Sy glimlag is weg

akkreditasie
Kinders kan nie altyd borrelend gelukkig wees nie, maar wanneer is daardie donker gemoedstoestand 'n probleem?

Bedruk en beduiweld. Só het Ansa Marais* van Boksburg haar vyfjarige meisiekind opgesom, maar agter die tergery het diep kommergelê. Iets het bly pla. Dit kan tog nie normaal wees dat haar dogtertjie lyk asof sy permanent ongelukkig is nie. Kan dit reg wees dat sy nooit meer glimlag nie?

Ná baie wik en weeg het Ansa haar na ’n sielkundige gewend en hy het haar vermoedens bevestig. Haar kind ly aan depressie.

Die woorde “kinders” en “depressief” amper nie in dieselfde sin nie. Ons dink aan kinders as gelukkige wesens met ’n jubelende opgewondenheid oor ’n wêreld wat hulle toenemend ontdek, maar tog kom kinderdepressie wyd voor
en meer dikwels as wat ’n mens dink.

Dit word dikwels misgekyk, sê Juazel Pieterse, ’n kliniese sielkundige in privaat praktyk wat ook aan die Stellenbosse Sentrum vir Vroeë ingryping verbonde is.

“Die kinderjare word gewoonlik as ’n gelukkige en sorgvrye tyd sonder bekommernisse en verantwoordelikhede beskou. ’n Algemene reaksie wanneer ons hoor dat ’n kind depressief is, is: ‘Waaroor kan sy tog hartseer voel?’ Selfs wanneer kinders teleurstelling of negatiewe gebeurtenisse ervaar, word daar van hulle verwag om vinnig oor hul hartseer en pyn te kom, sê Juazel.

Wanneer kinders hartseer, prikkelbaar of ontsteld is, skryf ouers dit dikwels toe aan tydelike faktore soos ’n tekort aan slaap of omdat hulle bloot nie lekker voel nie. Daar is lank geglo dat kinders nie depressief kan wees nie en indien wel, dit vinnig sal verbygaan.

Kinderdepressie verskil van alledaagse emosies of ’n tydelike gevoel van weemoed, sê Juazel. “Dis normaal om weens omstandighede of gebeurtenisse gemoedsverandering te ervaar en om van tyd tot tyd hartseer te voel. Wanneer ’n depressiewe bui of stemming oor ’n lang tydperk strek en ’n kind se vermoë beperk om normaal te funksioneer, kan dit wel depressie wees,” sê sy.

“Depressie is ’n gemoedsversteuring wat ’n aanhoudende gevoel van hartseer en verlies aan belangstelling veroorsaak. Dit beïnvloed hoe ’n kind voel, dink en optree. Dit kan tot ’n verskeidenheid emosionele en fisieke probleme lei.”

Hoewel omtrent alle jong mense sommige simptome van depressie ervaar, kry tot 5 persent van kinders en 10 tot 20 persent van tieners betekenisvolle depressie. ’n Mens kan dit amper nie glo nie, maar kliniese depressie kan reeds van drie tot vyf jaar af geïdentifiseer word.

Juazel sê dis moeilik om kinderdepressie onder die ouderdom van sewe te diagnoseer en daarom is dit belangrik om die simptome by jong kinders te herken. “So nie, kan dit in die later kinder- of tienerjare in depressiewe afwykings ontwikkel,” waarsku sy.

Hiervoor moet jy oplet

Kinders van verskillende ouderdomme voel depressie verskillend aan, en dit neem ook nie by elke kind dieselfde vorm aan nie.

Die simptome in die kassie regs is tipies, maar dit word eers depressie as dit verhinder dat jou kind normaalweg funksioneer, sê Juazel. “ ’n Kind het depressie as sy vir ’n lang tydperk – twee tot ses weke – terneergedruk is en geen belangstelling in dinge toon nie.”

Hoewel enige van dié simptome op enige ouderdom kan voorkom, is kinders tussen drie en ses meer geneig om huilerig te wees, minder te speel, maagpyn te kry, nie geesdriftig met speeltyd te wees nie en meer fobies te ontwikkel.

“Kinders tussen ses en 10 is weer geneig om huilerig, prikkelbaar en besluiteloos te wees en woedebuie te kry. Hulle is ook rusteloos, hul gedrag en eetlus verander, hulle het minder energie en kla van hoofpyn en moegheid,” sê Juazel.

Rooi ligte flikker as:

  • Jou kind die grootste deel van die dag terneergedruk of prikkelbaar is en dit gebeur byna elke dag.
  • Hy of sy huilerig is, maklik prikkelbaar raak en hul bui onvoorspelbaar is.
  • Hulle huilerig is, negatief oor dinge praat en onverdraagsaam is.
  • Jou kind sê hy voel hulpeloos, leeg of hartseer. Daar kan gevoelens van waardeloosheid of oormatige of onvanpaste gevoelens van skuld wees.
  • Gedragsafwykings of steurende gedrag voorkom en jou kind rusteloos is.
  • Jou kind nie meer dinge geniet wat sy voorheen geniet het nie en byna geen belangstelling daarin het nie.
  • Haar eetlus of gewig, of albei, verander en sy nie gewig aansit soos sy moet nie.
  • Sy slaappatroon verander.
  • Hy voortdurend moeg en sonder woema is.
  • Dit lyk of hy dinge vergeet, besluiteloos is, nie kan konsentreer nie en sukkel om logies te dink.
  • Jou kind se aandag maklik afgelei word.
  • Hy vreeslik oor sy gesondheid kla, soos oor maagpyn, kopseer en moegheid.
  • Hy homself skade doen, soos om hom met ’n lemmetjie te sny.
  • Jou kind nie meer met sy maats wil speel nie en sy verhouding met familie en vriende verswak.
  • Hy nie geesdriftig is tydens speeltyd nie of as sy gedrag by die skool verander en hy anders met sy maatjies begin omgaan. Party kinders funksioneer nog normaal, maar dit vereis vreeslik baie energie.
  • Haar akademiese prestasie agteruitgaan.
  • Jou kind verskeie fobies of vrese ontwikkel, haar selfvertroue verminder en sy haarself vir dinge blameer.
  • Jou kind selfs aan selfmoord dink, al het sy nie ’n spesifieke plan nie.

Hy het simptome, wat nou?

’n Dokter moet eers seker maak dat jou kind se simptome nie ’n ander mediese oorsaak het nie. Sekere medisynes kan ook depressie veroorsaak, sê Juazel.

Daarna moet ’n geregistreerde psigiater of sielkundige jou kind volledig evalueer om die simptome te bevestig, vas te stel hoe erg dit is en te probeer uitvind wat die moontlike oorsake kan wees.

“Depressie is ’n mediese toestand met verskeie oorsake soos oorerwing, ’n chemiese wanbalans in die brein, omgewing en iets ergs wat met die kind gebeur het. Omdat depressie kinders se manier van dink, gedrag en emosies aantas, moet die behandeling drie dinge insluit: lewenstylaanpassings, psigoterapie en medikasie vir matige of hewige depressie,” sê Juazel.

Daar moet ook vasgestel word of die simptome ’n reaksie is op iets wat met jou kind gebeur het, of wat in haar lewe aangaan. Die oorsaak moet dus eers behandel word.

Soms is dit moeilik om van die oorsaak ontslae te raak, soos wanneer jou kind by die skool afgekraak word of as daar ’n groot verlies in haar lewe was. In dié omstandighede is dit belangrik om jou kind veilig te laat voel, te ondersteun en haar met die vaardighede toe te rus om die probleme te bowe te kom.

Interpersoonlike terapie (ITP) en kognitiewe gedragsterapie (KGT) is twee van die algemene behandelings, sê Juazel. ITP fokus op die verlede, hede, sosiale rolle en interaksies met ander mense.

KGT behandel negatiewe emosies, wanaangepaste gedrag en negatiewe denke. Jul gesin se steun en betrokkenheid is baie belangrik om jul kind van depressie te laat herstel, sê Juazel.

Ouers voel dikwels onseker as hulle vermoed hul kind ly daaraan en weet dan nie watter kant toe nie.

“Dis belangrik om jou vermoede verder te voer. Hou jou kind se gedrag oor ’n tydperk dop en kyk hoe dit sy funksionering beïnvloed. Maak aantekeninge daarvan en gesels dikwels met jou kind oor sy gevoelens.”

Ria Heystek, ’n berader van Durban- ville naby Kaapstad, sê ouers ken hul kind die beste en as jy depressie vermoed, is die moontlikheid groot dat daar wel fout is.

Dis belangrik om ’n dokter of terapeut te kies wat opgelei is om dit te diagnoseer en behandel.

“Gesels vooraf met jou kind oor jul afspraak by die sielkundige of psigiater sodat sy weet waaroor dit gaan. Wees maar sensitief sodat sy nie voel iets ergs is met haar verkeerd nie.

Wees ondersteunend as jou kind vir behandeling gaan en wees betrokke by die proses. “As jou kind antidepressante kry, maak seker jy weet hoeveel sy moet drink en dat sy dit reg drink,” is Ria se raad.

Onthou dat ’n geregistreerde berader nie opgelei is om kinderdepressie te behandel nie, sê Ria. As jy by so iemand is, vra haar liewer om julle na ’n opgeleide terapeut te verwys.

* Nie haar regte naam nie

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees