beproef soos niefiksie-boeke, grappie-boeke, strokiesboeke soos Kuifie of Asterix, of selfs resepteboeke – enige boek wat haar aandag behou.
  • Gee genoeg geleentheid. Die wêreld is vol geleenthede om te oefen om te lees. Moedig jou kinders aan om alles te lees, van spyskaarte tot padtekens en advertensies.
  • Besoek jou biblioteek. Dis ’n wonderlike gewoonte om deel van jou weeklikse roetine te maak. As jy agterkom dat jou gr. 1’tjie leesprobleme het, moet jy hulp kry. Hoe vinniger jy dit doen, hoe groter is die kans dat sy ’n goeie leser sal word. Praat met haar onderwyser as jy besorg is.

Voorlees bly belangrik

Dis belangrik dat ’n kind grootword in ’n taalryke omgewing waar sy gereeld stories hoor of met die inhoud van stories kan omgaan, en kan voorspel hoe ’n verhaal gaan afloop. Sy moet die kans gegun word om self stories te vertel en gesprekke te voer.

Indien jy voorheen vir jou kind uit boeke voorgelees het, is dit nie nou die tyd om op te hou nie. Menige ouer maak die fout om op te hou om vir hul kinders boeke te lees, want hulle reken hul kinders kan self lees en dat voorlesing hulle lui vir lees maak.

Baie ouers is verbysterd omdat hul kinders nie lesers word nie, al het hulle elke aand stories gehoor.

Die geheim is om aan te hou voorlees, selfs al kan jou kind taamlik vlot lees. Solank as wat die voorlesing vlotter verloop as jou kind se eie leespogings, sal jou kind die voorlees verkies – dit kan tot in gr. 5 of 6 steeds die geval wees.

Moet egter nie moedeloos word nie, want dis dan die ideale tyd om ’n ouer kind bekend te stel aan jeugboeke soos Trompie en Saartjie. Jou kind gaan eintlik eers self begin lees wanneer sy tot die (uiters belangrike) insig kom dat sy pleks van tot vanaand te wag vir die volgende hoofstuk, in staat is om sommer daar en dan sélf die hoofstuk kaf te draf. En siedaar, die meetsnoere van lees het in lieflike plekke geval!

Bly dus vir jou gr. 1’tjie voorlees en betrek haar by die verhaal deur vrae te vra, sinsnedes te herhaal of haar te vra om ’n voorspelling oor die einde van die storie te waag.

Woordspeletjies vir ’n slimmie

  • Sê gereeld rympies op of lees dit voor sodat jou kind ’n paar strofes uit haar kop begin ken. Begin met die openingstrofe en laat sy die rympie voltooi.
  • Laat jou kind kreatief rym – begin deur ’n gewone sin te sê en dan moet sy ’n sin sê wat met joune rym. In studies is bevind dat kinders wat blootgestel word aan rym, goeie lesers en selfs beter spellers word!
  • Lees vir haar baie stories, veral boekies waarin sekere frases herhaal word. Jy kan haar later vra om elke keer self die herhalende frase te sê. Vra ook vragies oor die verhaal.
  • Maak jou kind bewus van hoe klanke gevorm word en watter deel van die mond betrokke is. Eksplosiewe klanke soos p, b, d, k en t werk goed, asook f, g, l, m, n, r en s. Laat jou kind haar hand voor haar mond hou om te voel hoe die letter gevorm word. Laat haar woorde wat sy gereeld gebruik so voel, soos haar naam of dié van troeteldiere.
  • Wys vir jou kind prentjies en laat sy woorde wat met dieselfde klank begin op die prent soek. ’n Prentjie met diere kan perd, padda en pou hê, of koei, kat en kriek.
  • Speel speletjies soos “Met my kleine ogies sien ek iets wat begin met ’n ...”. Beweeg weg van visuele kenmerke en fokus op hoe die woord klink of gespel word.
  • Gesels met jou kind. Vra haar veral uit oor haar gevoelens en sintuiglike ervarings. Vra uit oor haar dag en die stories wat sy gehoor het.
KOOP DIE REGTE BOEKE

Volgens kinderboekkenners is die ouderdom van die hoofkarakter in die boek dikwels ’n goeie aanduiding van die ouderdom van die kind vir wie dit bedoel is.

’n Verdere oorweging is die lengte van die verhaal en die moeilikheidsgraad van die oorsaak en gevolg in die gebeure. Te maklike stories sal klein kinders verveel, en te moeilike stories sal hulle belangstelling laat verloor.

Een van die belangrikste eienskappe van ’n goeie kleuterverhaal is dat dit die luisteraar en latere leser intellektueel, emosioneel, sosiaal en moreel moet roer. Goeie boeke het soms ’n lewenslange positiewe rimpeluitwerking.

Keurig vertaalde kleuterboeke soos die Otto-boeke is goed omdat dit kleuters blootstel aan die beste ter wêreld. Sorg dat die eerste boeke waaraan kleuters blootgestel word, hulle help om ’n positiewe selfbegrip en sterk identiteitsgevoel te ontwikkel. Maak seker jou kleuter lees ook boeke in jul huistaal.

Begin dalk eerder met eenvoudige boeke wat kindervriendelik is. Klein kartonboekies is nuttig omdat hulle nie maklik verniel word nie. Helder kleure en diere en mense in die boekies wat nie bedreigend is nie, is reg. Die illustrasies moet aanvanklik nie te besig of vreemd wees nie; ’n olifant moet lyk soos ’n olifant.