Skool toe met 'n glimlag

akkreditasie
Hoe maak jy seker jou kleuter is werklik gelukkig en floreer in sy skooltjie?

Om jou kleinding onder jou vlerk uit kleuterskool toe te stuur, bly ’n uitdaging vir enige moederhart. Dan troos dit as jy weet jou japsnoet is werklik gelukkig in sy kleuterskool.  Maar hoe weet jy of hy floreer?

Dr. Dinelle Faul, ’n kliniese sielkundige van Vereeniging wat gereeld met die kleinspan werk, sê as jy wil uitvind of kleuters gelukkig is by ’n kleuterskool is dit gewoonlik beter om te kyk na hul optrede as na dit wat hulle sê.

“Dis vir kleuters baie moeilik om sinvol in woorde uit te druk hoe hulle voel. ’n Gelukkige kind wil graag skool toe gaan en sal soms verwys na dinge wat hulle by die skool doen wat hy geniet,” sê sy.

“’n Waarskuwingsteken dat daar dalk iets verkeerd is, is as jou kind se gedrag agteruitgaan. Hy word moeilik, is meer gefrustreerd en prikkelbaar, wil nie skool toe gaan nie en luister nie meer soos voorheen wanneer jy dissipline toepas nie. Sommige kinders kan die aand voor die tyd al huil en sê hulle wil nie skool toe gaan nie. Nagmerries kan ook voorkom.”

Wat maak hom ongelukkig?

As ’n kind ongelukkig by die kleuterskool is, beteken dit nie noodwendig die skool doen iets verkeerd nie, sê Dinelle. “Dis belangrik om na die geheel te kyk omdat verskeie faktore ’n kind se geluk by die skool kan beïnvloed.

“Baie kleuters kry skeidingsangs – dis ’n normale ontwikkelingsfase. Dit gebeur gewoonlik omdat die kind besig is om herinneringe van sy ouers op te bou waarop hy terugval wanneer hy alleen is. Ons word nie met hierdie vaardigheid gebore nie; dit word aangeleer in die proses van skeidingsangs.”

Gun jou kind genoeg tyd – ’n week en selfs ’n maand – om by die kleuterskool aan te pas, sê Dinelle.

“As die onderwyser vir jou sê jou kind hou op huil en begin speel nog voor jy terug by jou motor is, is dit ’n goeie teken dat hy besig is om aan te pas. As jou kind egter langer as ’n uur of selfs die grootste deel van sy kleuterskooldag aanhou huil, is daar waarskynlik fout.

“As jou kind tuis ook skeidingsangs het en huil as hy jou nie kan sien nie, is hy dalk nog nie emosioneel gereed vir die kleuterskool nie.”

’n Groot oorsaak van kinders se hartseer by die skool is dat hulle bang is hul ouers kom iets oor. Dinelle sê sy sien baie kleuters wat só ingestel is op die welstand van hul ouers dat hulle op hul ouers se emosionele toestand reageer.

“As iemand byvoorbeeld onder ongewoon baie werkdruk is, of as daar ander dinge is wat spanning veroorsaak – soos huwelikskonflik, siekte of finansiële probleme – kan dit vir hul kleuter moeilik wees om by die skool te ontspan. Om weg van sy ouers te wees, beteken hy kan nie met sy eie oë sien dat hulle veilig is nie.”

Boeliegedrag deur maatjies kan ook tot ongelukkigheid lei. “Kyk na die groter prentjie. Soms is daar werklik ’n boelie wat jou kind opsetlik afknou en dan moet jy en die onderwysers saamwerk om die situasie te hanteer.

“Maar dikwels lyk kleuters se optrede na boeliegedrag, terwyl hulle eintlik net nie weet hoe om op ’n aanvaarbare manier maats te maak nie.”

Kleuters word nie met sosiale vaardighede gebore nie, hulle leer dit terwyl hulle met ander kinders speel, sê Dinelle. Hulle besef byvoorbeeld nie altyd dat hulle nie so hard moet stamp wanneer hulle ’n maatjie se aandag wil trek nie.

Hul fyn hand-oog-koördinasie is nog onderontwikkel en daarom stamp hulle soms harder as wat hulle bedoel het. Sulke misverstande kan sinvol deur ’n onderwyser of ouer hanteer word deur albei kinders bewus te maak van meer aanvaarbare maniere van optree.

Persoonlikheidsverskille tussen ’n kind en onderwyser kan jou kind ook ongelukkig laat voel. Soms is die onnie taakgerig, wil vinnig by die antwoord uitkom en kyk na die groter prentjie, terwyl jou kind geneig is om na detail te kyk, meer tyd nodig het om besluite te neem en meer positiewe terugvoer nodig het.

“Dieselfde geld vir ’n perfeksionistiese kind wat in ’n klas beland wat ongeorganiseerd en raserig is,” sê Dinelle. En soms is jou kind bloot net te jonk vir die kleuterskool.

Op twee jaar oud wil kinders nog op ’n individuele basis die verhouding met hul ouers bou. Tussen drie en vier jaar oud is ’n beter ouderdom om kleuterskool toe te gaan en dit kan aanpassing makliker maak.

Hou ook in gedagte dat jou kind fisiek en emosioneel dalk nie gereed is vir die klassie waarin hy hom bevind nie.

“As jy vermoed jou kind presteer nie op dieselfde vlak as die ander kinders in die klas nie, kan jy gerus die hulp van ’n sielkundige of arbeidsterapeut inroep,” is Dinelle se raad.

Dis maklik om met ’n evaluasie vas te stel aan watter ontwikkelingsgebiede julle en die onderwysers meer aandag moet gee om dinge vir jou kind makliker te maak. Soms veroorsaak faktore soos spraakagterstande, aandaggebrek of aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteurnis dat sowel die onderwyser as die kind swaarkry.

As dié toestande nie doeltreffend hanteer word nie, kan jou kind baie ongelukkig in die kleuterskool wees.

Gelukkiger skooltye

Dis belangrik om nie te oorreageer en dadelik aan te neem dat die skool iets verkeerd doen en nie jou kind se belange op die hart dra nie, sê Dinelle.

“Dit help baie as jy en die onderwyser met mekaar in aanraking kom en op ’n ondersteunende manier inligting uitruil sonder om aanvallend of veroordelend te wees. Die doel is dat julle as ’n span saamwerk om jou kind te help.”

Dinelle sê ’n sielkundige of arbeidsterapeut kan deel word van hierdie span sodat die oorsaak van die ongelukkigheid vinniger vasgestel en behandel kan word. Die heel laaste opsie moet wees dat julle ’n ander kleuterskool kies.

“Dit doen kinders meer skade as hulle te veel skole wissel. Hulle kry dit nie reg om goeie blywende verhoudings met maatjies te vorm nie, beleef aanhoudend onsekerheid en verlies en word die geleentheid ontneem om waardevolle probleemoplossingsvaardighede in ’n ondersteunende omgewing te leer.

“Probeer eerder eers met ’n positiewe gemoed uitvind wat die ongelukkigheid veroorsaak en soek dan saam na sinvolle oplossings,” is Dinelle se raad.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees