10 Reëls vir dissipline

akkreditasie
Met dié slim 10-punt-plan kan jy dissipline doeltreffend toepas, vrede in die huis bewaar en jou kind toerus met vaardighede wat hy eendag baie nodig gaan hê.

1. Wees konsekwent

Jou huisreëls gaan net krag hê as dit deurlopend toegepas word. Wat vandag geld, moet môre ook geld. Dis soms moeite om konsekwent te wees, veral as jy moeg is en nie lus vir baklei nie.

Dan sien jy maar die oortreding oor, want dis net makliker om die vrede te bewaar. Maar as jy konsekwentheid begin toepas, spaar jy jou op die duur baie meer tyd en moeite.

Hoekom werk dit?

Want jou kind weet presies waar jy staan. Hy sal soms nog jou grense toets, maar as jy konsekwent is, laat dit hom gekoester en geborge voel – al sit hy dalk ’n keel op.

2. Kies duidelike grense

Jou kind moet presies weet wat aanvaarbaar is en wat nie. Kies die dinge wat vir jou die belangrikste is en hou daarby. Verduidelik dit op sy vlak aan hom – en hy moet weet dat grense nie saam met jou bui verander nie. Dié reël is veral belangrik vir ’n kind wat graag neul.

Hoekom werk dit?

Grense laat jou kind veilig voel. Hy leer wat jul gesinswaardes is en maak dit deel van homself. Dit help hom om selfdissipline en selfbeheer te ontwikkel. Daarby leer hy ook oor regverdigheid.

3. Gee keuses met gevolge

Jou kind moet leer dat sekere optredes sekere gevolge het. Die minder lekker gevolge word veroorsaak deur sy eie gedrag. Moenie wag tot die swak gedrag kop uitsteek voor jy die gevolge begin verduidelik nie.

Gesels daaroor wanneer julle albei rustig is, en stel jou standpunt duidelik. Byvoorbeeld: As jy vloerstuipe kry, gaan ek my doof hou en jou kamer toe stuur. Jy kan uitkom wanneer jy klaar is. Of: As jy mooi met my praat, luister ek. As jy op my skree of sanik, ignoreer ek jou.

Hoekom werk dit?

Jou kind leer om hom self te dissiplineer en self sy gedrag aan te pas. Hy leer om self verantwoordelikheid vir sy dade te aanvaar.

4. Tref onderskeid

’n Mens moet maar jou woorde tel wanneer jy jou kind berispe, anders kan sy selfbeeld ’n knou kry. Vertel hom wat hy verkeerd gedoen het, hoekom dit verkeerd was en wat nou gaan gebeur – sonder dat dit klink asof die daad deel van sy persoonlikheid is.

Byvoorbeeld: Moet hom nie as ’n onbeskofte monster uitskel as hy sy sussie afknou nie. Verduidelik dat afknou onaanvaarbaar is, dat hy vir sy sussie om verskoning moet vra en as straf alleen in sy kamer moet gaan sit.

Hoekom werk dit?

Hy weet steeds jy’s onvoorwaardelik lief vir hom. Die klem is op sy gedrag en nie op wie hy in wese is nie.

5. Praat sodat hy jou verstaan

Wanneer jy reëls en grense instel, moet jy dit nie in die hitte van die oomblik doen nie. Jy moet die reëls en grense – en die redes daarvoor – rustig aan jou kind kommunikeer op ’n vlak wat vir hom verstaanbaar is. Gee hom ook kans om vrae te vra. Vra hom om dit weer aan jou terug te verduidelik. So sal jy seker wees dat hy verstaan.

Hoekom werk dit?

Kinders oortree dikwels onbewustelik omdat hulle nie die reël verstaan het nie. Dis goed vir jou kind se selfbeeld dat jy hom belangrik genoeg ag om die reël werklik aan hom te verduidelik.

6. Moenie uitstel nie

Om goeie gedrag te versterk en swak gedrag te ontmoedig, moet jy dadelik op die gedrag reageer met ’n gepaste beloning of gepaste straf. Moenie wag tot vanaand nie – dan het jou kind al vergeet wat sy vanoggend verkeerd gedoen het.

Hoekom werk dit?

Kinders het ’n kort geheue en die boodskap wat jy wil tuisbring, is baie meer doeltreffend as jy dit onmiddellik oordra. Jou kind voel ook belangrik: dat sy ’n prioriteit is en nie iets wat altyd vir later moet wag nie.

7. Betrap haar dat sy soet is

Jou kind soek jou goedkeuring, maar weet nie altyd hoe om dit te kry nie. As jy haar prys wanneer sy iets reg doen, sal sy dit beslis weer doen. Positiewe terugvoer kan wondere verrig, veral as jy voel dat jy altyd aan die baklei is. Neem jou voor om ewe veel aandag aan jou kind se goeie gedrag te skenk.

Hoekom werk dit?

Kinders floreer op positiewe terugvoer. Dit laat hulle trots voel as jy raaksien hou oulik hulle is.

8. Hou die toekoms in gedagte

Soms reageer jy vinnig en skerp op iets verkeerds en ander kere sien jy dit oor. Maar dink aan die groter prentjie: Uit alles wat jy doen, leer jou kind iets en bou jy ’n bietjie aan haar as mens. Wat leer sy as jy skel of te moeg is om te dissiplineer?

Hoekom werk dit?

As jy aan dissipline dink as ’n lewenslange proses van opvoeding, sal jou kind jou as meer voorspelbaar aanvaar. Dit skep vertroue en jul verhouding sal blom.

9. Wees realisties

Weet jy wat tipiese gedrag vir ’n eenjarige is? Jy sukkel dalk met dissipline omdat jou verwagtinge onrealisties is. Wees ingelig oor wanneer jou kind wat kan doen en hoe haar breintjie werk en ontwikkel. Dit help nie om grense te stel wat bo jou kind se vermoë is nie. Jy kan nie jou tweejarige straf omdat sy ná ’n uur in die kerk gewriemel het nie.

Hoekom werk dit?

Jy kan baie onnodige onderonsies vermy en ’n rustiger gesinslewe hê as jou verwagtinge realisties is. Jou kind sal kalmer wees en minder gefrustreer deur haar eie (on)vermoë as jy toepaslik op ouderdomsverwante gedrag reageer.

10. Beplan en voorkom

’n Geroetineerde gesinslewe maak dissipline makliker. Kinders se gedrag versleg as hul roetine omvergegooi word en hulle moeg, honger en prikkelbaar word.

Hulle kan dit nie help nie. Hou liewer by ’n roetine, neem iets te ete en te drinke saam as julle uitgaan en beplan jou dinge so dat jou kind haar slapies inkry.

Hoekom werk dit?

Kinders kry minder vloerstuipe as hulle gereeld eet en rus. Met beplanning kan selfs afwyking van die roetine ’n avontuur wees!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees