1. Dis ’n normale deel van grootword

Terugvoer van hul maats is ’n belangrike deel van graadeens se sosiale ontwikkeling en speel ’n groot rol in hul selfbeeldontwikkeling. As die maatjies vir jou kind sê sy is sportief, glo sy dit. As hulle haar om watter rede ook al spot of verwerp, kan haar lewe uitmekaarval. Dis vir haar baie belangrik om aanvaar te word. ’n Graadeentjie leer eintlik baie spesifieke vaardighede in groepsverband. Sy leer deel en om respek te hê vir maatjies se behoeftes, eiendom en andersheid. Sy leer ook om volgens reëls te speel, soms te verloor en soms te wen, en om ander se gewoontes te akkommodeer.


2. Sommige kinders is meer vatbaar 

’n Kind se temperament bepaal hoeveel maatjies sy nodig het. ’n Uitgaande leier­tjie het gewoonlik ’n groot groep maats wat haar spontaan volg. ’n Uitgaande speel-en-kuier-kind sukkel om op haar eie te speel. ’n Skamerige introvert vorm gewoonlik ’n hegte band met een kind. ’n Emosionele introvert het ’n paar maatjies, maar dis
gewoonlik op-en-af verhoudings waar hulle vandag maatjies is en môre nie. Dié temperamente sorg dat sekere kinders meer kwesbaar vir groepdruk is. Speel-en-kuier-kinders hunker byvoorbeeld na maatjies se goedkeuring. Net so sal ’n kind wat hou van pret en plesier haar maklik laat beïnvloed om iets stout aan te vang. Skaam kinders gee toe aan groepdruk omdat hulle verwerping vrees.

Groep­druk kan jou kind aanmoedig om mede­deelsaam te wees en sosiaal meer aanvaarbaar op te tree.


3. Verskeie groepe oefen druk uit

Kinders het in graad 1 al ’n verskeidenheid groepe waaraan hulle blootgestel word en neem hul eie besluite. Daar is gewoonlik ’n positiewe groep wat al die reëls nakom, op die regte plekke speel, hul werkies doen en saamwerk. Dan is daar ’n middelgroep wat soms soet is en soms baklei. En dan is daar ’n groep kinders wat die reëls toets. Dis die kinders wat altyd dopgehou moet word omdat hulle op die verkeerde plekke speel, speelgoed bring wat hulle nie mag nie, soms onderduimse gedrag toon, gesag uitdaag en met baie vindingryke idees vorendag kom wat soms slegte gevolge het. Tipiese gedrag by hierdie groepie is dat hulle vir mekaar se stoutighede lag, vermaak in ander se ongehoorsaamheid vind, mekaar lelike taalgebruik leer en ander kinders koggel.


4. Maatjies word ál belangriker

Sosiale interaksie in graad 1 is ’n mynveld van mededinging en ’n soektog na aanvaarding. Skielik tel Ma se mening minder en Juffrou en die maatjies s’n sommer baie meer, en jou kind begin na haar maatjies kyk om te sien hoe sy moet optree. Die meeste kinders in graad 1 het ’n ver­skeidenheid maatjies en party het ’n beter invloed op hulle as ander.


5. Groepdruk kan positief óf negatief wees

In die media word gewoonlik op negatiewe groepdruk gefokus, maar daar is ’n definitiewe positiewe kant ook waar maatjies jou kind aanmoedig, ondersteun en uitdaag om beter te vaar, meer te lees of aan aktiwiteite soos sport deel te neem.  Groepdruk kan jou kind aanmoedig om mededeelsaam te wees en as geheel meer sosiaal aanvaarbaar op te tree om te voorkom dat die groep haar uitstoot. As die leier van die “bende” oorgehaal kan word om positiewe gedrag uit te leef, kan ’n hele groepie positief omswaai. Sodra die kinders mekaar se swakker gedrag begin na-aap, word dit egter negatiewe groepdruk. Almal lag byvoorbeeld vir ’n maatjie wat sukkel. Hulle word ’n groepie wat gesag uitdaag en nie goed op teregwysing reageer nie.

Getty Images
Getty Images

Vat 5

Vyf dinge wat jy kan doen

Maak staat op ondersteuning. Gesels met die onderwyser by die skool oor wat jou pla en werk saam aan ’n oplossing.

Bou ’n sterk verhouding. ’n Sterk verhouding met jou kind en onvoorwaardelike aanvaarding maak dit vir hom makliker om groepdruk te weerstaan. Gee individuele tyd aan hom waar hy spesiaal en gelief kan voel. Kinders hunker soms na verkeerde vriende weens die onvoorwaardelike aanvaarding wat die groep bied, al is hulle stout. Dit laat hulle voel hulle hoort iewers.

Wees konsekwent. Jou ja moet ja en jou nee nee wees. So leer kinders grense oor wat reg en verkeerd is. 

Gesels gereeld oor groepdruk. Sê vir hom: “Vertel vir Mamma hoe gebeur dit dat jy altyd in die moeilikheid is wanneer jy by Dawie is?” ... “Is dit vir jou lekker om heeltyd in die moeilikheid te wees?” ... “Wat kan ons daaraan doen?” Op dié ouderdom kan kinders gehelp word om regte keuses te maak. Jou kind verras jou dalk en kom self tot die slotsom dat hy in skooltyd liewer nie met Dawie moet speel nie, want dit bring hom in die moeilikheid.

Doen self moeite. Doen moeite om jou kind se vriende en hul ouers te leer ken en stel hom bloot aan maats met goeie waardes. Kinders verstaan nie as ons ’n vriendskap sonder rede verbied nie. Dis beter as hulle self die vaardigheid ontwikkel om verantwoordelike keuses te maak.

Vyf praktiese planne

  • Bespreek scenario’s wat waar­skynlik by die skool gaan opduik en gesels oor hoe ’n mens in so ’n situasie kan reageer.
  • Leer hom om moeilike situasies te vermy deur byvoorbeeld weg te stap, liewer saam met ander maats te gaan speel of ’n ander aktiwiteit voor te stel.
  • Leer hom hoe om nee te sê. Laat hom oefen om die ander persoon in die oë te kyk en dan ferm nee te sê.
  • Leer hom om maatjies te kry wat saam met hom nee sê. 
  • Leer hom dat niemand hom ooit kan dwing om iets te doen wat nie reg is nie. Dit bly sy keuse. 

Vyf redes om bekommerd te wees

Hy doen dinge net omdat hy bang is sy maatjies verwerp hom. Weens groepdruk kan jou kind gedwing word om besluite te neem waarvoor hy emosio­neel nog nie gereed is nie.

Sy gedrag tuis gaan agteruit. ’n Kind wat by die skool negatiewe groepdruk ervaar, sal dit dikwels by die huis ook uitleef. Hy begin dalk vloek, is uitdagend, toon nie meer respek vir eiendom of ander mense nie, of raak afknouerig.

Hy ontwrig die klas. Dikwels ontken die onderwyseres dat daar groepdruk is, maar kla dat jou kind probleme het wat aandag moet geniet. Soms word die ouers ingeroep omdat sy gedrag nie na wense is nie. Tipiese klagtes is “Jou seun ontwrig die klas met sy uitbarstings” of “hy dink dis snaaks om sy maatjie se nuwe potlode te breek”. Jy moet tussen die reëls lees wat aan die gang is.

Jou kind se maats is die “stout” groepie. Ander mense verbind hom met die waardes van daardie groep.

As hy op iets aandring. Jou kind dring daarop aan dat hy iets móét hê omdat “almal” in die klas dit het.