1. Tree dadelik op

Klein kindertjies het nog ’n baie kort geheuespan. As jy goeie gedrag wil versterk en swak gedrag wil voorkom, moet jy dus dadelik ná die gedrag reageer. Teen vanaand het sy al vergeet wat sy vanoggend aangevang het. Uitlatings soos “wag net tot jou pa vanaand by die huis kom” werp geen vrugte af nie. Teen daardie tyd het die kind al vergeet wat sy verkeerd – of reg – gedoen het. Dis ook nie lekker vir pa om by die huis te kom en mnr. Kwaai te moet wees nie. Sekere optredes – soos wanneer ’n peuter haar eie lewe in gevaar gestel het – moet drasties aangepak word.

2. Wees konsekwent

As jy jou reëls gemaak het, moet jy hulle deurlopend toepas. ’n Reël kan nie een dag geld en die volgende dag nie – dit maak kinders net deurmekaar en dan weet hulle regtig nie wat van hulle verwag word nie. Dis moeilik om konsekwent te wees, want ’n mens is soms moeg en wil jouself ’n bietjie “af” gee deur effens slapper te wees, maar jy pluk vir jou ’n lat… As reëls nie konsekwent toegepas word nie, sal die kleingoed aanhoudend die grense wil toets, wat jou net nog meer gaan uitput. Op die duur verloop sake baie rustiger en kalmer as jy altyd by die reëls hou, veral as dit by straf kom. As jou kind goed weet wat die straf vir ’n oortreding is en dit word konsekwent toegepas, verg dit baie minder emosie van die ouer. Jy hoef nie kwaad te word nie. Wys jou kind daarop dat hy oortree, waarsku, en as hy aanhou, word die voorspelbare straf opgelê. Jy weet wat kom, hy weet wat kom, en niemand skrik vir mekaar nie. As jy konsekwent is, sal die swak gedrag sommer vinnig verbeter.

3. Stel duidelike grense

Maak seker jou kind weet wat is aanvaarbare gedrag en wat nie. Praat gereeld oor die grense, verduidelik hoekom dinge so werk, gee jou kind die geleentheid om vrae te vra… maar moenie onderhandel nie. Jy is die baas van die huis en dit gee jou kind ’n sin van veiligheid, vertroue en regverdigheid om dit te weet. Die motief agter die grense wat jy daarstel, is liefde. Kinders wat nie weet wat van hulle verwag word nie, kan baie angstig raak. Kinders hou nie van onvoorspelbaarheid nie. As jy grense stel, leer jou kind wat jul gesin se waardes is en dit word deel van sy identiteit. Die grense hang ook nie af van jou emosies op ’n bepaalde tydstip nie – die grense is altyd dieselfde. Wraak en woede behoort nooit deel uit te maak van die grense nie – dis nie bedoel om sy lewe te versuur nie, eerder om hom gekoester te laat voel. Ouers wat omgee, stel grense. Ouers wat nie omgee nie, laat sommer alles toe en tree dan impulsief of woedend op as iets hulle kwaad maak.

4. Oorsaak & gevolg

Dit kan ’n rukkie duur voor kleiner kinders hierdie een onder die knie kry, maar aanhouer wen. Binne die grense wat jy stel, is daar keuses van optrede, maar elke keuse het iets tot gevolg. Jou kind kan self kies, maar hy gaan ook self die gevolge van sy keuse moet dra. Hy kan kies om vloerstuipe te kry, maar hy sal geïgnoreer word en in sy kamer moet bly tot hy klaar is. Hy kan kies om daarmee op te hou, en dan kan hy weer by die res van die gesin sit sonder dat julle vir hom kwaad is. Nog ’n voorbeeld: Kinders wat mooi praat, kry hul ouers se aandag. Kinders wat neul en lelik praat, word geïgnoreer. Wees net versigtig: Maak seker die gevolge word direk aan die keuse gekoppel. Dit help nie jy neem sakgeld weg as ’n kind lelik praat of vat vanaand sy poeding af nie. Teen die tyd dat sakgelddag kom, het jou kind lankal die lelik praat vergeet en sal die les nie geleer word nie. Wanneer kinders die gevolge van hul dade voel, leer hulle verantwoordelikheid. Jou kind moet geleidelik leer verstaan dat die gevolge nie die produk is van jou woede nie, maar eerder die produk van sy eie keuse om verkeerd op te tree. Dis ’n groot ding om te leer, en selfs sommige laerskoolkinders sukkel nog daarmee. Hou dus kommunikasiekanale oop en gesels gerus ná ’n voorval (as almal afgekoel het) met jou kind oor wat gebeur het.

5. Praat eenvoudig

Moenie te veel verwag nie. Soms verstaan kinders eenvoudig nie waarom jy bepaalde dinge van hulle verwag of wat hulle verkeerd gedoen het nie. Dis belangrik dat jy in eenvoudige taal en op jou kind se vlak met haar praat sodat sy verstaan wat jy sê en haar gedrag kan aanpas. Gaan sit op jou hurke sodat jy haar in die oë kan kyk. Hou haar gesiggie vas en vra haar of sy verstaan. Laat haar jou woorde of opdrag terugsê om seker te maak sy het verstaan. Jy sal dalk verbaas wees oor hoe sy glad nie jou opdrag gesnap het nie omdat ’n woord of twee dalk bo haar vuurmaakplek was.

6. Dink langtermyn

Besin mooi oor jou reëls en grense. Waar pas dit in die groter prentjie in? Gaan dit jou kind ’n beter mens maak? Wat gaan dit haar leer? Watter waardes probeer jy tuisbring? Hoe gaan dit jou kind laat voel? Probeer eers uitpluis wat jou groter doel met jou kind se grootmaak is en laat die reëls dan daarby pas as dat jy honderde reëls instel wat almal net gespanne maak.

7. Verwerp onaanvaarbare gedrag

As jou kind onaanvaarbaar optree, maak dit duidelik dat jy haar gedrag verwerp, maar nie vir haar nie. So hou jy dissipline opbouend en breek jy nie haar selfbeeld af nie. Jy kan sê: “Jy is my liewe kind, maar daardie lelike woorde gaan nou gestraf word.” Die klem val dus nie op die kind nie, maar op die gedrag. So word die gedrag nie as deel van die persoon gesien nie. Jou kind moet altyd weet dat jou liefde onvoorwaardelik is. Jou kind moet nooit die gevoel kry dat sy jou liefde of aanvaarding moet verdien nie. Waak ook teen lelike etikette; dis maklik om lelike dinge oor jou kind kwyt te raak as sy oortree het, maar dit kan jou kind kwets en haar selfbeeld skaad as jy haar uitkryt.

8. Voorkoming gaan ver

As kleingoed honger, moeg of ongemaklik is, vind hulle dit moeiliker om aanvaarbaar op te tree. Maak voorsiening daarvoor met goeie beplanning. As julle winkel toe gaan, neem iets te ete saam sodat jou kind nie heeltyd kerm dat jy iets moet koop nie. As julle die aand moet uitgaan, sorg dat jou kinders die middag voor die tyd slaap. Goeie beplanning kan jou en jou kind help om baie ongelukkigheid en drama uit te skakel.

9. Nog klein

As dit voel of jy gedurig besig is om te straf want jou kind bly oortree, kan dit wees dat jou verwagtinge dalk onbillik is en jy jou grense bo jou kind se ouderdomsvermoë gestel het. Wees realisties oor wat jy op watter ouderdom van jou kind kan verwag en pas jou dissipline daarby aan. Jy kan byvoorbeeld nie van ’n tweejarige verwag om ’n uur lank doodstil op ’n kerkbank of in ’n restaurant te sit nie, al verduidelik jy die grense en die oorsake en gevolge tot jy potblou is! Hou ook die straf ouderdomstoepaslik, soos ’n minuut uitsittyd vir elke lewensjaar.

10. Fokus op die goeie

Positiewe terugvoer is ’n magtige dissiplinewapen. Feitlik alle kleingoed wil graag hul ouers se goedkeuring hê, hoewel hulle gedurig hul grense sal toets. As jy jou kind prys oor wat sy reg doen, kan jy seker wees sy gaan dit weer probeer doen. Vang haar dus ’n slag dat sy iets reg doen en nie net wanneer sy iets verkeerd doen nie. ’n Positiewe benadering tot dissipline maak dit ook makliker om die goeie dinge in jou kind raak te sien: Jy kan ontdek dat dieselfde kind wat jy gedink het ’n duiweltjie is, eintlik baie engeltjie in haar het. Daar is niks wat vir jou kind so lekker is as jou positiewe aandag nie: Buit dit uit!

Het jy geweet?
Die oorsprong van die woord ‘dissipline’ verwys na ‘om te leer’ en nie na ‘om te straf’ nie.