Dis normaal dat kinders vloek. ’n Jong kind wat vloek is waarskynlik net besig om ’n woord wathy gehoor het, te herhaal, terwyl ’n ouer een dalk besig is om grense te toets en reaksie uit te lok. Maar wanneer dit gereeld begin gebeur, moet jy iets daaraan doen.

Die waardes wat jul gesin nastreef, sal bepaal waar jy die streep met vloekwoorde trek. Kenners meen egter alle kinders behoort te weet dit is onaanvaarbaar om lelik te praat en veral om op ander mense te vloek.

Ons het ’n klompie goeie opvoedkundige bronne, insluitende ’n kindersielkundige, geraadpleeg om die onderstaande wenke saam te stel wat jou dalk kan help om jou klein vuilmondjie spreekwoordelik in die bek te ruk. Die lys sluit ’n wye klomp voorstelle in, want soos met alle vorme van dissipline werk ’n een-groottepas-almal-benadering selde.

As jou kind vloek

  • Bly koel en kalm. Moenie op hom skree nie.
  • Ignoreer dit. Kinders hou daarvan om gedrag te herhaal wat aandag trek. As jy vir sy vloekwoorde lag, sal hy dit beslis weer sê. Selektiewe doofheid kan net met jong kindertjies werk. As hulle ouer is, sal jy ander planne moet maak. En as jou jong kind die woord(e) bly sê, sal jy ook iets anders moet beproef.
  • Verduidelik vir hom dat jy weet ander kinders en sommige grootmense (wat dalk vir jou insluit?) gebruik partymaal lelike woorde, maar dat julle gesin nie so moet praat nie. Baie kinders hou van so ’n bietjie gesinstrots.
  • As die vloekery op ’n ander kind gerig was, moet jy baie mooi aan jou kind verduidelik dat woorde ’n mens net so seer kan maak soos ’n klap. Kinders besef dit dikwels nie.
  • Gesels gereeld oor gesinswaardes soos respek en liefde – byvoorbeeld wanneer ons vir iemand lief is, praat ons nie so met hulle nie.
  • Verduidelik ook vir jou kind dat mense nie hou van kinders wat vloek nie. Selfs as ’n kind nie weet hy praat lelik nie, sal ander hom begin etiketteer as ’n “slegte mens”.
  • Sommige huishoudings skaf ’n vloekblik aan waarin die kinders ’n spesifieke bedrag van hul sakgeld moet gooi as hulle vloekwoorde gebruik waarteen hulle al voorheen gewaarsku is. Ouers wat vloek behoort ook by te dra tot die vloekfonds. Besluit vooraf wat uiteindelik van die geld gaan word – solank dit net nie iets is wat die kinders sal aanspoor om meer te vloek nie! Om die water- of elektrisiteitsrekening te betaal, is oninteressant genoeg vir enige kind.
  • Gee vir hom alternatiewe vir vloekwoorde.
  • Kinders dink dikwels dit is nogal snaaks om “pynappel!” of “gedorie!” uit te roep.
  • As jóú slegte taalgebruik die rede is vir jou kind se gevloek, moet jy oplet hoe jy praat. As dit televisieprogramme of rekenaarspeletjies is, moet jy blootstelling daaraan beperk.
  • Laastens moet jy onthou om jou kind te prys as jy sien hy probeer regtig om nie te vloek nie. Die teenoorgestelde is ook belangrik: Begin hom straf deur ’n voorreg weg te neem as hy aanhou met sy vuilpratery.

Hoekom vloek kinders?

’n Vyfjarige wat bloot ’n woord herhaal wat sy op die speelgrond gehoor het, is ’n heeltemal ander storie as ’n 13-jarige wat vloek as hy sy humeur verloor.

In laasgenoemde geval is dit moontlik dat die kind tekortskiet aan ’n belangrike lewensvaardigheid soos woedebeheer. In ander gevalle dink kinders dat om te vloek hulle “groter” kan laat voorkom as wat hulle is.

Kinders, soos volwassenes, vloek ook soms om te ontlaai. Vloek is daarby ’n fantastiese manier om aandag te trek – dit werk van die kleuterjare tot in die tienerjare.

Truida Botha, ’n kindersielkundige van Johannesburg, wat gehelp het met die wenke in hierdie artikel, sê kinders vloek ook omdat hulle êrens die vloekwoord gehoor het, die woord ’n lekker klank het én dit aandag getrek het toe wie ook al dit gebruik het.

“Sommige televisieprogramme en rekenaarspeletjies bevat slegte taal. Kinders herhaal net wat hulle daar gehoor of gesien het.

“Omdat boude en liggaamsfunksies so ’n fassinerende onderwerp vir kleuters is, maak hulle graag grappies daaroor. Dit is dus heeltemal normaal as jou kleuter ‘toiletgeselsies’ geniet – dit is ouderdomstoepaslik tot ongeveer vyf jaar,” sê Truida.