Sukkel met touspring

akkreditasie
Sukkel kleuters altyd met touspring? Hier is wat jy moet weet.

Vraag:

My seuntjie is nou vyf jaar oud. Die kleuterskool moedig touspring vreeslik aan, en ons oefen gereeld by die huis om dit onder die knie te kry, maar hy sukkel en kry dit net nie reg nie. Is daar fout met hom? Of sukkel kinders van sy ouderdom altyd met touspring? Is daar oefeninge wat kan help?

Antwoord:

Touspeletjies sorg al jare vir baie kindergenot en help boonop met die ontwikkeling van hul liggaamsbewustheid, motoriese beheer, motoriese beplanning, gradering van beweging en posturale stabiliteit.

Dis baie moeilik om die vaardigheid van touspring self te bemeester en in my ervaring gebeur dit selde dat kinders dit op vyf jaar oud al gekoördineerd kan doen. Vyfjarige kleuters kan gewoonlik oor ’n tou spring as die tou deur iemand anders geswaai word.

Om suksesvol te wees met touspring, sal jou seuntjie die volgende vaardighede onder die knie moet hê:

1. Hy moet minstens 15 cm hoog ritmies met albei voete gelyk op en af kan spring.
2. Hy moet die tou met albei arms gelyk oor sy kop kan swaai.
3. Hy moet swaai-en-springbewegings herhaaldelik en ritmies kan koördineer. 

Beproef gerus die volgende speletjies by die huis – dis alles voorlopers van touspring.

  • Sing ritmiese liedjies en/of sê ’n rympie op en speel ’n handeklap-speletjie.
  • Speel speletjies waar jou seuntjie aangemoedig word om op twee beentjies te spring. Plaas byvoorbeeld ’n leer op die grond sodat hy oor die sparre kan spring. Of teken ’n hasie-springbaan met kryt op sement en laat hom eenbeen- en tweebeen-springpatrone uitvoer. Julle kan ook oor groot klippe of omgekeerde emmers paddaspring.
  • Gebruik stokkies met linte aan en speel speletjies waar jou seuntjie patrone met die linte moet maak deur sy armpies gelyktydig vorentoe en agtertoe in sirkels te swaai.
  • Gebruik ’n hoepel soos ’n springtou. Laat jou seuntjie binne-in die hoepel staan en dit aan die voorkant vashou. Moedig hom aan om die agterste deel van die hoepel oor sy kop te bring tot voor by sy voete en dan oor te spring.
    Sodra die hoepel goed bemeester is, kan julle ’n springtou nader trek. Swaai dit vorentoe en spring dan oor sodra die tou op die grond lê. Herhaal die proses. Die soort springtou kan aanvanklik ’n verskil maak. Maak seker dat die tou nie te pap of te lank is nie – ’n goeie lengte vir kleuters is gewoonlik ’n tou van 2 meter.

As dié fondamente vir touspring eers vasgelê is, moedig jou kind aan om te oefen, geduldig te bly en pret met die tou te hê. Daar sal ’n dag kom dat hy dit sommer net so regkry!

As jy nog idees soek, gaan kyk gerus in die volgende boek: Growing an In-Sync Child – Simple Fun Activities to Help Every Child Develop, Learn and Grow deur Carol Kranowitz en Joye Newman.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees