Praat saam

akkreditasie
Ontwikkel jou voorskolse kind se taalvermoë met 15 eenvoudige wenke wat jy sommer maklik elke dag kan toepas.

1. Geen aandag

Maak seker jy gee jou volle aandag wanneer jou kind met ’n gesprek begin. Maak ook seker jy het jou kind se aandag voor jy met ’n gesprek begin. Oogkontak is baie belangrik.

2. Wys dat jy verstaan

Jou kind sal aangemoedig word om meer te praat as jy positief reageer op al sy pogings tot gesprekke. Doen wat hy vra, antwoord mooi en moet hom nooit ignoreer nie.

3. Doen dit stadig

Kinders praat nie so vinnig soos grootmense nie. Probeer stadiger praat en laat ruspouses as jy klaar gepraat het. So kan jou kind die gesprek voortsit.

4. Bou woordeskat

Jy kan gerus soms moeilike woorde gebruik. Verduidelik sommer dan wat dit beteken en gebruik dit in ’n paar verskillende sinne, selfs al voel dit bietjie oordrewe.

5. Raak 'n slag simpel

Praat woewer-taal. Voeg eenvoudig "wer" aan die einde van elke woord. "Jywer moetwer sower praatwer."

6. Gesels oor emosies

Verskaf name vir wat jou kind voel. Moedig hom dan liefdevol aan om te sê hoe hy voel, eerder as aan sy emosies uiting te gee.

7. Verduidelik versamelings en groeperings

“Appels en pere is vrugte. ’n Skoen is nie ’n vrug nie.” “Katte en honde is troeteldiere. ’n Boom is nie ’n troeteldier nie.” Kyk of jou kind kan verduidelik wat die versameling se voorwerpe in gemeen het en hoe dit van die ander voorwerp verskil.

8. Stappe in volgorde

Kyk of jou kind opdragte met twee stappe kan volg, en as dit maklik is, kyk of hy opdragte met drie stappe kan volg. Jy kan sommer simpel stappe inwerk en ’n speletjie daarvan maak. “Blaf soos ’n hond, klap jou hande en gaan haal my boek.”

9. Pret wat laat praat

1) Speel gereeld Simon Sê. 2) Blinddoek jou kind en kyk of hy aanwysings kan volg om om die tafel te loop. Blinddoek jouself en laat jou kind vir jou aanwysings gee om om die tafel te loop. 3) Ruil ’n slag rolle. Jy speel die kind, en jou kind speel die ma. 4) Maak beurte om diergeluide te maak en te identifiseer.

10. Stimuleer reg

Lees en sign elke dag. Leer jou kind rympies en maak jul eie rympies op. Luister eerder na storie-CD's as om televisie te kyk.

11. Oefen gehoor

Gee 'n lys woorde wat met "p" begin, maar gooi een "verkeerde" woord by en kyk of hy jou kan uitvang. Vra of hy aan nog "p" woorde kan dink.

12. Speel raai-raai

Beskryf die funksie van n'n voorwerp en vra jou kind om te sê wat dit is. Voorbeeld: “Ons maak die matte daarmee skoon”. Antwoord: stofsuier. Gee jou kind ’n beurt om vir jou ook definisies te gee.

13. Maak musiek

Laat hom met musiekinstrumente eksperimenteer. Voorskoolse kinders kan natuurlik formele musiekles kry, maar dis nie nodig nie. Maak jul eie instrumente van alledaagse huisitems.

14. Ontwikkel fyn gehoor

Lê soms doodstil op die bed met jul oë toe en fluister vir mekaar wat julle in die verte kan hoor, soos ’n voëltjie wat sing, ’n kar wat toet of die wind se geruis in die bome. 

15. Oefen ruimtewoorde 

Maak baie doelbewus seker dat jou kind woorde verstaan wat dui op ruimtelike verhoudings tussen dinge. Dit is woorde soos eerste, middelste, laaste, links, regs, oorkant en teenoorgesteldes soos bo-op, onder, agter en voor.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees