1. Skenk aandag
Maak seker jy gee jou volle aandag wanneer jou kind ’n gesprek begin. Maak ook seker jy het eers jou kind se aandag voor jy ’n gesprek begin. Oogkontak is baie belangrik.
2. Wys dat jy verstaan
Jou kind sal aangemoedig word om meer te praat as jy positief reageer op al sy pogings tot gesprekke. Doen wat hy vra, antwoord mooi en moet hom nooit ignoreer nie.
3. Stadig oor die klippe
Kinders praat nie so vinnig soos grootmense nie. Wend ’n doelbewuste poging aan om stadiger te praat en ruspouses te laat as jy klaar gepraat het. Dit gee jou kind die kans om die gesprek voort te sit.
4. Bou woordeskat
Jy kan gerus soms moeilike woorde gebruik. Verduidelik sommer dan wat dit beteken en gebruik dit in ’n paar verskillende sinne, selfs al voel dit bietjie oordrewe.
5. Oefen ruimtewoorde
Maak baie doelbewus seker dat jou kind woorde verstaan wat dui op ruimtelike verhoudings tussen dinge. Dit is woorde soos eerste, middelste, laaste, links, regs en oorkant, en teenoorgesteldes soos bo-op, onder, agter en voor.
6. Speel raai-raai
Beskryf die funksie van ’n voorwerp en vra jou kind om te sê wat dit is. Voorbeeld: “Ons maak die matte daarmee skoon.” Antwoord: stofsuier. Gee jou kind ’n beurt om vir jou ook definisies te gee.
7. Verduidelik versamelings en groeperings
“Appels en pere is vrugte. ’n Skoen is nie ’n vrug nie.” “Katte en honde is troeteldiere. ’n Boom is nie ’n troeteldier nie.” Kyk of jou kind kan verduidelik wat die versameling se voorwerpe gemeen het en hoe dit van die ander voorwerp verskil.
8. Stappe in volgorde
Kyk of jou kind opdragte met twee stappe kan volg. As dit maklik is, kan jy kyk of hy opdragte met drie stappe kan volg. Jy kan sommer simpel stappe inwerk en ’n speletjie daarvan maak. “Blaf soos ’n hond, klap jou hande en gaan haal my boek.”
9. Pret wat laat praat
1) Speel gereeld Simon Sê. 2) Blinddoek jou kind en kyk of hy opdragte kan volg om om die tafel te loop. Blinddoek jouself en laat jou kind vir jou opdragte gee om om die tafel te loop. 3) Ruil ’n slag rolle om. Jy speel die kind en jou kind speel die ma. 4) Maak beurte om diergeluide te maak en te identifiseer.
10. Stimuleer reg
Lees en sing elke dag. Leer jou kind rympies en maak jul eie rympies op. Luister eerder na storie-CD’s as om televisie te kyk.
11. Oefen gehoor
Gee ’n lys woorde wat met “p” begin, maar gooi een “verkeerde” woord by en kyk of hy jou kan uitvang. Vra of hy aan nog “p”-woorde kan dink.
12. Gesels oor gevoelens
Gee jou kind name vir wat hy alles voel. Moedig hom dan liefdevol aan om te sê hoe hy voel eerder as om (soms onvanpas) aan sy gevoelens uiting te gee.
13. Maak musiek
Laat hom met musiekinstrumente eksperimenteer. Voorskoolse kinders kan natuurlik formele musieklesse ontvang, maar dis nie nodig nie. Maak jul eie instrumente uit alledaagse huisitems.
14. Ontwikkel ’n fyn gehoor
Lê soms doodstil op die bed met jul oë toe en fluister vir mekaar wat julle in die verte kan hoor, soos ’n voëltjie wat sing, ’n kar wat toet of die wind se geruis in die bome.
15. Raak ’n slag simpel
Praat woewer-taal. Voeg eenvoudig “wer” aan die einde van elke woord. “Jywer moetwer sower praatwer.”
Volgende op Baba en Kleuter