Daar bestaan nie ’n eenvoudige, konkrete definisie van sukses nie. Ons ontwikkel elkeen ons eie, baie persoonlike definisie gegrond op die waardes wat ons nastreef.

“Die meeste mense het hul eie idee van sukses en dit hang af van hul individuele waardestelsel. Vir party mense gaan dit oor materialistiese sukses, soos om ’n sekere bedrag in hul bankrekening te hê, ’n spesifieke salaris te verdien of om ’n besondere motor te koop,” sê die Johannesburgse sielkundige Emma-Kate McCormack.

“Vir ander is sukses geestelik en wil hulle voel dat hulle ’n regverdige of goeie lewe lei. Ander mense weer meet sukses aan hul verhoudings en hul vermoë om betekenisvol met die spesiale mense in hul lewe te kommunikeer en te bind.” Dit lyk of die geheim daarvan om ’n suksesvolle kind groot te maak, daarin lê dat jy jou kind help om haar eie definisie van sukses te ontwikkel en dan na te streef. Maar hoe doen ons dit?

Die wetenskap van geluk

Die Britse ekonoom Richard Layard, skrywer van Happiness: Lessons from a New Science, sê geluk is gelyk aan sukses, maar sukses is nie altyd gelyk aan geluk nie. As ons dus doen wat ons gelukkig maak, sal ons sukses daarin behaal. As jy jou passie volg, sal jy daardie geskenk vind wat jou laat lewendig voel.

Suksesvolle ouerskap beteken dus dat jy ’n gelukkige, gesonde kind groot maak wat die wêreld ’n beter plek maak deur net haarself te wees en haar eie unieke geskenke by te dra. Navorsing oor geluk wys dat sukses nou verbind is met:

  • Liefde vir dit wat jy doen, wat jou in ’n positiewe rigting dryf en wat sorg dat jy vroeg al baie weet van die saak wat jou passie is;
  • Begrip vir ander mense en die vermoë om met hulle oor die weg te kom, of hierdie verhoudings nou met ons baas, werknemers, portuurgroep of kliënte is;
  • Emosionele intelligensie, wat ons toelaat om ons self produktief te bestuur; en
  • Die vermoë om probleme op te los en kreatief te dink.

Jou kind is uniek

As jy jou eie passie en talente volg, sal jy suksesvol wees. In ouerskapstaal beteken dit dat jy weet wie jou kind is, haar wys dat sy unieke sterkpunte het wat niemand anders in die wêreld het nie, en dat jy nie jou hoop en drome aan haar opdwing nie.

Ons ouers moet ons perspektief verander: Pleks daarvan om ons kind as ’n leë bord te sien waarop ons ons eie waardes, hoop en drome pak, moet ons ouerskap as ’n ontdekkingsreis beskou waarin ons agterkom wie ons kinders werklik is en waarin ons hulle help om hulleself te leer ken sodat hulle hul eie vaardighede, talente en begrip van sukses kan ontwikkel.

Grootgemaak vir sukses

Dit is ’n “geskenk-gesentreerde” ouerskapsfilosofie eerder as ’n “gebrek-geörieteerde” een, sê die Amerikaners Michael Gurian en Dakota Hoyt, skrywers van die topverkoper Nurture the Nature: Understanding and Supporting Your Child’s Unique Core Personality. Jy waarsku jou kind dus nie dat as sy nie dit of dat is of doen nie, sy nie gaan slaag nie. Jy vra jou eerder af hoe jy jou kind se persoonlikheid die beste kan koester sodat sy eendag sukses sal behaal.

Die beste manier om jou kind te leer ken is om tyd met haar deur te bring – baie, baie tyd. “Praat ook met jou kind en laat haar speel,” sê Emma-Kate.

“Die Amerikaanse sosioloog Annette Lareau het in haar navorsing gevind dat kinders uit huise waar hul ouers met hul gepraat en dinge bespreek het, die vermoë ontwikkel het om te onderhandel en dus dinge reg te kry. Hulle is aangemoedig om vrae te vra en voel gemaklik oor interaksie met volwassenes en kundiges. Kinders uit huise waar die ouers net opdragte gegee het, is weer geneig om skaam te wees en vind dit moeilik om behoorlik met mense te praat wat hulle as hul meerdere beskou.” 

RAAKGEKOOP
DryNites Pyjama Pants is geskik vir ouer kinders wat hul bed natmaak. R109,99 by uitgesoekte Clicks-takke, takealot.com, Pick n Pay Hyper, Checkers, Baby City, Babies R Us en uitgesoekte apteke.

DryNites Pajama Pants