Elke winkel lyk dié tyd van die jaar omtrent soos ’n miernes, maar dis nodig dat jy die aankoop van skoolbenodigdhede boaan jou prioriteitslysie plaas. As jy dit uitstel tot net voor die skole begin, gaan jy jou vasloop in skares met dieselfde agenda en die regte grootte skoolklere sal moontlik al uitverkoop wees. 

Waar begin jy?

Stel ’n lys op van al jou kind se benodigdhede en maak ’n punt daarvan om ’n dag of twee opsy te sit net vir dié inkopies. Vergelyk die pryse en gehalte wat verskillende winkels bied; dit kan jou sommer ’n hele paar rand bespaar.

Neem jou kind saam om inkopies te doen en laat hy die klere in die winkel aanpas sodat jy dit nie later hoef om te ruil nie. Hier is ’n lysie van alles wat jy waarskynlik sal moet koop:

  • ’n Rugsak en/of tas
  • Skryfbehoeftes
  • Sportklere
  • Sportkouse en -sokkies
  • Skoolskoene
  • Kort- en langmouhemde 
  • Kort- en langbroeke
  • Rokke
  • Rompe
  • ’n Das
  • ’n Trui
  • ’n Skoolbaadjie 
  • Geskikte onderklere
  • Kosblikke en waterbottels

Voor die skool begin

1. Begin ’n paar weke voor die nuwe jaar al om jou kind se slaaptydroetine te vervroeg. Sonder ’n gereelde goeie nagrus gaan die jaar nie goed begin nie. In die vakansie is ’n mens se slaaptydroetine omvergegooi. Jy wil nie hê jou kind moet die eerste week by die skool vaak wees nie. Die laatste wat jou kind in die bed moet kom, is agtuur. 

2. Merk alle items duidelik met jou kind se naam en jou kontaknommer. Daar is deesdae nuttige merkpenne en oulike plakkers op die mark. Moet ook nie die merkwerk tot te laat uitstel nie. Dis ’n groot taak om elke liewe kledingstuk en potlood te merk.

3. Gaan weer jou kind se uniformlys en lys van benodighede na. Is jy seker julle het alles? Laat jou kind help, want as julle so saamwerk, gee dit hom ook die geleent­heid om oor skool te gesels. Dís hoe jy sal agterkom of hy enige vrese het. Jy kan ook nou al uitvind hoe die boeke oorgetrek moet word sodat jy die regte papier, plastiek en kleeflint ook kan koop. 

4. Laat jou kind sy skoene inloop. Ongemaklike skoene kan die lewe regtig versuur. Laat jou kind sy nuwe skoolskoene dus elke dag ’n uur of twee lank dra. As dit veterskoene is, laat hom oefen om dit self vas te maak. 

5. Dikwels eet gesinne in die vakansie nie so gesond soos gewoonlik nie. Begin dus met ’n vitamien-aanvulling met genoeg B-vitamiene en omega 3- en 6-vetsure, want dit sal jou kind help om stres te hanteer en sal sy konsentrasievermoë ook ’n hupstoot gee. 

6. Laat sny jou kind se hare netjies. As jy ’n dogtertjie met lang hare het, maak seker julle het die regte rekkies en linte. 

7. Besoek die skool voor die tyd. Ry sommer af en toe daar verby of gaan loop rond op die terrein en wys vir jou kind al die mooi en lekker dinge soos die speeltoerusting.

8. Herinner jou kind aan goeie higiëne. Hy moet weet hoe om self die toilet te gebruik en daarna hande te was. Hy moet weet hoe om self sy neus te snuit en die snesie weg te gooi. Oefen ook met hom hoe om beleef te vra of hy die kamer mag verlaat as hy toilet toe wil gaan. Skaam kinders sukkel soms daarmee.

9. Nooi ’n maatjie of twee wat saam met hom in graad 1 gaan wees om te kom kuier. Dit sal jou kind se senuwees help bedaar as daar op die eerste dag ’n paar bekende gesigte is. 

10. Neem verlof op sy eerste dag sodat jy die oggend rustig kan wees en kan saamgaan skool toe, en dan die middag daar kan wees om hom te gaan haal en alles te hoor oor die eerste dag. Daar sal ook al boeke wees om oor te trek. 

11. Verfris ’n paar vaardighede wat hy eintlik verlede jaar onder die knie gehad het, maar dalk vergeet het. Kan hy tot 20 tel? Kan hy sy eie naam skryf? Herken hy die letters van 1 tot 10? Kan hy sy linkerkant en regterkant van mekaar onderskei? Ken hy die name van die basiese kleure en vorms? Kan hy met ’n potlood, kryt en skêr werk? As hy sukkel, moenie gespanne raak nie – sorg net vir speeltyd waarin hy kan oefen sonder dat hy weet hy oefen!

12. As jou kind nasorg toe gaan, moet jy seker maak hy weet presies hoe hy daar gaan kom: “Juffrou sal jou neem tot by die hekkie van die nasorgsentrum. Dan sal mamma jou by die nasorg kom haal wanneer ek klaar gewerk het.”

13. As sy graad 1-skool ’n nuwe skool is, kan jy gerus ’n proeflopie doen om te kyk presies hoe lank dit jou in die oggendverkeer kos om daar te kom. Dit sal ’n ramp wees om op die eerste dag laat te wees. 

14. Rig ’n huiswerkhoek in, ’n vaste plek in jou huis waar jy en jou kleinding sonder onderbreking kan sit en huiswerk doen met potlode, ’n liniaal en ander benodigdhede byderhand. Dis ’n goeie idee om ’n ekstra stel vir die huis bymekaar te maak.

15. Wees die ma wat die heel, heel beste kosblikke inpak! Lees Baba & Kleuter se kosblikartikel in hierdie uitgawe om gesonde en maklike wenke te kry. 

16. Maniere is belangrik. Leer hom om hand op te steek en dan te wag voor hy vra wat hy wil vra of sê wat hy wil sê. Julle kan dit aan tafel oefen. Onthou, jy moet ook ’n beurt kry om hand op te steek.

17. Merk jou kind se tas goed. Sit ’n gekleurde lintjie of etiket aan die skooltas vas sodat jou kind dit maklik kan uitken, maar skryf sy naam en kontaknommer om veiligheidsredes binne-in die tas.

18. Leer jou kind belangrike inligting. Maak seker dat jou kind julle kontaknommers en adres ken.

HELP JOU KIND Vra ’n ouer sussie of niggie om met jou kind skool-skool te speel.


Skoolklere

Skoolhemde Skoolhemde is by feitlik elke kettingwinkel te kry, maar dis die moeite werd om hemde te koop met ’n spesiale beskermlagie wat vlekke keer. Dié hemde is effens duurder, maar hou langer en maak wasdag baie makliker! Koop skoolhemde ook effens groter sodat dit gemaklik pas en meer as een seisoen hou. 

Broeke en rompe Broeke en rompe moet gemaklik om die middellyf pas en verkieslik ’n verstelbare middelband hê. Dié klere kan ook maar effens groot gekoop word omdat kleintjies nou vinnig groei. Sorg net dat die broek of romp nie afsak nie, want dit kan ongemaklik wees. Terwyl sommige skole spesifieke winkels aanbeveel waar jy skoolklere kan gaan koop, is seunsbroeke baie wyd beskikbaar en sal jy dit waarskynlik elders goedkoper kan kry.

Rokkies Die meeste skole se somer- en winteruniform verskil – koop dus die somerrokkie eerder te lank en werk ’n soom in. Lees ook die etiket om vas te stel of dit masjienwasbaar is.

Dasse Dasse word gewoonlik nie in die somer gedra nie, maar hoor eers by die skool. Jy hoef dus nie dadelik een aan te skaf nie, maar as jy wil, is dit beter om ’n das te koop wat agter met ’n rekkie of voor met ’n knippie vasmaak. Dit gaan jou soggens baie tyd spaar!

Skoolskoene Gemaklike skoolskoene van ’n goeie gehalte is ’n moet! Moenie eens daaraan dink om ousus of ouboet se skoene vir jou jonger spruit te bêre nie. Dié skoene het reeds die ander kind se voetvorm aangeneem en is nie geskik vir iemand anders nie. Die beste tyd om skoene aan te pas is in die middag wanneer jou kind se voete effens geswel is. Onthou om die regte kouse saam te neem wanneer julle aanpas. Kenners sê dat leerskoene steeds die beste belegging is en dat jy moet toesien dat die skoene nie te groot is nie. Daar moet wel genoeg ruimte voor in die skoen wees sodat tone natuurlik kan beweeg wanneer jou kind loop of hardloop. Die aanbeveling is’n speling van sowat 18 mm aan die voorpunt van die skoen. Kyk ook of die nate stewig gestik, die skoene lig en die sole glybestand is.

Onderklere Die meeste laerskole vereis dat meisies eenvormige onderklere onder die uniforms dra. Maak seker dat die broekies gemaklik is en dat die rekkies haar nie om die bene knel nie.


MAAK DIT MAKLIK

  • Doen die moeite om skool toe te gaan en die onderwyser te ontmoet.
  • Vra die betrokke onderwysers se kontakbesonderhede. 
  • Reël vroegtydig vir middagsorg indien jy ’n volle dag werk.
  • Kry ’n saamryklub op die been.


Spaarwenke

  • Maak eers ’n draai by die skool se klerebank. Jy kan hier goeie klere teen ’n breukdeel van die winkelprys kry. Hierdie klere makeer gewoonlik baie min omdat die kleingoed so vinnig daaruit groei.
  • Koop klere volgens die seisoen. Kleintjies groei vinnig en dit maak geen sin om in die somer al winterklere aan te skaf nie.
  • Klere kan effens groter gekoop word om tot die volgende seisoen te hou.


Sportuitrustings

Gee jou kind eers kans om sy voete te vind en seker te maak in watter sportsoort hy belangstel voor jy hierdie aankope doen. Vind by die skool uit of daar ’n spesifieke liggaamsoefening-uniform is en of hy met enige kortbroek en hempie mag oefen.

Rugsakke en tasse

Navorsing toon dat die verkeerde rugsak en die manier waarop kinders dit dra een van die grootste redes is waarom hulle skouer- en rugprobleme ondervind. Kinders dra reeds van kleins af ’n enorme klomp boeke saam en ’n geskikte rugsak moet met die grootste sorg gekies word. 

Vind uit of die skool reëls het oor spesifieke skooltasse. Kenners meen die beste skooltas is die soort wat rondgetrek kan word, maar dis by baie skole verbode. As julle ’n rugsak koop, sorg dat dit stewig is, maar nie swaar nie. Maak seker dat die sak genoeg kompartemente het vir boeke, skryfbehoeftes en ook ’n aparte kompartement vir waterbottels en kosblikke. 

Leer jou kind om sy rugsak reg te dra deur altyd die skouerbande oor albei skouers te plaas. As hy die rugsak oor net een skouer laat hang, kan hy kort voor lank met seer spiere en spasmas in sy nek en rug sukkel. Hy moet ook onthou om altyd albei knieë te buig as hy iets van die grond af wil optel pleks daarvan om by die heupe te buig.


Skryfbehoeftes

Die skool behoort jou ’n lys van benodigde skryfbehoeftes te gee. Vind uit of hul skryfbehoeftes in vooraf opgemaakte pakke beskikbaar het. 

Heelparty handelaars verskaf deesdae die verskillende grade se skryfbehoeftes in ’n pak om inkopies geriefliker te maak.


SKOOL TOE

Skaf sommer nou al dié grootskool-benodigd­hede aan.

Grasshoppers-skoolskoene R699 per paar, grasshoppe
Grasshoppers-skoolskoene R699 per paar, grasshoppers.co.za.
Manna-waterbottel R149,99. Woolworths.
Manna-waterbottel R149,99. Woolworths.
Kossakkies R44,95 elk, Ackermans.
Kossakkies R44,95 elk, Ackermans.
Skryfbehoeftesakkies in ’n weermagmotief (bo) en m
Skryfbehoeftesakkies in ’n weermagmotief (bo) en met blinkertjies (onder) R39,95 elk, Ackermans.
Kosblikke R19,95 elk, Ackermans.
Kosblikke R19,95 elk, Ackermans.
Merk jou kind se benodigdhede met It's Mine se beg
Merk jou kind se benodigdhede met It's Mine se beginnerspak (R352 sonder BTW) en ontwerpers­pak (R364 sonder BTW), itsmine.co.za.
Swart skoolskoene R350 (gespe) en R150 (veters) p
Swart skoolskoene R350 (gespe) en R150 (veters) per paar, Woolworths.
Toughees-skooltas met vyf afskortings R159,95, Ack
Toughees-skooltas met vyf afskortings R159,95, Ackermans.
Kosblikke R10,99 elk, The Crazy Store.
Kosblikke R10,99 elk, The Crazy Store.
Rugsak R250, Woolworths.
Rugsak R250, Woolworths.
Helderkleurige maasskryfbehoeftesakkies R29,99 elk
Helderkleurige maasskryfbehoeftesakkies R29,99 elk, The Crazy Store.