My kind, die borsspeld

akkreditasie
Alle kleuters is met tye klouerig. Wanneer moet dit jou bekommerd maak?

Dit is ’n kinderpartytjie en gillende kleuters hardloop heerlik rond. Maar eenkant is daar ’n sesjarige dogtertjie wat soos ’n neet aan haar ma klou. Sy wil nie haar gesig laat verf nie en sy wil nie speel nie. Die arme ma kan nie eens opstaan om kof¬e te kry nie.

Klink dit bekend?

William Grif¬th, ’n kliniese sielkundige van Kenridge in Kaapstad, sê alle kinders is in ’n stadium klouerig weens skeidingsangs en veral kleuters voel dikwels angstig wanneer hulle weg van hul ma is. Maar hoewel skeidingsangs ’n normale verskynsel in die kleuterjare is, moet dit ná twee jaar geleidelik begin afneem.

Omdat kinders se temperament verskil, kyk sielkundiges op ’n glyskaal na kinders tussen drie en ses as dit by skeidingsangs kom, maar teen ses behoort ’n kind op haar eie te kan funksioneer sonder haar ma se nabyheid, sê William.

Sommige omstandighede kan skeidingsangs erger maak, soos as jy in die hospitaal was, daar ’n nuwe baba is, julle skei, of julle trek. In sulke gevalle is skeidingsangs normaal, maar dit moet geleidelik weer beter word.

Kinders se skeidingsangs ry wipplank, maar wanneer dit ’n deurlopende patroon word en nie ’n eenmalige gebeurtenis is nie, moet jy liewer professionele hulp soek, meen William.

“As jy omtrent nie eens badkamer toe kan gaan sonder dat jou kind by jou is nie – as haar skeidingsangs jou dus keer om normaal te funksioneer – is jou kind dalk te klouerig.”

Aan die ander kant kan jy nie van jou tweejarige verwag om 10 minute alleen TV te kyk terwyl jy kof¬e maak nie. Sy sal jou ná ’n rukkie kom soek. Die riglyn is dat jou kind dit in ’n stadium moet kan begin hanteer as jy uit die oog is.

Te erg?

Hoe weet jy of jou kind te klouerig is en wanneer die skeidingsangs te hewig is? Luister na jou sesde sintuig, is William se raad. Maar voor jy by ’n kundige gaan aanklop, kan jy eers self probeer om jou kind minder angstig te maak.

“Jy moet jou kind amper van jou af wegdwing. Begin sommer klein al. Sê vir jou kleuter: ‘Wag gou hier, ek gaan net toilet toe.’ Rek dan die tyd weg van haar af stadig maar seker ál langer.” Jy kan jou kleinding ook aanvanklik vir ’n uur speelgroepie toe stuur en dit geleidelik langer maak.

Baie kinders is klouerig omdat hul ma in hul eerste twee jaar “oorbetrokke” was, sê William. Hoewel ’n mens dit onbewustelik doen, is jou kind vir jou ’n soort kruk en skep jy die illusie dat julle twee eintlik een is.

Dis amper asof jy vir jou kind ’n boodskap stuur dat sy oukei is as sy heeltemal van jou afhanklik is, verduidelik William.

Dit gebeur as ’n ma haar eie bagasie op haar kind a aai – byvoorbeeld ’n ma wat in ’n ongelukkige huwelik vasgevang is en al haar liefde by haar kind kry pleks van haar man. Ouerlike angstigheid, rigiede ouerskap en oorbeskermende ouers kan klouerigheid vererger.

Nog ’n oorsaak is soms dat ouers onrealistiese verwagtinge van hul kinders koester, meen Janine Roos, direkteur van die geestesgesondheidsinligtingsentrum aan die Universiteit van Stellenbosch.

Kry hulp

As die klouerige gedrag voortduur en so erg raak dat jou kind selfs weier om skool toe te gaan of die huis te verlaat, of as dit haar daarvan weerhou om maats te maak, is dit dalk tyd om professionele hulp te oorweeg, sê Janine Roos, direkteur van die geestesgesondheidsinligtingsentrum aan die Universiteit Stellenbosch.

Soms is skeidingsangs ’n angsversteuring, maar dan is dit ernstiger as gewone skeidingsangs. As pa betrokke is, en die skeidingsangs duur voort – byvoorbeeld as jou kind se skeidingsangs wanneer sy skool toe moet gaan, nie later verdwyn nie – is daar ’n kans dat sy aan ’n angssteurnis ly.

Angssteurnisse word dikwels eers duidelik teen skoolgaande ouderdom raakgesien, sê Janine.

Wenke:

Janine deel dié raad vir skeidingsangs, en ons vul dit aan met wenke wat ’n kindersielkundige op die Mommy Shorts-blog (mommyshorts.com) verskaf.

1. Moet dit nie ignoreer, oorreageer of jou kind straf nie.

Wanneer ’n kleuter klouerig is, is dit meestal ’n teken dat sy veilig by jou voel en jou troos soek wanneer sy angstig is. As jy dit ignoreer of jou kind straf, kan jy veroorsaak dat sy minder geredelik na jou sal kom wanneer sy bang is. Moenie jou kind voor almal verneder deur iets te sê soos “mamma is nou moeg vir jou” of “gaan speel anders gaan ek jou ’n pak slae gee” nie. Moet ook nie voor almal vir jou kind sê “kyk hoe lekker speel die maatjies” nie.

2. Reageer op jou kind se behoeftes en gevoelens.

Probeer vasstel wat die klouerigheid veroorsaak en beskryf haar gevoelens. Sê byvoorbeeld: “Ek weet jy wens mamma kan nou met jou speel. Ek wens ook ek kan, maar ek moet werk. Ek belowe ek sal met jou speel sodra ek klaar is.” As jy haar gevoelens beskryf en jou eie gevoelens ook deel, sal sy voel sy word verstaan en jou ¬sieke teenwoordigheid minder nodig hê.

3. Verhoog voorspelbaarheid.

Probeer om die verloop van ’n dag so voorspelbaar as moontlik te maak omdat kleuters nie ’n duidelike begrip van tyd het nie. Gebruik prentjies wat haar weeklikse program demonstreer, of sê wat sy volgende kan verwag, en herinner haar aan wanneer jy tyd saam met haar kan deurbring. Dit sal help om haar angstigheid te verminder.

4. Bou selfstandigheid.

Kinders kry selfvertroue deur nuwe take te bemeester en in hul omgewing te help. Laat sy jou help tafel dek of speelgoed optel. Hoe meer vertroue kinders in hul eie vaardighede het, hoe veiliger sal hulle in enige omgewing voel.

5. Prys stappe na onafhanklikheid.

Prys jou kind wanneer sy take of aktiwiteite onafhanklik kan verrig, soos om huistakies alleen te doen of saam met maatjies te speel. As jy jou kind prys, stuur jy vir haar die boodskap dat sy in staat is om self dinge te doen.

6. Skeduleer spesiale speeltyd.

Sommige kinders het ’n konstante behoefte aan aandag, want hulle is onseker wanneer en óf die aandag beskikbaar gaan wees. Sit vyf tot 10 minute per dag opsy wanneer jy jou onverdeelde aandag vir jou kind kan gee.

7. Totsiens sê.

Gebruik dieselfde frase elke keer wanneer jy totsiens sê, soos “Tatta en geniet die dag; mamma is baie lief vir jou”. Hou dit kort, moenie talm nie en moenie oorreageer as jou kind ontsteld word nie. As jy oorreageer sal jy net haar angstigheid voed en dit erger maak, en as jy talm is die kans groter dat sy aanhou huil.

8. Moenie wegglip nie.

Sommige ouers vind dit makliker om skelmpies te vertrek omdat hul kinders elke keer huil wanneer hulle weggaan. Dit sal jou kind se angstigheid en klouerigheid egter net erger maak, want sy sal bang wees om te lank met ’n aktiwiteit aan te hou in geval jy uitglip.

9. Meer sosiale aktiwiteite.

Speel en kuier saam met kinders van dieselfde ouderdom kan jou kind help om ’n verhouding met haar eweknieë te bou en sosiale vaardighede te ontwikkel. Reël gereelde speelafsprake met ’n maatjie van haar keuse wat so oud soos sy is.

10. Speel met jou kind wanneer maatjies kom kuier.

Nooi maatjies oor en speel met jou kind en hulle tot hulle gemaklik is om op hul eie te speel. Wees beskikbaar met speelafsprake om haar sosiale vaardighede te wys en te leer, op kon ik te reageer en ’n oog te hou oor situasies wat angstigheid kan veroorsaak.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees