Kinders van vyf wat eetversteurings het? Ja, sê navorsers aan die Universiteitskollege van Londen se instituut van kindergesondheid, wat ’n studie onder kinders tussen vyf en 13 jaar oud gedoen het.

Hulle het bevind dat drie uit elke 100 000 kinders daardeur geraak word. Daarby berig die Britse Daily Mailkoerant dat kinders van so jonk as drie al vir eetversteurings behandel is.

Skokkend! sal baie sê, maar is dit regtig so skokkend in ’n wêreld wat plankdun modelle aanbid, vroue nog slanker en jonger op glansvoorblaaie laat lyk, duisende dieetprodukte op die mark aanvaar en kompetisies vir meisietjies gehou word waar hulle soos prikkelpoppies lyk?

Daarom is dit so belangrik dat jy vir jou kinders van kleins af die regte positiewe boodskappe oor haar voorkoms gee, sê kenners. ’n Deel van daardie boodskappe het te doen met hoe jy jou eie lyf beskou en hoe jy self oor kos, jou lyf en gesondheid in die huis praat, selfs dit wat jy as mooi sien en beskryf.

Jou kind neem immers alles in wat jy sê, selfs al dink jy sy luister nie.

“Daar is beslis vandag ’n groter klem op voorkoms, sê Mari Fraser, ’n opvoedkundige sielkundige van Middelburg, Mpumalanga.

“Kundiges stem nie almal saam oor die rede daarvoor nie, maar baie dink die samelewing idealiseer die perfekte liggaam.” ’n Ma wat gedurig ’n dieet volg of op haar voorkoms fokus, kan dieselfde bewustheid by haar kind skep, sê Mari.

“Dit kan tot ’n negatiewe selfbeeld lei. Dink maar aan sêgoed soos ’niks van my klere pas my meer nie’, ‘die haelskade op my bobene lyk sleg’ en ‘Maandag gaan ek weer op dieet’”.

Mari vertel daar is bewys dat ’n kind wat reeds op voorskoolse ouderdom ontevrede met haar eie liggaam is, ’n groter risiko loop om in haar tienerjare ’n eetversteuring te ontwikkel.

’n Mens se liggaamsbeeld ontwikkel van ’n baie vroeë ouderdom af. Kinders leer net ná een jaar oud waar hul verskillende liggaamsdele sit en kan op drie jaar reeds liggaamsbeeldprobleme hê, sê Sinette van Rooy Booysen, ’n kliniese sielkundige van Durban.

“Dit is dus belangrik om die programme te monitor waaraan jou kind op TV blootgestel word,” maan sy. Dis ook belangrik dat jy jou kind se liggaamsbeeld van vroeg af versterk.

Moenie haar oor haar gewig of sproete spot nie, dit maak haar kwesbaar vir liggaamsbeeldprobleme. Bou eerder haar karakter en liggaamsbeeld met positiewe stellings, sê Sinette. Selfs die kies van troetelname is belangrik, sê sy.

“Kies liewer iets anders as Boemsie. Help jou kind om trots op haar lyfie te voel.”

Hoe hanteer jy liggaamskwessies?

Dis nie net gewig wat kinders ’n negatiewe liggaamsbeeld kan gee nie. Een ma vertel hoe haar kind se skewe tandjies haar so skaam maak dat sy nie in die klas wil praat nie, ’n ander ma vertel weer hoe haar pragtige, lang meisiekind so graag korter soos haar maats wil wees. Sy wil nie uitstaan nie ...

Dis waarom ’n mens die regte voorbeeld in die huis moet stel, sê Sinette. As jou kind ’n negatiewe opmerking oor haar lyf maak, sê iets positiefs daarop. “As jou kind sê: ‘Ek het aaklige bene’, is dit belangrik om te sê: ‘Mamma, dink jou bene is pragtig.’”

Kinders voel soms hulle lyk anders as hul maats en dit lei tot ongelukkigheid. Almal is tog “anders”, sê Sinette.

“Dit is belangrik dat jou kind tuis voel sy word aanvaar en dat haar moontlike ‘andersheid’ vir haar ’n positiewe ervaring is. Maak jou kind ook van ander kinders se ‘andersheid’ bewus. Ons is almal uniek en waardevol uit eie reg. Geen mens se vingerafdrukke is dieselfde nie.

“Ondersoek saam met jou kind verskille in ’n tydskrif – verskillende lengtes, oogkleur, haarkleur of gewig.” Gee jou kind kans om die situasie eers self te hanteer as sy oor iets gespot word. As sy geboelie word, maak die onderwyser daarvan bewus.

Dis ook goed om koesterende aktiwiteite te gebruik om kinders se liggaambeeld te bou, is Sinette se raad. “Maak fisieke kontak deur room te smeer of haar lyfie te poeier.”

Jou dogtertjie kla dalk dat haar ore bak is en die maatjies haar spot, of jou seuntjie dat hy die kortste in die klas is. Dis dan wanneer jy iets positiefs kan sê soos om jou kind te vra om ’n liggaamsdeel te kies waarvan sy wel hou en dan daarop te fokus, vertel Sinette.

“As jou dogtertjie dalk van haar hare hou, kan jy dit mooi maak en dit vir haar spesiaal laat lyk.”

'My kind is oorgewig'

Marie du Toit* van Stellenbosch se dogtertjie (6) is by die skool oor haar gewig gespot.

“Ek het eindelik lankal agtergekom sy sit gewig aan, maar ek het dit maar as babavet afgemaak. Ons lei ’n besige lewe en ja, daar was nie altyd tyd vir kos maak nie en groente het dikwels agterweë gebly.

Ek en my man is ywerige gim-geesdriftiges en ek het dikwels oor my gewig gekla, hoewel ek nog nooit ’n probleem daarmee gehad het nie! Toe my meisiekind een dag in trane by die huis kom en vertel dat die maatjies by die (toe) kleuterskool sê sy’s vet, het ek die omvang van die probleem besef.

Ons het dadelik ’n dieetkundige geraadpleeg, maar moes ook ’n opvoedkundige sielkundige spreek, want sy was sielsongelukkig. Ons het daar besef hoe verkeerd ons altyd oor gewig in die huis gepraat het.

Ons probeer nou daaraan werk om vir haar positiewe boodskappe oor haarself en haar lyf te gee. Ons almal in die huis eet gesond en praat nie oor gewig en so aan nie. Ons hoop maar ons doen iewers iets reg.”

Sinette se raad: Wees verantwoordelik in die keuse van jou kind se kos. As sy oorgewig is, lê die probleem moontlik by die ouer en nie die kind nie. Neem dit in ag as jou kind geneig is om oorgewig te wees.

Eet self so gesond en oefen soos wat jy graag wil hê jou kind moet. Moedig ’n aktiewe lewenstyl aan – dit dra tot ’n positiewe liggaamsbeeld by. Laat jou kind self besluite oor kos maak en maak seker daar is genoeg gesonde peuselhappies in die huis.

Maak seker jou kind weet dis normaal om gewig aan te sit en vermy negatiewe stellings oor kos, gewig en liggaamsgrootte en -vorm.

* Nie haar regte naam nie

Vet? Kort? Velkleur? Hier's hoe jy kan help

Wietske Boon is 'n spelterapeut van Centurion. Sy gee raad oor hoe om verskillende probleemsituasies te hanteer.

My kind se maatjies sê vet en lelik

Help jou kind om op haar positiewe persoonlikheidseienskappe te fokus en dit waarmee sy goed is. Help jou kind om ’n rolmodel te vind wat min of meer soos sy gebou is. Gebruik die media om vir haar te wys dat sy aanvaarbaar is net soos sy is.

Indien nodig, verander jou kind se dieet, laat sy aan sport deelneem en neem haar vir ’n sessie by ’n spa. Onthou om vir haar te vra met watter sportsoort of spabehandeling sy gemaklik sal voel.

My seuntjie is klein en kort en dit pla hom baie. Hoe help ek hom sy lyfie aanvaar?

Fokus op die positiewe eienskappe en voordele wat dit inhou om korter of langer as die ander maats te wees. ’n Langer kind het gewoonlik ’n voordeel wanneer dit by atletiek en sport kom. ’n Korter kind kry makliker wegkruipplek wanneer hulle wegkruipertjie speel.

My kind het rooi hare en sproete en dit pla hom. Hoe hanteer hy die aandag wat hy kry?

Fokus op die voordele wat sy uniekheid inhou. Help hom veral om die aandag wat hy kry, positief te hanteer. Let op wat vriende en familie vir hom sê. Hoewel baie opmerkings positief bedoel word, kan dit vir die kind verdere vernedering veroorsaak.

My seuntjie is swart in 'n oorwegend wit skool. Hy's anders as ander en dit trek aandag. Hoe help ek hom sy andersheid aanvaar?

Almal lyk verskillend, selfs die wit maats lyk almal verskillend. Die maats se gesinne verskil ook – sommige kinders bly ’n ma en pa of ’n ouma en oupa, ander se ouers is geskei en ander maats is aangeneem. Reël vir hom speeltyd met maats wat hom aanvaar. Aanvaar jou kind vir wie hy is en let op na jou eie vrese.

Ons kenners gee raad

  • Laat jou kind besef dis nie reg as maats afbrekende aanmerkings oor haar maak nie en dit is nie haar skuld as hulle dit doen nie, sê Wietske.
  • Gebruik rolspel of ’n poppekas om jou kind voor te berei op hoe om op te tree wanneer maats negatiewe opmerkings maak.
  • Wietske sê jy moet jou kind vra om haar lyfie op ’n groot vel papier af te trek. Laat haar die besonderhede voltooi. Gesels oor dit wat sy teken, inkleur of verf. Fokus op die positiewe eienskappe.
  • Luister wat jou kind vir jou sê en korrigeer onrealistiese opmerkings.
  • Let op na wat jý vir jou kind sê. Soms misverstaan ’n kind die boodskap en ervaar jou woorde as afbrekend.
  • Gee jou kind pluimpies oor haar talente, prestasies, waardes en pogings.
  • Ouers moet in ag neem wat ’n gebalanseerde lewenstyl behels, sê Mari. “Dit bestaan onder meer uit gesonde eetgewoontes, genoeg oefening, doeltreffende hantering van groepdruk en minimalisering van stresfaktore.”
  • Jou kind moet gelief en spesiaal voel en dat sy nie met ander vergelyk kan word nie. Positiewe kommunikasie is daarom kardinaal, asook intense betrokkenheid by haar fisieke, sosiale, emosionele en morele ontwikkeling.