Mooi so, my kind!

akkreditasie
Beloningskaarte is fantasties om kinders te leer saamwerk, mits julle dit reg gebruik.

Alle mense werk graag vir ’n beloning wat erkenning gee aan hul harde werk, of dit nou jou salaris is, of ’n klop op die skouer, ’n bonus of selfs ’n spesiale toekenning. Vir ’n tuisblyma is die belonings meer subtiel, soos ’n nat soentjie op jou wang of daardie salige oomblik wanneer jou japsnoet soos ’n engeltjie lyk terwyl sy slaap.

Net soos by volwassenes is beloning ’n uitstekende manier om die gewenste gedrag by jou kleuter aan te moedig. ’n Beloningskaart kan help met enigiets van potjielesse, tande borsel en in haar eie bedjie slaap tot haar speelgoed bêre.

Om dit op sy beste te laat werk, moet jy wel ’n paar riglyne volg. Ons het by die sielkundiges Andri Burger en Annemarike de Beer van die sielkundige diensverskaffer Synergy Psychological Services in Johannesburg en Pretoria aangeklop en hulle het die raad hieronder gedeel.

Hoekom 'n beloningskaart?

Die doel van ’n beloningskaart is om goeie gedrag te versterk. ’n Beloningskaart is ’n fisieke voorstelling van ’n ooreenkoms tussen jou en jou kind.

Dit help jou as ouer om op doelwitte te fokus, om rekord te hou en om te oordeel watter gedrag verbeter het en wat steeds aandag verg. Jy kan ’n beloningskaart inspan vir enige gedrag wat verander moet word.

Beloningskaarte werk goed vir kinders onder 12 jaar. As jy dié motiveringsmetode dus by jou kleuter wil vestig, kan jy dit nog tot lank in die toekoms gebruik om haar tot beter gedrag te lei terwyl sy terselfdertyd leer om te werk vir dinge wat vir haar belangrik is.

Ironies genoeg lê die sukses van ’n beloningskaart hoofsaaklik by jou. As jy dit reg en konsekwent toepas, werk dit vir die meeste kinders, want alle mense het erkenning nodig.

As daar aanhoudend met ’n kind geraas word, weet sy later wat sy nié moet doen nie, maar sy weet steeds nie wat sy reg moet doen nie.

Beloningskaarte help kinders om te weet wat die regte gedrag is. Hulle het dus ’n groter kans om sukses te behaal en erkenning te kry.

Al is ’n beloningskaart eksterne motivering, help dit kinders om trots op hulleself te voel en later intern gemotiveerd te raak.

Hoekom dit werk

’n Groot voordeel van beloningskaarte is dat dit jou in staat stel om gedrag op ’n positiewe manier te verbeter eerder as met straf. Die proses is dus vir jou en jou kind positief.

Die voordele strek nóg wyer. Beloningskaarte...

  • moedig ouers aan om na positiewe gedrag te soek,
  • skep positiewe interaksie tussen ouers en kinders,
  • bevorder ’n positiewe gesinsklimaat,
  • moedig ouers en kinders aan om saam te werk,
  • lei tot konsekwentheid omdat albei ouers dieselfde strategie volg,
  • skep ’n gevoel van sukses en interne motivering, wat selfbeeld ontwikkel,
  • gee kinders onmiddellike positiewe terugvoer op hul prestasies, en
  • moedig kinders aan om die reëls te onthou en ’n verantwoordelikheidsin te ontwikkel.

Só moet ’n sterkaart lyk

Hou die volgende beginsels in gedagte om jul beloningskaart op sy doeltreffendste te laat werk. 

1. Dis belangrik dat julle as ouers saam besluit watter gedrag verander moet word sodat julle die kaart saam kan benut en jul kinders dus saam kan aanmoedig.

2. Moenie te veel dinge tegelyk probeer verander nie. Dit sal jou kleuter oorweldig. Kies hoogstens drie dinge wat moet verander: een moeilike taak, een middelslag-taak en een maklike taak.

3. Beskryf die items op die beloningskaart positief aan jou kind en wees baie spesifiek. Moenie sê: “Jou kamer moenie deurmekaar wees nie”. Sê eerder: “Ruim jou kamer op voor slaaptyd: Sit jou speelgoed in die bokse.”

4. Maak dit ouderdomstoepaslik en visueel. Jou kleuter kan nie lees nie en ’n prentjie van speelgoed in ’n boks sal dus beter werk. So sien jou kind self wat jy van haar verwag.

5. Moenie die doelwitte vir die beloning te moeilik maak nie. Hoe jonger jou kind, hoe makliker gaan sy moed verloor as dit te lank duur voor sy die beloning kry. Maak eerder die doelwit en beloning kleiner, soos ’n ekstra storie met slaaptyd vir vyf sterre eerder as ’n groot geskenk ná 50 sterre.

6. Sit ’n bonusry by vir besonderse goeie gedrag, soos ander gedragspatrone wat julle as ouers wil aanmoedig en versterk.

7. Evalueer die take op die beloningskaart sodra jou kind haar beloning verdien het. Hou die doelwitte wat nog nie bereik is nie op die kaart en vervang die gehaalde doelwitte met nuwes sodat sy nie verveeld raak nie. Sy kan nou bonussterre verdien met die take wat vervang is.

Watter beloning?

Die geheim van beloningskaarte is dat die beloning iets moet wees wat jou kind werklik graag wil hê en waarvoor sy bereid sal wees om te werk – maar wat ook vir jou as ouer sal werk.

  • Kies drie praktiese haalbare en gepaste belonings waarvan jy weet jou kind sal hou, soos om dieretuin toe te gaan. “Jy kan jou kind self laat kies watter beloning sy die graagste wil hê.”
  • Beloon jou kind eerder met gehaltetyd saam as geskenke of geld.
  • Maak seker jy gee jou kind die beloning wat jy beloof het, anders ontmoedig jy haar. As die beloning ’n uitstappie is, moet jy verduidelik presies wanneer dit gaan plaasvind en daarby hou.
  • Dis uiters belangrik dat jou kind haar beloning kry, maar dis nog belangriker om ’n sin van verantwoordelikheid te ontwikkel. Daarom moet jy die beloning kombineer met ’n positiewe stelling soos: “Jy het ’n baie goeie week gehad. Ek is so bly ons kan dieretuin toe gaan. Jy kan baie trots op jouself voel.”

Laat elke dag werk

Jy kan ’n pragtige beloningskaart teen die muur plak, maar dit dien geen doel as dit nie konsekwent gebruik word nie – wat soms maar ’n uitdaging kan wees!

  • Maak beloningskaarte deel van jul daaglikse roetine. Sit ’n spesifieke tyd opsy om sterre uit te deel, soos net voor aandete. As jou kleuter sukkel om so lank te wag, kan jy haar twee of drie keer per dag met sterre beloon, soos soggens vir oggendroetine-take en saans vir die ander take.
  • Moet nooit sterre toeken wat nie verdien is nie. As jou kind nie gedoen het wat die beloningskaart vereis nie, verduidelik waarom sy nie ’n ster kan kry nie. Dieselfde geld as sy wel ’n ster moet kry. Jy moet haar help om te verstaan dat dit haar keuse was: “Jy het gekies om jou kamer op te ruim, daarom kies jy om ’n ster te kry” of “Jy het gekies om mamma te slaan, en jy het dus gekies om nie ’n ster te kry nie.”
  • Help jou kind om gemotiveerd te bly al het sy ’n slegte dag gehad: “Vandag was ’n moeilike dag, maar môre kan jy weer probeer. Mamma weet jy kan dit regkry.”
  • Jou kind behoort trots te wees op elke ster wat sy verdien. Laat haar daarmee spog deur dit vir ander mense soos ouma en oupa te wys. Moenie dan kommentaar lewer op die onsuksesvolle dae nie, maar fokus op haar suksesse.
  • Wees konsekwent. Hoe meer jou kind sien dat jy as ouer die gedragskaart as belangrik ag, hoe belangriker sal dit vir haar wees.
  • Dit is belangrik dat albei ouers die beloningskaart toepas. Maak beurte om sterre uit te deel en maak dit spesiaal: Pappa kan kleinding op sy skouers telas hy ’n ster opsit, terwyl mamma haar kan help om self haar sterretjie te plak.
  • Maak die beloningskaart pret sodat dit vir jou kind ’n positiewe ervaring is wat haar goed oor haarself laat voel en wat sy regkry.

5 moenies

1. Moenie vaag wees op ’n beloningskaart nie. “Netjies” en “stout” kan baie dinge beteken. Jou kind moet presies weet wat van haar verwag word – hoe meer spesifiek, hoe groter die kans op sukses.

2. Moenie ander geskenke of belonings gee in die tyd dat jou kind na ’n beloning toe werk nie. Dit versterk die gedagte dat sy nie regtig hoef te kies om haar gedrag te verander nie.

3. Moenie die beloningskaart as straf gebruik nie. Sterre kan nie weggevat word nie. Slegte gedrag kanselleer nie goeie gedrag uit nie: Goeie gedrag bly goed. Moenie swart kolle gebruik vir slegte gedrag nie – ’n beloningskaart fokus net op positiewe versterking.

4. Moenie neul of raas as jou kind nie die take op die beloningskaart verrig nie. “Straf” haar deur nie vir haar ’n ster te gee nie.

5. Moenie meer as een beloningskaart hê nie.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees