Daar is min dinge so goor soos ’n kleinding wat huil en klou wanneer jy hom by die skool aflaai. Wat beteken dit? Is daar fout by die skool? Is hy net stout? Is dit ernstig of ’n tydelike haakplek? Moet jy hom na ’n ander skool stuur? Julle het ná die ellelange weke van grendeltyd dan so hierna uitgesien. Of was dit dalk net jy wat na die terugkeer uitgesien het, en nie hy nie? Moontlik voel jy ook ambivalent oor of hy regtig moet gaan ...

Namate skole en klasse stuk-stuk weer aan die gang kom, gaan baie ouers voel asof hulle hul kinders van voor af by ’ngemaklike skoolroetine moet laat aanpas.Hoor wat kenners sê.

Hoekom huil hy?

Daar is verskeie redes waarom ’n kind skielik vasskop nadat hy aanvanklik sonder kla skool toe gegaan het, sê prof. Esmé van Rensburg, ’n sielkundige by die skool vir psigososiale gedragswetenskappe aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom.

“As dit eers vir hulle maklik was om te gaan en nou wil hulle skielik nie meer nie, beteken dit gewoonlik iets is verkeerd. Daar was dalk ’n traumatiese gebeurtenis tuis, soos egskeiding van die ouers of die dood van ’n oupa of ouma, of selfs van ’n troeteldier. Dikwels is dinge wat vir ouers nie erg is nie, vir ’n kind verskriklik erg, soos om na ’n nuwe huis te trek.”

Angstigheid oor die Covid-19-pandemie kan sekerlik trauma veroorsaak, want kinders hoor meer as wat ’n mens dink en voel hul ouers se emosies aan sonder dat hulle noodwendig verstaan wat aangaan.

Daar kan ook iets by die kleuterskool verkeerd wees, sê Esmé, soos dat die kind geboelie word of dat sy onderwyseres ’n moeilike tyd beleef en dus nie soveel geduld soos gewoonlik het nie.

Nuwe veiligheidsmaatreël wat by die skool ingestel is weens die pandemie kan ook veroorsaak dat jou kind nie meer so tuis voel soos vroeër nie.

Soms huil jou kind sommer net om jou te manipuleer, maar as dit ’n patroon word, moet ’n mens daaraan aandag gee omdat dit ’n teken kan wees dat jou kind se gevoel van veiligheid versteur is.

Natuurlik kan hy ook doodgewoon aan skeidingsangs ly, sê Esmé. “Maar skeidingsangs strek wyer as net by die skool. ’n Kind met skeidingsangs is op ander tye ook klouerig en angstig, nie net wanneer jy hom by die skool aflaai nie. ’n Mens moet onderskei tussen skeidingsangs en skoolweiering.”

As jou kind weier om skool toe te gaan, moet jy dus maar verdere ondersoek instel.

“Kyk egter altyd na sy gedragspatroon. Baie kinders wil soms nie kleuterskool toe gaan ná ’n lekker naweek of vakansie nie. As dit net een keer gebeur, hoef ’n mens jou nie te veel te bekommer nie en moet jy dit maar net ferm hanteer. As dit egter ’n patroon word, moet jy werk daarvan maak.”

Dis heeltemal normaal dat ’n kindtekens van skeidingsangs of skoolweiering toon as hy vir die eerste keer kleuterskool toe gaan.

“Gelukkig weet die meeste onderwyseresse hoe om nuwelinge se angs te hanteer, en met die regte hantering behoort die skoolweiering nie langer as twee weke te duur nie,” sê Esmé.

“Maar as dit langer aanhou, is dit ’n goeie plan om hulp te soek.”

Groet reg

Dis hartverskeurend as jou kind huil en aan jou vasklou wanneer julle by die skool kom. Al wat jy eintlik wil doen is om hom vas te hou en saam te huil. Maar dit kan die situasie net vererger. Hoe reageer ’n mens dan?

“So erg as wat dit klink, moet jy maar ferm optree deur jou kind aan die onderwyseres te oorhandig, hom te groet, om te draai en te loop. As jy sloer en hom aanhoudend wil gerusstel, maak jy die probleem erger,” sê Esmé.

“Die meeste onderwyseresse sal ook getuig dat die ma nog nie eens terug in die kar is nie, dan hou Jannie op huil. Los die trooswerk dus maar vir juffrou.”

Een oplossing is om die minder emo­sionele ouer die aflaaiwerk te laat doen, sê Christa Mare, ’n oud-kleuterskoolhoof van Jeffreysbaai.

“Sorg dat die omstandighede die oggend voor skool kalm is. Jou kind kan die vorige aand self sy eie klere en benodigdhede uitsit. Groet hom by die skool op sy vlak (buk dus), gee hom ’n drukkie en verseker hom dat hy later gehaal gaan word. Draai dan om en stap weg sonder om oogkontak te maak of terug te draai.”

Nog ’n kleuterskooljuffrou en ma, Christine de Jager van Rustenburg, sê dis belangrik om jou kleuter van jou liefde te verseker en dat jy hom gaan kom haal, hom dan te oorhandig en om te draai.

“Kinders manipuleer ouers en weet net hoe. As jou kleuter teen die middag dikgehuilde oë het, weet jy hy het heeldag gehuil, maar anders het hy die dag geniet. Gesels met jou kleuter oor die skool en prys sy dae sonder trane.”

Moenie beloftes maak nie soos “ek gaan jou ná slaaptyd/broodjietyd kom haal”.

“Jy weet nie wat die dag inhou nie en wil nie jou kleuter se hart breek nie. Sit eerder tyd in die middag opsy om jou kleuter toe te laat om sy nuwe omgewing vir jou te wys. Dit help hom om meer vertroud daarmee te raak. Vra die juffrou se telefoonnommer en WhatsApp liewer deur die dag om te hoor hoe dit gaan.”

Martie Kruger van Durbanville naby Kaapstad, nog ’n oud-kleuter­skooljuffrou en ma van twee, sê soms huil kinders soggens bloot uit gewoonte.

“As jy bang is jou kind is ongelukkig by die kleuterskool, is dit belangriker om te let op sy optrede wanneer jy hom gaan haal. Lyk hy gelukkig? Gesels hy oor sy dag? As hy steeds huilerig is, skort daar dalk iets – veral as dit gereeld gebeur.”

Moenie te bekommerd wees as jou kind net af en toe ongelukkig is nie; soms is kinders ook maar net in ’n slegte bui.

Ekstra aanmoediging

As jou kind se skoolweiering net ’n geval van manipulasie is, kan ’n sterretjiekaart help dat hy nie onnodig huil nie, sê Esmé.

“Elke keer wanneer jou kind nie ’n keel opsit nie, kry hy ’n sterretjie en ná vyf sterretjies is daar ’n verrassing.”

Sy vind dat dit dikwels ook help as die pa eerder as die ma die kind aflaai, veral as manipulasie betrokke is.

“ ’n Oulike tegniek is ook om vir jou kind briefies of verrassings in sy kosblik te sit. Juffrou moet saamwerk. ’n Mens deel die oggend byvoorbeeld in vier dele: teen negeuur kry hy sy eerste verrassing, teen halfelf sy tweede, teen halftwaalf sy derde en net voor huistoegaantyd nog een.

“ ’n Verrassing kan bestaan uit ’n briefie waarin mamma vertel hoe trots sy op hom is, die volgende een kan ’n lekkertjie wees, dan een met ’n foto van haar, en die volgende ’n briefie waarin sy sê dat hy die middag saam met ouma iets lekkers gaan doen. As dit goed gaan, begin jy die verrassings verminder.

Die verrassings moet nooit groot of duur wees nie – dit kan ’n toffie wees of ’n belofte om iets te doen (soos om ná skool na sy gunsteling-program te kyk), of dit kan ’n pak plakkers wees wat hy in ’n boek kan plak. Dit kan selfs ’n stukkie van ’n legkaart wees – een stukkie elke dag tot die legkaart voltooi is,” sê Esmé.

As niks werk nie

As niks wil werk nie, kan die verkeerde hantering van die situasie dit uiteindelik vererger, waarsku Esmé – veral as daar onderliggende trauma is.

“As daar wel ’n onderliggende probleem is, sal die kind psigoterapie en die ouers leiding moet kry.”

Dan word jou kind gewoonlik gehelp om stelselmatig minder angstig oor jou vertrek te wees omdat jy aanvanklik ’n bietjie by hom bly. As hy rustig is, kan jy buite in die kar gaan sit waar hy jou steeds kan sien.

Sodra dít makliker word, sê jy jy gaan net gou winkel toe om iets te kry, maar jy sal terugkom ... en dan bly jy elke keer bietjie langer weg.

So ’n oplossing is natuurlik nie altyd moontlik nie omdat baie ma’s werk. Die sielkundige sal raad moet gee oor hoe om dit te hanteer – die oplossing verskil van kind tot kind en situasie tot situasie.

Soms is dit beter om jou kind uit die kleuter­skool te haal en in ’n kleiner groepie soos by ’n dagmoeder te plaas. Heelwatouers oorweeg dit deesdae as ’n nuwe opsie.“Dis belangrik dat die sielkundige moet bepaal of jou kind se skoolweiering ’n kwessie van manipulasie is en of daar werklik iets onderliggends pla,” sê Esmé.

En soms werk jou kind se persoonlikheid net nie saam met die opset van die kleuterskool nie, sê Christa.

“Die kleuterskool is dalk te groot en sluk die kleintjie heeltemal in. ’n Verandering van skool kan ’n uitweg wees. Dink egter mooi daaroor en wag drie tot vier weke terwyl jy in noue kontak met die skoolhoof en onderwyseres bly.”

Net ’n kwartier per dag

Wiskundevaardighede kan vroeg al ge­slyp word, maar dis glad nie nodig om ure daar­aan te bestee nie. Smartick is ’n aanlyn EduTech-platform vir kinders vanaf vier jaar oud. Die kleintjies speel op die tablet of rekenaar speletjies wat hul kognitiewe vaardighede ontwikkel, hulle neem deel aan wiskundekompetisies en oefen hul geheue. Ouers kan hul vordering dophou en die skedules daarvolgens aanpas. Die beginsels van kodering word ook met die aktiwiteite vasgelê.

Beproef dit gerus gratis vir twee weke. Daarna kos dit R400 per maand. Vind meer uit by za.smartickmethod.com.


Nog wenke
  • Stuur jou kind saam met ’n ouer boetie of sussie in en moenie self uitklim nie. Beloon jou kind ná skool met iets lekkers wanneer hy so oulik is om saam met ’n boetie of sussie in te stap.
  • Groet baie vinnig, voor die lippie nog kan begin bewe. Maak seker daar is ’n maatjie met wie jou kind kan speel. Baie kinders weier om alleen te wag, maar as daar reeds ’n maatjie of twee is, is dit makliker.
  • Onthou om altyd vir jou kind te sê jy belowe dat jy hom weer sal kom haal.
  • Gesels gerus met die onderwyser en met ’n paar ander ma’s, want hulle weet dalk iets wat jy nie weet nie oor hoekom jou kind nie skool toe wil gaan nie. ’n Bietjie speurwerk help soms om iets uit te vind wat jou kind nie vir jou kan sê nie.
  • Vra die juffrou om jou te laat weet sodra jou kind opgehou huil het. Dikwels is dit sommer binne vyf minute, en dan hoef jy nie vir die res van die dag sleg te voel nie.
  • Probeer om positief te bly. Dis heeltemal normaal dat kinders klouerig word as hulle aan ’n nuwe omgewing blootgestel word. Dink aan jou kind se vrees vir ’n nuwe skool as ’n teken van die sterk band tussen julle.