1. Uitstappie

Skop die nuwe week af met ’n interessante uitstappie. Dit kan inskakel by iets waaroor die kroos by die skool gaan leer of dit kan iets meer algemeen wees soos ’n uitstappie na die Wetenskapsentrum of ’n museum. Jy kan dit eenvoudig hou en dit net ’n gesinsuitstappie maak, of iets groter organiseer en so ook sommer nuwe maats maak.

2. Besoek die biblioteek

Julle kom waarskynlik reeds dikwels by die biblioteek uit. Maar nou kan julle boeke uitneem wat pas by die werk wat die kinders in die eerste jaar gaan leer. Hulle kan ook nuwe boeke kies wat hulle graag wil lees en wat jy vir hulle kan voorlees. Gebruik dit as ’n geleentheid om hulle te leer hoe om self boeke te soek wat hulle nodig het, en om meer te wete te kom van ander hulpbronne en aktiwiteite wat jul biblioteek aanbied.

3. Hou 'n morspartytjie

Skaf ’n pakkie klein waterballonne aan en laat die kinders hulle by die kraan vol maak, knoop en mekaar dan gooi. Maak dan ’n reuse-skottel met omtrent 10 liter jellie aan en gooi albasters daarin.

Vra die kinders om te kyk wie die meeste albasters kan uithaal. Derde op die lys is om ’n mieliepapmengsel te prakseer en die kinders daarin te laat teken. Smeer dit op ’n skinkbord vir elkeen, of sommer op die oprit of julle stoep. Moedig die kinders aan om hul lyf daarmee te smeer en op hulleself te teken.

Daarna kan jy die glip-en-glybaan opstel en ’n blik skeerroom voorsien, wat alles net nóg plesieriger maak. Sluit af met vars waatlemoen wat hulle onder die sproeier kan eet.

4. Maak 'n tydkapsule

Maak voorbeelde van jou kinders se werk bymekaar. Laat hul ’n prent teken, ’n stukkie skryf, of neem ’n video van hulle. Aan die einde van die jaar kan julle na alles kyk en sien hoe hulle in die loop van die jaar gevorder het. Bêre dit en haal dit weer uit wanneer matriek agter die rug is!

5. Gemeenskapdiens

Begin die jaar deur vir ander te wys julle gee om. Bak koekies en neem dit na jul polisie- of brandweerstasie. Help opskep by ’n sopkombuis. Neem toiletware na ’n nagskuiling vir haweloses, of sluit aan by ’n program wat skoolsakke vir behoeftige kinders pak. Dit help ander mense, en dit leer kinders ook vroeg oor empatie en vrywilligerswerk.

6. Skattejag

Steek klein pakkies in of buite die huis weg (dalk met ’n nuwe skêr of skerpmaker) waarna jou kinders moet soek. Gee hulle leidrade oor waar om te soek.

7. Hou 'n agterstevoordag

Doen alles die dag agterstevoor of onderstebo, van die klere wat julle aantrek tot waar en hoe julle dinge doen. Eet ontbyt vir aandete, of begin by die nagereg. Sit onder die tafel en eet. Doen enigiets wat jul normale dagroetine op sy kop keer.

8. Neem foto's

Neem sommer baie foto’s van jou kind se eerste skooldag. Druk van die foto’s op gewone papier uit en versier ’n blad of twee in ’n plakboek daarmee. Voeg interessante illustrasies by of knip en plak uit ander foto’s of tydskrifte. Skryf dinge daarby neer soos wat jou kind wil word wanneer hy groot is, hoe lank hy nou is en die naam van sy gunstelingboek en beste maatjie.

9. Maak selfportrette

Laat die kinders selfportrette maak. Hulle kan dit teken, verf of plak. Skryf die datum op. As dit iets is waarmee julle elke jaar afskop, kan dit vreeslik interessant wees om oor ’n paar jaar terug te kyk na hoe elkeen ontwikkel en hul beeld van hulself verander het.

10. 'n Papiergeveg

Gee vir elke kind drie stukke papier. Op elke stuk moet hulle iets interessants oor hulleself teken of skryf – iets wat met hulle gebeur het, of hul gunstelingkos of -speletjie. Elkeen frommel dan hul stuk papier in ’n bal. Daarna is dit tyd vir ’n papiergeveg. Gooi, tel op, gooi ...

Stel ’n kombuiswekker en as dit lui, moet elkeen drie balle optel. Maak dan beurte om ’n bal te lees of bekyk en te raai wie dit geskryf het.

11. 'n Opwindende eksperiment

Kies ’n opwindende eksperiment vir ’n middag wanneer dit te warm is om buite te speel. Hier is oulike idees:

www.stevespanglerscience.com/lab/experiments

www.sciencebob.com/experiments

www.sciencekids.co.nz/experiments.html.

12. 'n Piekniek

Die lang somermiddae moet geniet word. Pak selfs op ’n weekaand ’n piekniekmandjie en gaan na ’n park, die strand of ’n natuurreservaat en doen ’n omgewingstudie. Onthou jul kamera, verkyker en ’n gids oor voëls, insekte of plante wat julle dalk raakloop.

13. Storietyd

Maak saam ’n grappige aaneenlopende storie. Begin met ’n eenvoudige openingsin soos “Die snaaksste dinge wat met ons gebeur het, was ...”, “Die vreemdste dag wat ons nog beleef het, was ...”. Maak dan beurte om ’n storie op te maak. Hou die beurte kort en geniet hoe dinge uitrafel.

14. Speletjies!

Kinders leer geweldig baie deur speletjies te speel. Daar is so baie om van te kies; julle het waarskynlik reeds ’n gunsteling. Hou dit ouderdomsgepas, van bordspeletjies soos Slangetjies en Leertjies vir kleintjies tot 60 Seconds vir ouer kinders. Bou saam legkaarte.

Julle kan die stukke gelykop tussen julle verdeel en dan beurte maak om ’n stuk te plaas. Bou ’n hindernisbaan binne of buite die huis. Vir meer opwinding kan iemand ’n geblinddoekte persoon deur die baan lei. Kry die breinsappe aan die gang met ’n vasvra. Laat elkeen sy gunsteling- grap vertel, of soek nuwe grappe op die internet. Julle kan ook saamsing of -dans. Moenie bang wees om heeltemal laf te word nie.