Suiker en versoeters: ons ondersoek

akkreditasie
Ons almal wil graag ’n stroopsoet kleuter hê, maar as jy ’n taai klapsoen kry, wonder jy of die stroop en al die soet so ’n goeie ding is. Ons vertel meer oor suiker en versoeters.

Jy kan nou maar sê wat jy wil, maar soet is eenvoudig lekker! Om van suikersoet lekkers te hou is nie iets wat jy vir jou kleingoed hoef te leer nie, dis een van daai goed (soos stout wees) wat sommer vanself gebeur.

Babas word gebore met ’n voorliefde vir soet smake en dit is juis dít wat hulle help oorleef.

Die wêreld waarin ons kinders grootword het dalk net ’n tikkie té soet geword. Feitlik alle geriefskos wat op die winkelrakke is, bevat ’n spul suiker en te veel daarvan dra by tot die wêreldwye vetsugprobleem.

Baie mense gryp dus na kunsmatige versoeters wat minder energie verskaf in ’n poging om die ekstra vetjies te probeer weghou. Hoe besluit jy wat reg is vir jou gesin?

Suikertand se prys

Die potjie bruinsuiker op die tafel lyk so onskuldig, maar as jy hom gereeld moet vol maak, kan dit probleme veroorsaak. Behalwe dat ’n oormatige inname van suiker tot oorgewig kan lei, wys die navorsing dat dit ook cholesterol verhoog, wat tot hartsiektes lei.

Suiker veroorsaak natuurlik ook tandbederf by klein en groot. Die prys wat ’n mens betaal vir daardie heerlike soet smakie word ál hoër.

Die Wêreld-kankerverslag wat in Februarie bekend gestel is, wys ook dat oorgewig een van die hoofoorsake van voorkombare kanker is. Om gesonde kleuters te verseker sal ons dus maniere moet vind om suikerinname te verminder.

Kleuter se kwota

Alle suiker is darem nie totaal taboe nie. Jou kleuter kan vyf tot nege teelepels suiker per dag inneem as deel van ’n gebalanseerde dieet. Dit sluit egter alle bygevoegde suiker in. Van die ontbytpap tot die tamatiesous, die grondboontjiebotter en die gegeurde jogurt bevat heelwat bygevoegde suiker.

As die roomys se ses teelepels suiker, die blikkie koeldrank se sewe en die kolwyntjie se agt teelepels bykom, word maklik drie keer soveel suiker ingeneem as wat goed is vir jou kleuter.

As jou kind heelwat verwerkte kosse eet, sal lekkernye daarby nie gesond wees nie. Gee dus hoofsaaklik onverwerkte kosse vir jou kind; dan is daar beslis plek vir ’n lekkerny of twee, selfs elke dag.

Vir die tandjies is iets wat hulle eet en klaarkry, soos ’n malvalekker of suurwurm, beter as ’n stokkielekker waaraan hulle lank loop en suig (en wat op die ou end teen die sitkamerbank vasgeplak word).

Van korwe tot stroop

’n Huis sonder ’n soetigheid bestaan nie – wat kies jy dus as jy een soetmaakding kan kies?

Onverwerkte heuning is seker die beste keuse. Hierdie natuurlike soetmaakmiddel het verskeie medisinale eienskappe en hoewel dit net soveel energie as gewone suiker gee en ook in jou kleuter se kwota moet pas, is daar darem ’n paar goeie goed in ook.

Molasse, die byproduk in die maak van suiker, is ook ryk aan antioksidante en is ’n beter alternatief wat veral in gebak gebruik kan word.

Tafelsuiker is ’n verfynde koolhidraat wat net energie verskaf en geen voedingstowwe nie. Suiker is een van die enigste kosse waar bruin nie gesonder as wit is nie.

Dalk het jy ook al fruktose as alternatief vir suiker oorweeg omdat dit ’n lae glikemiese indeks het. Studies het egter gevind dat fruktose tot ’n klomp gesondheidsprobleme kan lei.

Fruktosepoeier, asook verwerkte produkte wat mieliestroop met baie fruktose bevat, moet dus liefs vermy word. Gebruik waar jy kan eerder vrugte of droëvrugte om pap, jogurt en selfs pampoen effens te versoet.

Kammasuiker

Omdat suiker ál meer mense die skrik op die lyf jaag, begin vervaardigers van geriefskos die een ná die ander kunsmatige versoeters gebruik. Hierdie kammasuiker is lankal nie meer iets wat net in spesiale diabetiese of verslankingsprodukte gebruik word nie.

Loer ’n bietjie na die bestanddelelys van sommige skyfies, aanmaakkoeldranke, souse en kougom. Die vraag is net: As al wat ’n produk is, volgeprop word met kunsmatige versoeters, is dit dan nog veilig?

Sal al hierdie versoeters nie ook maar op die ou end lei tot ’n klomp gesondheidsprobleme wat dalk selfs erger as die ware Jakob s’n is nie?

Hier is meer inligting oor ’n paar van die bekendste kammasuikers.

Xylitol

Xylitol is ’n suikeralkohol wat ook twee boeties, sorbitol en mannitol, het. Xylitol maak so soet soos suiker, maar bevat net twee derdes van die energie. Dit help om gaatjies in tande te voorkom en om tande weer sterk te maak waar daar swak plekkies was.

In kleuters word dit selfs gebruik om middeloorontsteking te voorkom. Dit word hoofsaaklik in kougom gebruik vir mondgesondheid en min navorsing is gedoen oor xylitol as versoeter.

Al die suikeralkohole kan winderigheid veroorsaak en in groot hoeveelhede diarree.

Stevia

Stevia is ’n natuurlike versoeter wat uit ’n plant gehaal word. Dit is ’n betreklik nuwe versoeter, hoewel dit al 20 jaar in Japan gebruik word. Dit is veilig vir gebruik en geen negatiewe uitwerking is tot dusver gevind nie, maar min navorsing is nog daaroor gedoen.

Sukralose

Sukralose is een van die produkte wat die meeste nagevors is en toetse het gevind dat dit veilig is, selfs vir swanger en borsvoedende vroue en kinders. Dit maak 600 keer soeter as suiker, maar bevorder nie tandbederf nie.

Dit lyk egter of sukralose migraine-hoofpyn kan veroorsaak. Saam met sakkarien is dit moontlik die skuldige wat veroorsaak dat ál meer mense inflammatoriese dermkanaalsiekte soos Chron se siekte en ulseratiewe kolitis kry.

Sukralose maak van die goeie bakterieë in die dermkanaal dood. Wanneer dit in gebak saam met vet gebruik word, kan dit moontlik giftige stowwe vorm.

Hoewel sukralose goedgekeur is vir gebruik deur selfs kinders, moet ’n mens in die lig van onlangse navorsing dalk versigtig wees.

Asesulfaam K

Hierdie versoeter is 200 keer soeter as suiker en word gewoonlik in kombinasie met ander versoeters gebruik. Dit is jare gelede as veilig bewys en tot dusver nog nie weer behoorlik getoets nie. Volgens kenners is daar heelwat onsekerheid oor die werklike veiligheid.

Sakkarien

Sakkarien is die oudste kunsmatige versoeter en word al meer as 100 jaar lank gebruik. Dis 200 tot 700 keer soeter as suiker. Gerugte jare gelede dat sakkarien blaaskanker kan veroorsaak is intussen verkeerd bewys en tot agt sakkies sakkarien per dag is veilig vir kinders en volwassenes.

Onlangse navorsing beweer egter dat sakkarien en sukralose moontlik inammatoriese dermkanaalsiekte kan veroorsaak, ’n siekte wat ook skielik meer by kinders gesien word.

Drankies wat met sakkarien versoet is, lyk dalk of dit minder energie gee, maar dit kan maak dat ’n mens meer ander kos eet. 

Aspartaam

Aspartaam bevat net soveel energie soos suiker, maar maak 200 keer soeter. Mense met die genetiese afwyking fenielketonurie kan glad nie aspartaam gebruik nie, en waarskuwings daarvan is dus op alle produkte wat dit bevat.

Newe-effekte van aspartaam sluit in duiseligheid, hoofpyn, spysverteringskanaal-versteurings en gemoedsverandering. Studies waarvoor betaal is deur vervaardigers van aspartaam sê dit is veilig, maar feitlik alle studies wat onafhanklik befonds is, sê dat aspartaam die gesondheid kan skaad.

Daar is baie bewerings dat aspartaam verbind kan word met toestande soos Alzheimer se siekte, aandaggebrek en hiperaktiwiteit, geboorteafwykings, kanker, diabetes en lupus. Aspartaam bly een van die mees omstrede, tog die mees algemene kunsmatige versoeter.

 

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees