Maatjie in haar kop

akkreditasie
Jou kind lag en gesels sonder ophou met haar maatjie en deel selfs haar speelgoed met haar - maar net sy kan haar sien. How hanteer jy die ekstra inwoner in jou huis?

Anneke Esterhuizen van Krugersdorp se dogtertjie, Mia (5), het amper twee jaar lank ’n rits denkbeeldige maatjies gehad. Daar was twee dogtertjies wat mekaar afgewissel het en selfs twee piepklein beertjies wat Mia besig gehou het.

“Ons het die gaste aan die begin hoogs vermaaklik gevind, maar ek moet sê hulle het my later moeg gemaak omdat dit ekstra werk beteken het,” vertel Anneke.

“Ek moes vir die maatjies kos inskep, hul voor- en afkeure in gedagte hou en hulle selfs in die motor vasmaak. Soms het ek vir haar gesê ek dink hul mamma mis hulle vreeslik, hulle moet nou ’n bietjie huis toe gaan.

“Toe haar sussie opdaag en sy ook ál beter by die skool aangepas het, het die onsigbare maatjies geleidelik verdwyn. Ek dink sy het hulle bloot geskep omdat sy so ’n alleenkind was. Ek is bly my kind het so ’n wonderlike verbeelding. Ouers moet dié tyd geniet en hul kind koester. Dit gaan so gou verby. Soms mis ek nogal die goed wat die maatjies kwansuis sou doen en sê. Selfs hul verjaardae, waarvan daar so ’n ophef gemaak is!”

Kinders ontwikkel verbeeldingsmaatjies omdat hulle ’n sterk behoefte het aan verhoudings met kinders van hul eie portuur, verduidelik Mari Fraser, ’n opvoedkundige sielkundige van Middelburg in Mpumalanga. Dit gee hulle ook die geleentheid om hul sosiale vaardighede in ’n veilige en beheerde omgewing te oefen.

Navorsing aan die universiteit van Oregon in Amerika het gevind dat 37 persent van kinders op sewe jaar oud denkbeeldige maats skep, sê Mari.

Vra ’n mens rond, is dit inderdaad so dat heelwat ma’s al met hierdie “maats” te doen gehad het.

Susan Moolman van Heidelberg se 4-jarige dogtertjie het ook ’n jaar of twee ’n denkbeeldige maatjie gehad. “Ek was aanvanklik bang dit spook in ons huis, maar het toe agtergekom ons kind is eintlik net baie alleen en skep hierdie maatjie as geselskap. Sy het ook kort-kort die maatjie se naam en voorkoms verander.

“Dit was vir my kind opwindend en lekker en daarom vir my en my man ook. Die maat het verdwyn toe ons meisiekind kleuterskool toe is. ”

Hoewel denkbeeldige maatjies algemeen voorkom, lok hulle tog baie reaksie by mense uit.

’n Predikant het al verkondig dat hierdie maatjies van naderby ondersoek moet word en bangmaakwoorde soos “demone” gebruik. Anneke vertel dat ’n vriendin haar gevra het of sy nie dink haar kind is dalk skisofrenies of ly aan ’n sielkundige afwyking nie.

Susan se skoonma wou opsluit haar kleinkind na ’n arbeidsterapeut neem om ontwikkelingstoetse te laat doen.

Mari sê mense kan dinge soms uit verband ruk omdat hulle onkundig oor die onderwerp is. “As so ’n maatjie jou kind vreugde gee, is dit nie nodig om bekommerd te wees nie,” sê sy.

Kinders hanteer nie hul verbeeldingsmaatjies dieselfde nie, verduidelik sy.

Sommige kinders het meer as een denkbeeldige maatjie en hulle kan verskeie vorms aanneem. “Dit kan ’n sagte speelding, dier, voorwerp, fantasiekreatuur of mens wees. Seuns is geneig om manlike denkbeeldige maats te skep en meisies skep manlikes of vroulikes, of albei.”

Sy vertel kinders ontwikkel gewoonlik so ’n maat op driejarige ouderdom en die fase kan twee jaar of selfs langer duur.

“Driejariges is in ’n stadium waar hulle ander kinders waarneem en naboots. Dis ’n belangrike stadium vir die ontwikkeling van sosiale vaardighede soos om positiewe groepsbande te vorm, pro-bleme op te los en spannende situasies te hanteer.

“Dis ook ’n betreklik veilige manier om met nuwe vorms van gedrag te eksperimenteer. Daarom skep ’n kind denkbeeldige maatjies om geleenthede vir sosiale interaksie te skep en so die nodige vaardighede te ontwikkel in ’n situasie waaroor sy beheer het.”

Verskeie studies is al oor kleuters en hul denkbeeldige maats gedoen, en heelparty het bevind dat dit eintlik goed vir kinders kan wees. In ’n studie waaroor in die Journal of Experimental Child Psychology verslag gedoen is, is bevind dat dit juis hierdie kinders se privaat gesprekke is wat hulle in latere jare kan bevoordeel, veral wat probleemoplossingsvaardighede betref.

Mari sê dit lyk of oudste en enigste kinders meer geneig is om denkbeeldige maats te hê.

“Kinders wat nie baie TV kyk nie, is ook meer geneig om sulke maats te skep. As dit lyk of dit as ’n reël by enkelkinders voorkom, is dit eerder omdat dit hul manier is om sosiale verhoudinge te bou in ’n situasie waar daar moontlik nie genoeg geleenthede is om met ander kinders om te gaan nie, soos as mense op ’n plaas bly en ver van die naaste dorp is. Kinders het ongestruktureerde alleentyd nodig om denkbeeldige maats te ontwikkel,” verduidelik sy.

Hoe hanteer ek die maatjie?

Die sielkundige Mari Fraser deel die wenke:

  • Moenie die bestaan van die maatjie bevraagteken nie. Hanteer liewer die "gas" met die grootste agting.
  • Moenie onnodig inbreuk maak of inmeng wanneer jou kind met die maatjie speel nie.
  • Ontspan en geniet jou kind se denkbeeldige maatjie. Vra uit oor die “maat”, want jy as ouer gaan baie van jou kind se belangstellings, begeertes, vrese en onsekerhede leer en ontdek. Hou dalk ’n joernaal van al die onthullings.
  • 'n Denkbeeldige maat is ’n unieke en betowerende ervaring vir jou kind en daarom behoort jou kind in beheer van die denkbeeldige maatjie geplaas te word. Moet dus nie toelaat dat die denkbeeldige maat oorneem en die huishouding ontwrig nie. Laat jou kind die huisreëls aan die maat oordra, want wat vir jou kind geld, geld ook vir die maat.

As die maat nie meer welkom is nie

Verbeeldingsmaats kan ’n probleem wees as jou kind van die maatjie afhanklik raak om haar eie ontoereikende selfbeeld te versterk of van die werklikheid te ontvlug, sê die opvoedkundige sielkundige Mari Fraser.

“As kinders hulleself ná ’n trauma isoleer, kan hulle ook denkbeeldige maats skep. Dis hul manier om te ontvlug uit ’n onaangename situasie en hul manier om nie die werklikheid te hanteer nie. Dis soms nodig en ’n belangrike verdedigingsmeganisme, maar die werklikheid kan nie altyd vermy word nie.”

Aan die ander kant is die skep van ’n denkbeeldige maatjie nie noodwendig ’n teken dat jou kind probleme het nie.

“Denkbeeldige maats kan ’n bron van troos en gerusstelling wees. Hulle help jou kind om vrese beter te hanteer, nuwe begrippe te ontdek en daarmee te eksperimenteer. Hulle kan jou kind ook help om ’n verantwoordelikheidsin te ontwikkel in ’n geval waar die kind na ’n denkbeeldige maat se belange moet omsien.”

Mari vertel kinders met denkbeeldige maats is dikwels minder skaam, lag baie, geniet portuurverhoudings en tree ook meer empaties op.

“Die teenwoordigheid van so ’n maat moet egter vir jou kind pret en lekker wees. As jy agterkom jou kind is buitengewoon vreesbevange of word fisiek beseer, is daar rede tot kommer en moet jy ondersoek instel.”

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees