Goedgemanierde kinders is oral welkom. En as jou kind goeie maniere het, het hy waarskynlik begrip en respek vir ander. Goeie maniere is ’n wederkerige proses. Aan die een kant verbeter jou kind se sosiale vaardighede, verhoudings en gewoontes, en aan die ander kant lei dit ook tot ’n positiewe selfbeeld, want hy kry positiewe terugvoer van die mense om hom omdat hy hulle goed laat voel. Stel jou kind van jongs af deur jou voorbeeld aan goeie maniere bloot – so sal hy weet hoe om respekvol op te tree en later sal hy ware respek hê en betoon.

Emosionele intelligensie

Goeie maniere word aan ’n gesonde emosionele intelligensie (EK) gekoppel en maniere leer ook selfbeheersing, wat tot latere sukses in jou lewe bydra. Navorsing wys dat kinders wat van jongs af selfbeheersing kan toepas, beter vaar in prestasietoetse, stres beter hanteer en gewilder is.

Iemand met ’n hoë EK is empaties en bewus van sy eie en ander om hom se emosies, en hy weet hoe om dit suksesvol te bestuur. Goeie maniere gaan daaroor dat jy sensitief is vir ander se gevoelens en behoeftes. As jou kind in die eerste 10 jaar van sy lewe leer om ma en pa se reëls te respekteer en te volg, help dit hom om as ’n tiener sy eie interne kompas te ontwikkel wat respek, maniere en reëls betref.

Kinders wat grootword sonder dat hulle respek en verdraagsaamheid geleer het, weet nie hoe om hulle in sosiale situasies te gedra of te handhaaf nie en loop so ’n veel groter gevaar om as volwassenes onsuksesvol te wees. Sulke kinders kom ook gou agter dat ander gefrustreerd en geïrriteerd met hul gedrag is en dat hulle as “stout” kinders beskou word. Dit tas hul selfbeeld aan. As jy jou kind met respek behandel, weet hy dat dit goed voel en hy weet ook dat hy ander kan laat goed voel deur dieselfde te doen. Jou kind moet van jongs af leer dat sy gevoelens en behoeftes belangrik is, maar nie belangriker as dié van die mense om hom nie.

Wat jy kan doen

Goeie maniere en sosiale vaardighede is aangeleerde gedrag en kinders het positiewe aanmoediging nodig. Jou eie voorbeeld is die sterkste wapen wat jy het. As jou kind sien jy tree hoflik teenoor ander op, jou minderes inkluis, is die stryd halfpad gewonne.

Hoe jy jou kind behandel, is natuurlik ook hoe hy jou en ander gaan behandel. Let op hoe jy self praat. Jou taal kan deurspek wees met sarkasme, vloekwoorde, skeldname, onegte komplimente, rassisme en manipulerende woorde. Dit wys duidelik wat in jou kop en hart aangaan.

Gee pluimpies, bedank, ondersteun en bemoedig meer en fokus op die positiewe kant van die lewe. Begin positief praat, dan ontstaan goeie maniere makliker. Dink oor die doel van reëls. Dit reguleer menslike verhoudings en handhaaf orde en regverdigheid. As jy dink reëls is te beperkend, gaan jou kinders dit onbewustelik agterkom. Sal jy werklik daarvan hou as jy in ’n sport meeding en jou opponent nie by die reëls hou nie, of as die bank die regulasies in verband met jou belegging oortree sodat dit jou opbrengs beïnvloed, of as iemand die verkeersreëls oortree en so ’n ongeluk veroorsaak? Leer jou kinders om die reëls te respekteer.

Maak vrede met onderlinge verskille. Ons is nie almal dieselfde nie, want ons is die produk van ons gene en ons verskillende ervarings. Niemand se tradisies verdien meer respek as iemand anders s’n nie.

’n Gesinsete om die tafel is een van die beste plekke waar jou kind goeie maniere kan leer.

Begin by die tafel

Daar is soveel sosiale, emosionele en intellektuele voordele aan ’n tradisionele gesinsete saam om ’n tafel. Nie net is gebalanseerde gesinsetes die hoeksteen van jou kind se fisieke en geestelike gesondheid nie, dis ook waar blootstelling aan goeie maniere voor die hand liggend kan wees. Dis hier waar hy leer om beleef vir ’n item te vra of iemand te help om iets soos die sout te bekom.

As jy gereeld asseblief en dankie aan tafel gebruik, word dit outomatiese gedrag by jou kinders. Hulle leer ook om deur die ete aan tafel te sit, wat geduld en selfbeheersing verg en moontlik kan meebring dat hulle uit verveling hul kos sal opeet of ’n sinvolle gesprek met jou sal voer om die ledige tyd aan tafel te vul. As jou kinders eers geleer het om stil te sit en nie hul kos of eetgerei rond te slinger nie, sal dinge soos toemond kou en elmboë van die tafel af vanself volg.

Begin sommer vroeg

1 tot 2 jaar

  • Voeg “asseblief” en “dankie” by jou kind se woordeskat vandat hy sy eerste woordjies baasraak.
  • Jou peuter moet saam met julle aan tafel sit wanneer julle as gesin die hoofmaaltyd van die dag eet. As hy reeds sy kossies opgeëet het, kan hy met ’n lepel in die hand self probeer om sagte vrugte of jogurt te eet. Moedig hom aan om die eetgerei te leer gebruik.
  • Jou peuter is al in staat om beleef te begin groet.

3 tot 4 jaar

  • Leer jou kind die woorde “jammer” en “verskoon my” wanneer hy nie volgens etiket opgetree het nie, soos om die tafel te verlaat lank voor almal klaar geëet het.
  • Hy behoort teen hierdie ouderdom die selfbeheersing te kan toepas om jou nie tydens ’n gesprek te onderbreek wanneer jy hom vra om dit nie te doen nie.
  • Jou kind kan al verjaardagetiket verstaan, soos om elkeen te bedank wat vir hom ’n geskenk gegee het en om nie sy maatjie se geskenke oop te maak nie.
  • Hy behoort te kan jammer sê wanneer hy iets verkeerd gedoen het of iemand seergemaak het, hoewel hy dit waarskynlik eers op die ouderdom van agt sal bedoel.
  • Hy kan mense beleef groet sonder om daaraan herinner te word.
Getty Images
Speletjies wat maniere oefen

Daai towerwoorde Hou ’n teddiebeerpartytjie en laat jou peuter die “ma” wees wat tee aan haar bere/poppe voorsit. Hulle moet asseblief sê wanneer sy hulle vra of hulle graag tee wil hê, en dankie wanneer hulle daardie tee ontvang. Julle kan ook winkel-winkel speel, met jou as die winkelier wat jou peuter se inkopies een vir een aangee. Hy moet asseblief sê wanneer hy daarvoor vra en dankie wanneer hy dit kry. Ná ’n rukkie kan julle rolle omruil.

Geselsies Kinders is mal oor hierdie speletjie en jy sal vind dat bykans enigiets van ’n skoen tot ’n piesang as ’n telefoon kan dien. Voer lang gesprekke met mekaar en leer jou peuter om die telefoon korrek te antwoord en hoe om te groet as hy aflui.

Totsiens! Jou kind kon as baba al vir ouma en oupa totsiens wuif. Bou hierop voort, want mense (en veral familie) voel gou te na gekom as jou kind hulle nie groet nie. Speel gereeld ’n groetspeletjie waar jy byvoorbeeld al die dinge in die kombuis groet wanneer julle daar ingaan (hallo kombuis, hallo stoof, hallo yskas, hallo mikrogolf) en weer afskeid neem as jy gaan (totsiens stoof, totsiens yskas), sodat jou peuter dit as vanselfsprekend aanvaar dat jy iemand groet wat jy vir die eerste keer daardie dag sien en weer totsiens sê wanneer hy of sy vertrek.

Wag ’n bietjie Geduld is vir peuters een van die moeilikste konsepte wat hulle moet leer verstaan. Maak ’n mikrofoon (uit ’n toiletrolletjie) en laat die een wat die mikrofoon vashou die spreekbeurt hê. Iemand anders mag daardie persoon nie in die rede val nie. As hy ’n spreekbeurt wil hê, moet hy liggies aan jou arm raak en jou kans gee om jou sin te voltooi voor hy die mikrofoon kan kry. Julle kan ook as gesin in ’n kring sit en ’n bal vir mekaar rol. Die een wat die bal kry, kan ’n spreekbeurt kry.