Mooi so!

akkreditasie
Het jy geweet net die manier waarop jy jou kind prys, kan haar selfbeeld bou? Maar dan moet jy dit reg doen.

Die hoeksteen van goeie ontwikkeling is ’n gesonde selfbeeld, en een van die maniere waarop jy dit kweek, is deur jou kind dikwels te prys. Maar dié strategie het ook ’n skadukant.

Kleuters het nou maar eenmaal die geneigdheid om ouers se positiewe dialoog te toets. “Moenie!”, “los daar!” en “waar’s jou ore?” glip makliker uit jou mond as “mooi so”, veral as die klein klits jou geduld tot die uiterste beproef.

Dis daarom belangrik om jou kind te prys elke keer dat hy wel iets reg, oulik en goed doen. Onthou, jóú reaksie lok ’n reaksie by jou kind uit. As jy hom aanhoudend vertel hy is stout of luister nie, gaan hy nóg minder luister en net stouter word. Jy sê mos vir hom dis wat hy is!

As jy hom egter vertel hoe oulik dit was wat hy gedoen het, sal hy dit weer probeer doen. Dit is werklik vir jou kleuter belangrik dat jy van hom en van die dinge wat hy doen hou.

Soms kan dit moeilik wees om kort en oënskynlik doeltreffende opdragte te vervang met positiewe, maar dikwels langer opdragte. Elke mens is egter in staat om mooi, opbouende woorde te sê. Jy moet net fyn begin soek na al die redes waarom jy dit vir jou kleuter kan sê.

Selfbeeld wat hou

Jou kinders onthou dalk nie eendag presies wat jy gesê het nie, maar hulle sal de¬nitief die gevoel onthou wat jou woorde by hulle gelaat het. Dit is daardie positiewe gevoel – dat hul ouers dink hulle is wonderlik – wat hulle deur donker of moeilike tye sal dra.

’n Stukkie raad wat ’n mens dikwels by kindersielkundiges hoor, is dat die verhouding van positiewe terugvoer tot kritiek 5:1 behoort te wees. Dus, vyf lofsinne teenoor een negatiewe sin. Laat ’n mens dink, nè?

Lof toeswaai is ’n fyn kuns: Jou kind moet weet jy is trots op hom én onvoorwaardelik lief vir hom.

As lof skade doen

In die boek When Parents Love Too Much waarsku die skrywers Laurie Ashner en Mitch Meyerson dat ouers wat onverdiend prys, skade kan aanrig.

Dit is ewe gevaarlik om jou kind te prys op grond van prestasie – veral wanneer dit die enigste kere is dat hy geprys word. Natuurlik kan ’n pa trots wees op sy bulletjie se rugbyprestasie, maar as dit die eerste en enigste kere is dat pappa pryswoorde uiter, kan die kleintjie begin dink dat hy pappa net gelukkig kan maak as hy rugby speel. Die res van die tyd – of wanneer sy rugbyloopbaan later taan – voel hy soos een groot mislukking.

“As kinders se selfwaarde net op lofuitinge gebaseer word, begin hulle stelselmatig om slegs doelwitte na te jaag wat hul ouers se goedkeuring sal wegdra, maak nie saak wat dit verg of hoe ongelukkig dit hulle – en ander mense – maak nie,” waarsku Ashner en Meyerson.

Daar is natuurlik ook ’n fyn grens tussen ondersteuning en om jou kind met pryswoorde ’n gat in die kop te praat. Die jaarlikse Idols-kompetisie lewer gereeld deelnemers op wie se ouers hul grootste ondersteuners is. Dit is dikwels die ouers wat hewig reageer as beoordelaars hul kind nie na wense behandel nie.

Jou plig is om jou kind lief te hê ongeag wat hy doen of bereik, maar oor wie hy is. Dit is belangrik dat jou kind aan jou onvoorwaardelike liefde glo – al maak hy jou soms hartseer of doen hy onprysenswaardige dinge. As jy hom op die verkeerde tye prys, gaan hy jou opregte bedoelings begin wantrou. Kinders weet dikwels wat die waarheid is ...

Prys jou hier, prys jou daar

Om jou kleuter te prys (met vriendelike woorde, gesigsuitdrukkings, drukkies en dade), is byna die enigste manier waarop jy vir hom kan vertel dat wie hy is en wat hy doen, jou bly maak. Dit maak hom trots en laat hom waardig voel, wat nodig is om ’n positiewe selfbeeld te ontwikkel.

Selfs as jou kleintjie iets onbenulligs doen, soos om jou te help om ’n tafel af te dek, behoort jy hom te vertel hoe bly hy jou gemaak het, hoe soet hy is én hoe trots jy daarop is dat hy dit gedoen het.

Jy moet egter tussen twee soorte pryswoorde onderskei. Jy moet jou kind prys vir wat hy is én vir wat hy doen. Prys jy hom vir wat hy is, sê jy basies jy is onvoorwaardelik lief vir hom. Jy sê jy is dankbaar hy is jou kind en dat hy baie spesiaal is.

Prys jy hom vir wat hy doen, verwys jy na iets spesifieks wat hy gedoen het en sê jy dit sodra hy dit klaar gedoen het.

Albei hierdie maniere van lof toeswaai is belangrik, maar dit is báie belangrik dat jy nie die maniere van prys sáám gebruik nie. Anders stuur jy sonder dat jy dit bedoel die boodskap uit dat jy net vir jou kleintjie lief is omdat hy iets so mooi reggekry of gedoen het.

Volgens die Amerikaanse kindersielkundige en skrywer dr. Todd Cartmell het ouers se woorde ’n invloed op kinders se denke. “Soveel kinders het leer fietsry omdat hul ouers vir hulle gesê het hulle kan. Maar net soveel meisietjies dink hulle is vet omdat hul pappas hulle grappenderwys 'vettieboemstieks’ genoem het.

“Ouers is vir hul kind ’n betroubare bron van die waarheid. As jy iets sê, dink jou kleintjie dit móét waar wees. Daarom moet jy jou woorde versigtig kies.”

Volgens Todd lê die geheim daarin om positiewe terugvoer te koppel aan ’n gedragspatroon. “Jy moet jou kind fyn dophou en dadelik sy gedrag prys wanneer hy iets doen wat reg of goed is. Jy kan slegs die gedrag goedkeur en aanpor as jy daarvan bewus is.”

Onthou ook om jou kind dadelik te prys as hy positiewe gedrag openbaar en ’n goeie beskrywing te gee van waarom jy dink hy so oulik is.

Prys so

  • Fokus jou aandag op jou kind en die situasie – opregte woorde verdien jou volle aandag.
  • Wees fisiek naby aan jou kind. Mooi woorde voel lekker as iemand naby aan jou is.
  • Maak oogkontak met jou kind.
  • Gaan af op jou hurke sodat jy hom in die oë kan kyk.
  • Prys jou kind vir sy menswees of vir die dinge wat hy gedoen het.
  • Gee ’n stywe drukkie om jou woorde te bevestig.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees