Oudste of jongste: ken jou plek!

akkreditasie
Hoekom op aarde verskil jou kinders se persoonlikhede so dramaties?Het dit dalk iets met hul geboorteorde te doen?

Jy wonder partykeer hoe jou kinders dieselfde ma en pa kan hê, want hulle verskil so kwaai. Jou oudste het ’n oordrewe pligsbesef terwyl jou jongste komkommerkoel deur die lewe seil.

Jy het dieselfde in jou eie ouerhuis ervaar. As middelkind het jy maar alte goed die sogenaamde middelkindsindroom ervaar en jou jongste sussie was weer die spreekwoordelike bedorwe brok.

Daar’s al baie geskryf oor ’n mens se plek in die gesin en die invloed wat dit op jou persoonlikheid en lewe kan hê, maar tog bly dit ’n onderwerp wat die mensdom fassineer.

Die Amerikaanse sielkundige dr. Kevin Leman, skrywer van The birth order book: why you are the way you are, sê dis ’n gegewe dat jou eersteling en tweede kind gaan verskil. En hy glo dis weens geboorteorde.

Onthou egter dat daar ook miljoene eerstelinge die wêreld vol is wie se persoonlikhede dramaties verskil, sê dr. S.T Potgieter, ’n sielkundige van Kaapstad.

“Daar is soveel ander faktore wat ’n mens se persoonlikheid beïnvloed. Dit hang baie af van die ouers se persoonlikhede, hoe hulle hul kinders grootmaak, hul waardes en norme, die sosiale en ekonomiese omstandighede, traumas, die kultuur, en nog baie ander dinge,” sê S.T.

Die Oostenrykse baanbrekerpsigiater Alfred Adler het in die vroeë 20ste eeu al gesê dat geboorteorde ’n mens se persoonlikheid kan beïnvloed.

Volgens hom bepaal jou geboorteposisie hoe jy jou vriendskappe sal vestig, watter gewoontes jy sal volg en selfs watter soort dood jy uiteindelik sal sterf, sê Henk Swanepoel, ’n kliniese sielkundige van Centurion.

“Adler was ook oortuig dat die oudste kind deur die tweede se geboorte ‘onttroon’ word en permanente emosionele letsels as gevolg daarvan dra,” sê Henk.

Alle kundiges stem egter nie saam nie. Die beroemde Zambies-gebore ontwikkelingsielkundige Michael E. Lamb, wat nou by die Cambridge-universiteit in Brittanje is, sê sibbeverhoudings duur dekades en verander deurentyd.

“In sy boek Sibling relationships: their nature and significance across the lifespan skryf hy die uitwerking van geboorteorde kan dus verdwyn, versterk of aangepas word,” sê Henk.

Dr. Arina Lanser, ’n opvoedkundige sielkundige van Little Falls in Roodepoort, meen weer geboorteorde kan jou persoonlikheid, beroepskeuse, verhoudinge en keuse van ’n lewensmaat beïnvloed.

“’n Mens moet egter ook faktore soos die ouderdom van ouers as hul kinders gebore word, dissiplinestyl, sosioekonomiese omstandighede, traumas en die geslag van die kind in ag neem.”

Hoe werk geboorteorde?

Verskeie faktore beïnvloed die verskille tussen oudstes, middelstes en ander kinders, sê Henk.

’n Paartjie se eerste kind is op meer as een vlak die eersgeborene. Die nuwe ouers volg hul eie instink, luister na ander se raad en insette en eksperimenteer ’n bietjie.

Hulle weet nie regtig wat hulle doen nie, en dit laat hulle onseker en angstig voel. Dit het ’n invloed op hul oudste se persoonlikheid.

“Dit kan veroorsaak dat die ouers weens hul onkunde ‘handboekouers’ word, maar ook weens hul vrese ’n perfeksionistiese of angstige kind laat ontwikkel,” sê Henk. Dit gebeur omdat die kind voel sy omgewing bestaan meestal uit reëls en roetines.

Daarteenoor is ouers meer ontspanne wanneer die tweede kind opdaag, met die gevolg dat die angs, roetines en reëls vir die eerste kind nie meer geld nie.

Dit kan die tweede kind afgeskeep laat voel omdat sy ouers minder betrokke is. As gevolg daarvan word hy dalk minder perfeksionisties, maar meer aandagsoekend.

Aan die een kant word ’n kind se ontwikkeling dus bepaal deur die gene wat met geboorte teenwoordig is, aan die ander kant word dit deur sy omgewing beïnvloed. Persoonlikheid is egter nie staties nie en kan deur sy lewe nog verander, sê Henk.

Ouerskapsvaardighede speel ’n groot rol in kinders se persoonlikheid en vaslegging van hul eienskappe, sê S.T.

“Maar dis beslis nie waar dat oudste kinders en alle middelste en jongste kinders op dieselfde manier grootgemaak word nie. Daar is algemene tendense, maar ’n mens moet vir ouers se verskillende ouerskapstyle voorsiening maak.”

Meer oor middelkindsindroom

Oudste kinders is die eerste kans wat ouers kry om ouerskap te beoefen en toe te pas. Hulle kry dus al die aandag, stimulasie en erkenning. Die jongste kind is weer die een wat baat by die voorbeeld van sy medespruite en meer ontspanne ouers, en word meestal as die bedorwe of gepamperlangde kind beskou.

“Die middelste kind moet dus sy unieke posisie vaspen en oopveg,” sê die opvoedkundige sielkundige dr. Arina Lanser. “Hulle voel dikwels hulle is in die ‘middel’ omdat hul medespruite al die aandag en erkenning kry. Middelkinders is dikwels geneig om juis anders as hul medespruite te wees en probeer op so ’n manier aandag trek.”

Hanteer jou kroos so

Baie sielkundiges stem nie saam met Kevin Leman dat jy jou kinders volgens hul plek in die gesin moet hanteer nie.

Arina meen jy kan gerus kennis neem van die tipiese eienskappe van kinders volgens hul geboorteorde, maar jy moet doelbewus daaraan werk om elke kind volgens sy eie potensiaal en persoonlikheid in die gesin op te voed.

As jy iets van geboorteorde weet, kan jy wel raaksien watter tipiese eienskappe aangemoedig moet word en watter jy dalk moet teenwerk.

“Wees byvoorbeeld daarvan bewus dat ’n oudste kind perfeksionisties en nougeset kan wees, en werk hard sodat daardie eienskappe nie hul potensiaal belemmer nie,” sê sy. Leer hom dis in die haak om soms foute te maak.

Jongstes word maklik bederf – maak dus ’n punt daarvan om jou jongste nie op te piep nie en gee hom die geleentheid om sy plek in die gesin vol te staan. Middelkinders voel weer soms hulle kry nie genoeg aandag nie – vind maniere om die kollig op hulle te laat skyn.

“Die ideaal is om voor jou kind se geboorte al te besluit hoe jy hom wil grootmaak. Voed hom dan doelgerig so op, maar neem terselfdertyd sy persoonlikheid in ag. Babas wys van geboorte af al hul persoonlikheid, wat ’n teken is dat hul opvoeding en versorging nie deur hul posisie in die gesin bepaal word nie,” sê Arina.

Die gesin behoort ook die veiligste plek te wees vir kinders om gedrag in te oefen en lesse te leer, en dit moet natuurlik toegelaat word.

Ouers het hul eie persoonlikheid en siening van die omgewing, sê Henk. “Maak dus seker dat ouerlike insette konsekwent is, maar aanvaar dat jy jou kinders nie dieselfde sal hanteer nie,” sê Henk.

“ ’n Mens pas heeltyd by jou omgewing aan. Ja, jou kind kan weens sy plek in die gesin sekere trekke openbaar, maar omgewingsinvloede kan steeds die jongste ’n wonderlike leier en die oudste oorafhanklik maak. Die sleutel is om jou kind te stimuleer en te begryp.”

As jou kind vra om te lei of te volg, moet jy dit probeer verstaan. Vra hom om sy besluit te verduidelik, sê Henk. En as hy met sy duikbril op skool toe wil gaan, is dit ook goed so.

Kinders het in elk geval verskillende belangstellings, vermoëns, intelligensievlakke, aanlegte, persoonlikheidstrekke en talente, en daarom moet jy hulle ongeag hul geboorteorde verskillend hanteer, is S.T. se raad.

“Om hulle presies eenders te hanteer sonder om hul individualiteit in aanmerking te neem, is om hulle ’n onreg aan te doen. ’n Rigiede styl kan ’n kind breek en groot ongelukkigheid tussen kind en ouer en tussen kinders veroorsaak.”

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees