Op die geduldige pad

akkreditasie
Kleuters raak moeilik en neulerig as hulle moet wag, maar na hul tweede verjaardag kan jy hulle begin leer how om geduldig te wees.

Stel die voorbeeld

In haar eerste twee jaar is jou baba se behoefte aan sekuriteit, liefde en vertroue belangriker as enigiets anders – selfs geduld. Dit is waarom jy liewer nie te vroeg daarop moet aandring dat jou kind leer om geduldig te wees nie.

Teen twee jaar oud het ’n kind se taalvaardigheid goed genoeg ontwikkel dat sy kan verstaan wanneer jy haar aansê om te wag. Jou kind moet ook nou leer dat haar rol as kind verskil van mamma en pappa s’n as volwassenes.

Dit laat haar veilig voel wanneer jy grense stel en as sy weet wat die gevolge sal wees as sy die grense oortree. Onthou, jou kleutertjie hou jou fyn dop. Dit is waarom geduldige ouers gewoonlik geduldige kinders grootmaak.

Jy kan jou kind maklik bederf as jy altyd spring sodra sy iets vra. As sy daaraan gewoond is om dadelik te kry wat sy wil hê, leer sy dat mense na haar pype behoort te dans. In so ’n geval maak jy ’n veeleisende kind groot wat gaan sukkel om by groepe, soos ’n klassituasie, in te skakel waar die wêreld nie net om haar draai nie.

Een van die redes waarom jou kleuter met uitgestelde beloning sukkel, is dat sy nog nie ’n tydsbegrip het nie, en ook omdat sy ’n spontane, energieke en geesdriftige wesentjie is. Dit maak afwagting moeilik, want sy het nie ’n benul hoe lank sy moet wag nie. Jou kleuter kan dalk angstig en gefrustreerd raak as sy haar in ’n lugleegte bevind wat sy nie kan bepaal nie.

Koppel dus die wagtyd aan ’n tydsbegrip wat vir haar sin maak, soos dat die rit in die motor nog so lank sal duur soos twee liedjies van Lollos. As sy dae of weke lank moet wag, kan dit help om die slapies op ’n kalender af te merk.

Hoe jy kan help

  • Kry sywurms en verduidelik die lewensiklus. As ’n mens geduldig wag, sal daar ’n mot uit die kokon kom wat eiers sal lê. Met verloop van tyd sal die eiers uitbroei en dan is daar weer sywurms. So leer jou kind dat dinge op ’n spesifieke tyd gebeur en al gaan kyk sy 20 keer ’n dag in die boks, sal sy nie die proses kan versnel nie.
  • Wees ’n rolmodel. As jou kinders grootword in ’n omgewing waar hul ouers geduldig is en ander deur geduld respekteer, leer hulle dit is die norm.
  • Oefen geduld by die huis waar jou kind veilig voel en jy in beheer is van ’n taamlik voorspelbare omgewing, soos dat ’n mens aan tafel wag tot almal kos het voor jy begin eet. ’n Kind is geneig om meer ongeduldig en impulsief te wees in openbare situasies waar sy oorgestimuleer is.
  • Wees emosioneel in beheer en geduldig met jou kind. As jy agterkom jy’s besig om beheer oor jou gevoelens te verloor, gee pad uit die situasie tot jy jou ewewig herwin het.
  • Waak teen perfeksionisme. Ons word dikwels ongeduldig as ons iets laat val of omstamp. Dit stuur die boodskap uit dat ons met niks minder as volmaaktheid tevrede is nie en nie mislukkings duld nie.
  • Jou kind moet kan waag, eksperimenteer en sukkel. Ons neem dikwels hul take oor om tyd te spaar, en so ontneem ons hulle die geleentheid om geduldig te probeer tot hulle regkry waarmee hulle besig is.
  • Leer deur spel. ’n Kind wat speel, is ontspanne en leer dus makliker. ’n Speletjie soos wegkruipertjie leer haar dat die een wat wegkruip en die een wat soek, geduldig moet wag voor hulle suksesvol is.
  • Gee terugvoer. As jou kind geduldig gewag het, kan jy haar gerus prys en wys dat haar gedrag jou trots maak.
  • Sien om na jouself. ’n Uitgemergelde ouer kan onmoontlik geduldig genoeg wees om ’n goeie voorbeeld te stel.

Geduld vir sukses

1. Kinders moet van jongs af leer om ander te respekteer. As jy geduldig is en die onmiddellike vervulling van jou eie behoeftes soms opsyskuif, wys dit respek vir ander.

2. As ’n kind onmiddellike aandag van haar ouers verwag, sal sy dit ook van ander mense in haar lewe verwag. Dit kan haar toekomstige verhoudings skade doen.

3. Kinders wat vir hul beloning kan wag, leer selfdissipline. Dit lei weer op sy beurt tot die emosionele en interne beheer wat ’n mens nodig het om op jou beste te funksioneer in die skool, by die werk of in ’n huwelik. Kinders sonder selfdissipline het nooit geleer dat hul gedrag sekere gevolge het nie.

4. Die volwasse lewe is gejaag en ons geduld word daagliks beproef. Geduldige mense kan dié uitdagings beter hanteer en is gelukkiger, aangenamer mense wat makliker is om mee saam te leef.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees