Dit is darem baie gerieflik om gou die TV of tablet aan te skakel en die kinders ’n bietjie onder jou voete uit te kry terwyl jy kos maak. Jou kinders geniet dit en is stroopsoet – is dit dan regtig so sleg? Veral as jy hulle net opvoedkundige programme of speletjies laat kyk of speel?

Kinders tussen twee en vyf leer deur met die wêreld om hulle in aanraking te kom. Aktiewe tyd saam met jou, ’n maatjie of buite in die vars lug is die heel beste vir hul breinontwikkeling. Daar is ook ’n regstreekse verband tussen die aantal ure voor die skerm en ongesonde eetpatrone en vetsug – dis al deur talle studies bewys.

En het jy al gesien hoe ’n kind voor die kassie sitlê? In uiterste gevalle kan hulle selfs probleme met hul postuur of lae spiertonus opdoen. Die hartseerste nadeel van skermtyd is egter dat dit jou kind kan beroof van sy natuurlike verwondering aan sy wêreld. Op televisie is alles ’n boeiende spektakel met klank en beeld wat sonder ophou stimuleer. Alles word so geredigeer dat net die opwindendste oomblikke uitgesaai word.

Wanneer dié fantasiewêreld afgeskakel word, kan die regte wêreld maar bra saai voorkom. Hou ’n bietjie die kleingoed by die volgende kinderpartytjie dop – baie van hulle word glad nie meer beïndruk deur ’n towenaar, nar of poppekas nie, want daardie vermaak kan nie kers vashou by ontploffings en flitsende ligte op TV nie.

Of moes jy ook al in die dieretuin hoor dat die uitstappie vervelig is, want die leeu lê dan net en wil nie jag soos op programme nie? Kinders is groot na-apers en dis gevaarlik (in die ergste gevalle) as hulle animasiekarakters se spronge wil naboots, kompleet met ’n kreet in ’n Amerikaanse aksent daarby.

En dis hartseer (in die minder ernstige gevalle) as hulle ontoereikend begin voel omdat hulle nie alles kan doen wat die kinders op televisie kan vermag nie. Op televisie is alles so maklik; enige probleem word binne die halfuurbestek van die program opgelos. As die regte wêreld maar net so gewerk het ...

Kinders kan ook glad nie onderskei tussen advertensies en programme nie, en jou kind is ’n sagte teiken wat geprogrammeer word om dinge te wil hê waarvan sy dalk nie eens sou geweet het as sy dit nie op televisie of haar tablet gesien het nie. En die laaste nadeel: Die slaappatroon van kleuters wat te veel voor skerms deurbring word versteur.

Wenke vir gesonder gewoontes

Hoeveel tyd?

Babas onder 18 maande behoort glad nie enige skermtyd te geniet nie. Beperk skermtyd tot hoogstens ’n halfuur per dag vir ’n peuter en ’n uur per dag vir ’n ouer kleuter. Julle kan ook ’n reël maak dat julle glad nie soggens kyk nie, of glad nie naweke nie – wat ook al jul gesinsopset pas. Stel ’n goeie voorbeeld deur self minder te kyk. Maak seker almal wat na jou kinders omsien weet wat die reël is. Julle kan ook ’n reël maak dat daar nie skermtyd is wanneer maatjies kom kuier nie.

Wat?

Hou by opvoedkundige programme of neem jou kind se gunsteling-programme op en kyk dit oor en oor. Kies veral programme wat jou kind se deelname vereis, soos dat sy moet saamsing of iets moet doen soos hande klap.

Hoe?

Probeer aktief kyk ... Kyk saam met jou kind en gesels oor wat julle sien. Vra jou kind uit oor hoe sy die storie interpreteer. As iets haar belangstelling geprikkel het – soos ’n dier, plek of kultuur – soek saam daarna in ’n boek, of teken agterna prentjies daarvan. Moet glad nie voor die televisie eet of dit as agtergrondgeraas inspan nie. As jy streng in die voorskoolse jare is, sal jou kind elke dag meer ware leergeleenthede hê en sal sy nie later op skermtyd staatmaak as haar hoofbron van vermaak nie. 

’n Kenner sê

Lizanne du Plessis, ’n arbeidsterapeut van Kaapstad, sê dat die gevaar van te veel skermtyd is dat kinders daarvan afhanklik kan word.

“Die emosionele deel van die brein bevat dopamien wat ’n sein na die deel van die brein stuur wanneer jou kind iets doen wat hy of sy geniet. Hoe meer interaktief die speletjie is, hoe meer dopamien word afgeskei.”

Lizanne waarsku dat die beloningstelsel in jou kind se brein dan oorgestimuleer word. “As jou kind vandag ’n speletjie van 20 minute lank op die tablet speel, sal dit more nie meer genoeg wees as dit weer gespeel word nie, aangesien dit nie meer dieselfde uitwerking op die brein sal hê nie. Daarom wil jou kind môre langer as 20 minute speel, of selfs ’n meer stimulerende speletjie speel.”