Wenke met woef tuis

akkreditasie
Die gebruik van diereterapeute is gelukkig nie net vir sielkundiges en opgeleide mense beskore nie. Jy kan ook jou eie woef tuis inspan vir aktiwiteite met die kleinspan.

Om in ’n hond se teenwoordigheid te wees en hom te streel het ’n kalmerende uitwerking op kinders. Dit kan veral help met huiswerktyd. Honde skep ‘n “sagte plekkie” vir kinders wat maklik gespanne raak oor skoolwerk.

Bly egter bedag op jou hond se liggaamstaal en hou dadelik op om hom te betrek as hy ongemaklik begin lyk. Gaan so te werk:

  • Skep ’n baie spesifieke roetine vir huiswerk en skuif jou hond se bedjie nader aan waar jou kind besig is. Laat hy die hond streel of sy werk vir Woef voorlees of verduidelik
  • Tref gereeld vergelykings tussen hoe Woef positief reageer wanneer mens vriendelik en beleefd optree eerder as om te skreeu en aggressief te wees. Dit bied kinders ’n voorbeeld van watter alternatiewe uitkoms bereik kan word as jy positief optree.
  • Die FunwithPhoebe-klub (sien funwithphoebe.com) maak onder meer van “Rufus” en “Coco” gebruik om vir kinders regoor die wêreld briewe te skryf en raad te gee oor persoonlike uitdagings. Terselfdertyd word jou kind se fyn motoriese vaardighede ontwikkel en sy of haar verbeelding gestimuleer.
  • Begin ’n tradisie met jou kleuter waarin jy vertel watter avonture jou Woef vandag beleef het en verskuil ’n spesiale boodskap of les in jou storie. Laat Woef saam “vertel” deur deel te wees van die gesprek. Só help voed jy jou kleuter se fantasiewêreld en skep gesinstyd op ’n prettige manier.
  • Ontwerp saam met jou kleuter ’n staproete vir Woef waar julle saam kan rondbaljaar. Dit bied die geleentheid vir kinders om fisies te ontlaai en kweek terselfdertyd gesonde gewoontes. Betrek jou kinders by die versorging van jul troeteldier(e). Laat hulle die hondekos afmeet en weeg, vars water voorsien en seker maak Woef word gebad en geborsel. Dit help kweek verantwoordelikheid.

Onthou:

Met enige hond is dit belangrik om albei partye te leer om saggies te speel met mekaar en in mekaar se geselskap te verkeer. Die beste hond hiervoor is een wat van kleins af gesosialiseer is met kinders en wat gemaklik in hulle teenwoordigheid is, ongeag die ras.

Beloon jou hond wanneer hy kalm en rustig in die kind se teenwoordigheid bly. Sodoende verseker jy dat die hond jou kind met positiewe dinge vereenselwig

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees