Daar is geen goue reël vir hoeveel gestruktureerde stimulasie ’n kleuter nodig het nie. Hoewel ’n kleuter se brein groei namate hy vinnig nuwe begrippe leer, beteken dit nie hy het konstante interaksie en stimulasie nodig en dat ma’s van een aktiwiteit na die volgende moet rondskarrel nie.

Lianna Morrison, ’n opvoedkundige sielkundige van Hermanus, meen verskillende kinders het verskillende vlakke van stimulasie nodig. Party het meer interaksie nodig, terwyl ander stiller omgewings verkies. Hoeveel hulle by die huis gestimuleer word met gestruktureerde of ongestruktureerde aktiwiteite beïnvloed ook hoeveel buitemuurse stimulasie vir hulle goed sal wees.

“Dis meestal genoeg om verskeie aktiwiteite by die huis te doen en ’n speelgroepie by te woon. Alle kinders het tyd nodig om stil te wees en te ontspan in ’n huisomgewing wat bekend, stabiel en liefdevol is,” sê Lianna.

Hoewel kinders die vaardighede wat hulle in spesialisprogramme leer meestal by die huis ook kan opdoen, kan deelname saam met ander wel baie pret wees en ook sosialiseringsgeleenthede bied.

“As ’n kind egter uit ’n huis kom waar sy voortdurend gestimuleer word, sal sy niks verloor deur nie aan sulke programme deel te neem nie,” sê Lianna.

’n Trampolien, springtou, klimraam en geleenthede om rond te hardloop is genoeg vir die ontwikkeling van kinders se groot motoriese vaardighede, terwyl klei speel, krale ryg, vingerverf en legkaart bou vir fyn motoriese ontwikkeling sal sorg.

Sportaktiwiteite

As jy jou kleuter aan sport soos rugby of swem laat deelneem, vra jou eers af hoekom jy dit wil doen. “Dis een ding om jou kind te laat deelneem omdat sy haar ouer sussie wil naboots; dis iets heeltemal anders as jy solank aan ’n Olimpiese swemmer wil begin bou,” sê Lianna.

Jou doelwit gaan jou houding teenoor die sport bepaal. Daar is ’n verskil tussen jou kind aanmoedig om haar bes te doen en die sport te geniet, en om druk op haar uit te oefen om die beste te wees.

Kleuters kry nie sommer vanself prestasie-angs nie, waar hulle ’n vrees het vir mislukking en vir ander se reaksie op hul mislukking. Die meeste kinders ontwikkel eers teen ses of agt jaar oud ’n sin van wen of verloor, sê Lianna. Voor dan is hulle nie regtig mededingend nie, maar fokus meer op die pretdeel van sport.

“Hulle leer nog van die sport, wat dit beteken om te wen, en hoe om’n goeie spanspeler te wees. Hulle is meer daarop ingestel om jou tevrede te stel as om hul eie vaardighede te verbeter. Om hulle te dryf om te wen, kan lei tot ’n vrees vir jou misnoeë en kan hulle angstig maak.”

Wees dus versigtig oor die houding wat jy uitstraal, veral as jy self baie mededingend en ambisieus is. Jou jong kind kan druk as angswekkend en intimiderend ervaar.

As jy besluit om jou kind aan sulke hoogs gestruktureerde aktiwiteite te laat deelneem, maak seker die afrigter is iemand met ’n agtergrond in kinderontwikkeling.

Te veel fokus op een gebied van ontwikkeling kan tot splintervaardighede lei – dus vaardighede wat nie binne die normale ontwikkelingspatrone is nie. Te veel fokus op een gebied beteken die ander gebiede is nie in balans nie en balans is baie belangrik vir gesonde ontwikkeling. Die beste plan is om te kyk aan watter nuwe vaardighede jou kind werk, en die spel dan so te rig dat dié vaardighede ontwikkel word.

Melanie Hartgill, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, meen omdat kinders deesdae so vroeg aan televisie, rekenaars, tablette en slimfone blootgestel word, het groepe soos Clamber Club en Monkeynastix in sekere gevalle amper ’n noodsaaklikheid geword omdat kinders andersins nie genoeg oefening sal kry nie.

“As jou kind egter die grootste deel van die dag deurbring deur fiets te ry, buite te speel, te swem, rond te hardloop, bal te skop en legkaarte bou, het sy nie sulke programme nodig nie,” sê Melanie.

Ongestruktureerde spel

Ongestruktureerde spel is baie belangrik vir kinderontwikkeling. Dis waar kinders leer sin maak van hul innerlike wêreld en die buitewêreld; waar hulle besluite kan neem oor watter aktiwiteit hulle wil aanpak, waar hulle hul ondervindinge verwerk en waar hulle probleme kan oplos.

Dr. William Griffith, ’n opvoedkundige sielkundige van Roodepoort, Johannesburg, sê ongestruktureerde spel in die eerste vyf jaar leer kinders om strategies te dink, hul verbeelding en kreatiwiteit te ontwikkel en help met breinontwikkeling.

“Spesialisprogramme kan nie skade doen nie, maar die beste stimulasie vir jou kind is dít wat om hom is, soos speel in die tuin en met die hond. Hy sê ouers moet daarteen waak om hul kind in die eerste vyf jaar te dwing om te begin lees.

“Kleuterskole plaas deesdae klem op leesprogramme. Dis beter as ’n kind so ver as moontlik daarvan wegbly, want hierdie tyd is ’n fase van ongestruktureerde spel wat kritiek vir gesonde ontwikkeling is.” Hy meen kleuters moet hoofsaaklik groot en fyn motoriese vaardighede en lateraliteit baasraak, en verder moet hulle net speel.

Lateraliteit beteken jou kind moet ’n goeie begrip hê van links en regs en middellynkruising. “ ’n Goeie oefening hiervoor is die ‘lui 8’-oefening. Teken ’n groot 8 op ’n stuk koerantpapier en laat hy dit met vetkryt natrek. In die natrek hiervan gaan hy van links na regs, regs na links, en steek hy sy middellyn oor.” Die lui 8-oefening is een van die maniere waarop bepaal kan word of ’n kind leerprobleme het.

Oorstimulasie

Oorstimulasie vind plaas wanneer ’n kind oorweldig word deur klanke of aktiwiteite en te veel ervarings en sensasies. Dit kan hom huilerig of moeg maak, en op lang termyn woedebuie veroorsaak en hy kan weier om dit weer by te woon.

Luister dan na wat dit is waarvan hy nie hou nie, sê Lianna. Soms weier hy om aan iets deel te neem wat hy voorheen geniet het, of sy slaap-, eet- en uitskeidingspatrone verander. Dis alles waarskuwingstekens dat hy oorgestimuleer word.

Ouers voel hulle moet hul kinders se lewens prettig en opwindend maak, maar as ons hulle ’n bietjie met rus laat, maak hulle hul eie lewe prettig en opwindend, sê Melanie.

Musiek

Talle ontwikkelingsprogramme sluit musiek in of fokus uitsluitlik op musiek, selfs vir babas. Volgens nuwe navorsing deur Gerda Pretorius, ’n dosent aan die Vrystaatse Universiteit, word babas musikaal gebore en is musiekaanleg met geboorte op sy hoogste.

Volgens hierdie navorsing hoef ’n baba se musikale opvoeding nie eers “later” te begin nie en word dit nie “beter” deur kundiges gedoen nie.

Gerda sê navorsing dui daarop dat 67 persent van mense ’n aangebore gemiddelde musikaliteit het, maar dat hierdie musikaliteit van geboorte af versorg moet word.

Sy het ondersoek ingestel na die proses waarin babas van geboorte tot 18 maande die klanke en musiek van hul omgewing absorbeer en daarop reageer. Sy het gevind dat hulle met geboorte al gereed is om musikale inligting te verwerk en gemotiveerd is om aan musikale kommunikasie deel te neem.

Jy hoef egter net jou huisomgewing ryk te maak met musiek, met jou baba te praat en wiegeliedjies te sing om hierdie natuurlike musiekaanleg verder aan te moedig.

Voorheen is gemeen dat ’n baba geleidelik musikaal ontwikkel namate hy groter word, dat musikale aanleg ’n eksklusiewe talent is en dat pasgebore babas musikaal onderontwikkeld is.

“Die ma singpraat intuïtief met haar baba in ’n hoë stemtoon en teen ’n stadige tempo; dis musikale eienskappe waarvoor babas ’n voorkeur het. Dit laat hulle leer en reguleer baba se gemoedstoestand,” sê Gerda.

Dit gaan oor die manier waarop babas leer, sê sy. “Dit wat ’n ma intuïtief van geboorte af doen, is ’n musikale aktiwiteit. As dit elke dag gebeur, vind die leerproses natuurlik plaas binne dié intieme verhouding.”

Daar is gevind dat Sotho-kinders vir wie daar elke dag gesing is en wat daagliks met vry, vloeiende bewegings gewieg is, beter gevaar het in gesofistikeerde musiekaanlegtoetse as kinders in spesialismusiekprogramme.

Musiekaanleg ontwikkel wanneer die breinnetwerke herorganiseer word. Dit gebeur wanneer baba elke dag verskillende soorte musiek absorbeer en ook met die interaktiwiteit van wiege- en speelliedjies. ’n Baba kan dus nooit te veel musiek hoor nie; dis selfs goed vir jou baba as jy musiek speel terwyl hy slaap, meen Gerda.

Alle ouers kan die musikale stimulasie van hul baba self hanteer. Daarby bring dit ma en baba nader aan mekaar, dis bekostigbaar en dit vind plaas as deel van ’n natuurlike huisroetine, sê Gerda. Sy spring eersdaags weg met werksessies oor hoe om musiek by die huis in te span en die regte musiek te kies.