10 wenke vir peuterlaggies

akkreditasie
Prettige maniere om jou peuter aan die skater te kry.

1. Lawwe lalie

’n Snoesige peuterlyf is ’n mamma se lekkerste speelding en is gewaarborg om ’n oorvloed laggies te ontlok. Snuffel soos ’n hond in sy nek of sommer regoor sy hele lyf, blaas soentjies op sy maag, maak of jy sy tone, vingers en oortjies wil opeet. Kielie sy toontjies of speel kieliekrappie waar die kieliekrappie (jou hand) ál nader kom terwyl die spanning opbou, voor jy skielik nader spring en hom kielie.

Of tel kastig sy ribbes en werk ’n kieliesessie in. (Moet egter nie kieliery oordoen nie.) Gee hom Eskimo-soentjies deur jul neus teen mekaar te vryf. Trek sy voete nader, ruik kastig daaraan en sê dan oordrewe: “Siegapoe! Vrotte voete!” terwyl jy dit kamma weggooi. Dit sal hom laat skaterlag. Ruik dan aan jou eie voete (of aan pappa s’n) en maak of jy wil flou word.

2. Doof soos 'n kwartel

Maak of jy nie mooi kan hoor wat jou peutertjie sê nie. As sy vra vir kos, sê: “Pos? Jy kan mos nie pos eet nie? Dit sal glad nie lekker smaak nie! Is jy seker jy soek nou pos? Kom ons gee liewer vir jou kos!” As sy sê julle moet in die bus ry, sê “ons kan nie in ’n kis ry nie!”

3. Sirkusnar van formaat

Daar is vir jou kleinding niks snaakser as regte verspotte humor nie, wanneer jy doelbewus probeer snaaks wees. Val oor jou eie voete, slaan jou eie kop liggies met ’n speelding en maak asof dit verskriklik seer is deur te skree “Eina! Aaau!” Maak asof jy ’n hond is wat vir hom blaf en dan sy sokkie byt en van sy voet aftrek terwyl jy jou kop woes skud.

Voer lawwe danspassies uit of skud jou hele lyf asof jy die ritteltits het. Sit snaakse hoede op of trek jou gesig. Sit komkommer op jou oë terwyl jy besig is om kos te maak. Doen alles met oorgawe en erg oordrewe. Hy sal dubbel vou van die lag vir jou pogings, al sal jy dalk soos ’n hanswors voel!

4. Verrassing!

Jou peuter is dol oor speletjies met ’n verrassingselement; dis gewaarborg om hom te laat giggel. Steek goed op ongewone plekke weg en lyk dan vreeslik verras om dit daar te sien: “Wat op aarde soek Teddie in die yskas? Hy was seker baie honger!”

Praat met hom in ’n gewone stem en slaan dan skielik oor na ’n snaakse piepstemmetjie waarmee jy allerhande komieklike geluide maak. Vat sy gunstelingbeertjie en praat skielik met hom deur die teddie en hou ’n hele teddiegesprek met hom. Spring onverwags by hom op die bed, of kruip onder sy bed weg en verras hom as hy by die kamer inkom deur speels na sy voete te gryp.

5. Nies, hoes en proes

Enige snaakse liggaamsgeluid sal ’n gelag ontlok, selfs ’n eenvoudige nies. Gooi jou kop sommer lekker ver agteroor terwyl jy oordrewe opbou na ’n nies: “Ha-ha-ha-(pouse)-tiesjoe!”

Maak harde windgeluide op sy magie of elders deur met jou lippe daarop te blaas. Gorrel water agterin jou keel. Blaas jou wange op en laat hy dit platdruk sodat die wind vinnig daaruit ontsnap.

6. Blind soos 'n mol

Soek jou hoed of jou bril, al is dit op jou kop. As sy boontoe wys dat dit op jou kop is, kyk op die na dak en maak of jy dit daar soek terwyl jy woeste bewegings maak. Sê: “O, is my hoed op die dak? Ek sien dit dan nie daar nie!” Soek onder die tafel of agter die kas tot sy lekker lag, en dan ontdek jy dit op jou kop.

Jy kan ook speel sy is onsigbaar, veral as sy iewers in ’n hoekie in ’n vertrek speel. Roep “Waar’s Marie? Waar kruip sy weg?” Selfs al giggel sy, soek jy verwoed die vertrek deur voor jy omtrent oor haar val en dan verras uitroep: “Hier’s sy!”

7. Holderstebolder

Jou kleinding begin nou leer dat daar ’n sekere sin van orde in die wêreld is en sal enigiets wat daarvan afwyk sommer baie snaaks vind. Trek sy broek oor jou kop as ’n hoed, of sit ’n waslap of sy speelgoedeendjie op jou kop.

Probeer sy skoene met moeite (en allerhande byklanke om jou stryd aan te dui) aan jou voete kry voor jy verklaar: “Hoekom wil die skoen dan nou nie aan nie? O gaats! Dis joune! Dis hopeloos te klein vir my!” Trek sy sokkie oor jou oor en maak asof dit ’n spesiale luisterapparaat is, of gebruik ’n piesang as ’n telefoon. Lees ’n boek onderstebo. Drink uit sy bababekertjie. Trek jou hemp agterstevoor aan en maak of jy dit nie agterkom nie.

8. Rympies en liedjies

Maak lawe name op, soos “Klein Katryn drink haar wyn en werk in die tuin”. Sing liedjies wat jou kind goed ken, maar verander die woorde na iets lafs wat nie sin maak nie, soos “baba swartskaap het baie klere”.

Jy kan byvoorbeeld ná elke reëltjie bysing “in die water”, soos “Jan Pierewiet staan stil ... in die water”. Gee die verkeerde klanke vir diere, soos “Kyk hoe miaau daardie katjie ‘woef-woef’ ”.

9. Dans en draai

Sit vrolike, ritmiese musiek op, gryp jou kleinding en dans jul hart uit! Laat haar op jou heup sit en tango dramaties terwyl julle vir julself in die spieël kyk of tol in die rondte en gee wilde spronge terwyl julle ruk en rol. Trek haar tussen jou bene deur en rol haar oor jou rug (nie te wild nie).

10. Gogga maak vir baba bang

Jou peuter sal uit haar magie lag van die opwinding as jy haar jaag en vang. Maak net seker julle speel in ’n veilige omgewing sodat sy nie val en haar kop teen iets kap nie. Kruip om die hoekie weg en vang haar vir ’n lekker kieliesessie as sy om die hoekie kom, kruip agter die bank weg as sy televisie kyk en spring dan met ’n kreet by haar op die bank. Maak of jy slaap (jy kan aansit-snork), en as sy naby jou kom, spring op en jaag haar. Kielie haar as jy haar vang.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees