Daar is niks wat jou meer ontmoedig as wanneer jou peuter sy neus optrek vir die kos wat jy voorsit nie.

Jy doen immers jou bes om gesonde kos te prakseer.

Ons weet almal dat kinders in hul peuterjare gereeld aanvalle van fiemies kry, maar hoe hanteer ’n mens dit?

Een manier is om die slaggate te herken waarin jy kan val en hulle te vermy.

Flater #1: Ons gooi handdoek in

Hoekom nie?

Dis uitputtend om oor elke liewe maaltyd te stry. Dan voel ’n mens soms dat jy die gesonder kos net wil los, maar byt vas!

Jou peuter het klein en meer gereelde peuselhappies nodig. Dit werk goed vir hul klein magies en sorg dat hulle heeldag lank energie het.

Kinders kan die hoeveelheid kos wat hulle eet presies balanseer met hoeveel hulle nodig het as hulle nie gedwing word om alles op hul bord te eet nie.

Oplossing

Voorsien gesonde peusel- happies, want dit voorsien voeding en ook die energie wat jou kind bedags nodig het.

Flater #2: Die porsies wat ons aanbied, is te groot

Hoekom nie?

’n Mens sit instinktief groter porsies voor omdat jy hoop jou peuter sal meer eet, maar dis glad nie ’n goeie idee nie en kan jou kind net nog minder laat eet!

Kinders is klein en hul porsies moet by hul grootte pas. As jou kind ’n te groot porsie voor hom sien, kan dit hom dalk net oorweldig.

’n Goeie reël is een eetlepel per jaar van lewe. Bied voedingryke en voedsame opsies met ete aan.

Skep klein porsies op sodat jou kind jou eerder nog ’n happie vra as hy nog honger is.

Oplossing

Probeer om klein, maar verskillende happies voor te sit. As jy maaltye vir jou peuter in ’n aangename ervaring omskep, sal hy dit begin geniet.

Vermy afleidings soos TV of te veel speelgoed.

Flater #3: Die eetgerei is te veel

Hoekom nie?

’n Lepel kan vir jou ’n groot bron van beheer en troos wees. As jy dit egter te veel gebruik, kan dit jou kind se ontwikkeling kniehalter.

Laat hom toe om hom self te voer, al is dit pynlik om te aanskou. As jy hom toelaat om self te eet, bou jy sy selfvoed-vaardighede en ontwikkel hy onafhanklikheid.

Hand-mond-koördinasie ontwikkel namate ’n kind leer voel, proe en verskillende dinge ervaar.

Laat jou kind toe om sy vingers te gebruik om met sy kos te speel.

Oplossing

Dit kos geduld om beheer toe te laat. Hou soms self ’n lepel vas en gee vir jou kind ook een terwyl jy hom voer.

Flater #4: Daar is te veel opsies

Hoekom nie?

Wanneer jou kind een kossoort afkeur, staan ’n rits ander dikwels gereed.

As jou kind weier om te eet wat jy voorsit, kan jy een ander voedsame opsie aanbied, soos jogurt en vrugte.

As dit ook afgewys word, moet jy ophou. Jou kind sal eet as hy honger is.

Kenners is dit eens dat jy nie ’n groot verskeidenheid maaltydopsies moet berei in die hoop dat meneer Fiemies een daarvan sal eet nie.

Oplossing

Maak seker daar is minstens een ding op die spyskaart wat jou kind sal eet wanneer jy maaltye beplan.

Flater #5: Ons eet nie saam aan tafel nie

Hoekom nie?

Dis ’n algemene fout wat ouers maak en die gevolg is dat jy met ’n bakkie kos agter jou kind aanhardloop om hom sover te kry om te eet.

Etenstyd moet ontspanne en lekker wees, maar dit is ook ’n tyd wanneer hoflikheid, tafelmanier en sosiale vaardighede geleer word.

Oplossing

Sorg dat jy saameet pret maak. Leer jou kind van jongs af om met etenstyd by ’n tafel te eet.

Flater #6: Ons laat hulle baie drink

Hoekom nie?

Kinders kan vinnig versadig raak van vloeistof, veral dié wat ongesond is.

Vermy vrugtesap en koeldrank – dit bevat baie suiker en energie en vervang ander belangrike voedingstowwe in die dieet.

Laat jou kleuter ook uit ’n glas drink.

Oplossing

Leer jou kind van kleins af om water te drink. Dit hou hom deur die dag gehidreer.

Flater #7: Sy moet alles opeet

Hoekom nie?

As kind moes jy miskien al die kos op jou bord geëet het, maar dis nie ’n goeie idee om hierdie tradisie voort te sit nie.

Laat jou kind toe om self te besluit wat sy wil eet en wanneer sy genoeg gehad het, eerder as dat jy daarop aandring dat sy haar bord leeg eet.

Navorsing wys dat kinders wat gedwing word om te eet waarskynlik kosverwante probleme gaan ontwikkel. Probeer jou peuter se kos op ’n prettige wyse aanbied.

Oplossing

Laat jou kind tussen twee maaltydopsies kies. Die kans is groot dat sy gaan eet wat sy self gekies het.

Flater #8: Ons dwing kos af

Hoekom nie?

’n Mens is dikwels lus om daarop aan te dring dat jou peuter die kos eet wat sy weier.

Dis egter ’n slegte idee om haar te dwing om te eet.

Dis omdat dié optrede gewoonlik boemerang, want dit veroorsaak dat kinders kos en etenstyd met ’n bakleiery en angstigheid begin verbind – en dan weier hulle des te meer om te eet, sê kenners.

Oplossing

Haal diep asem en laat dit oorwaai. Jou kind is dalk net besig om vir jou te wys hoe onafhanklik sy is eerder as dat sy ’n punt oor kos probeer maak.

Flater #9: Ons koop om

Hoekom nie?

As jy jou kind met nagereg omkoop, skep jy ’n ongesonde verhouding met kos.

As sy mooi geëet het, kan jy haar eerder beloon met tyd saam met jou, soos ’n uitstappie parkie toe of spesiale tyd wat julle saam deurbring.

Oplossing

Stel ’n goeie voorbeeld deur self gesond te eet en sommer baie positiewe aanmoediging te gee.

Bêre lekkers vir spesiale geleenthede.

Flater #10: Ons bied nie nuwe kossoorte aan nie

Hoekom nie?

Dis makliker om iets te gee wat jy weet jou kind gaan eet, maar dit is ’n groot fout om nie nuwe kossoorte by haar repertoire te voeg nie.

Jou peuter se dieet moet gereeld uitgebrei word. Sy sal nuwe kossoorte dalk eers van die hand wys – om die waarheid te sê, partykeer aanvaar kinders iets nuuts eers ná 10 tot 20 probeerslae.

Aanhouer wen! As jy wil hê jou kind moet ’n verskeidenheid eet, moet jy ’n verskeidenheid aanbied.

Oplossing

Bied net een nuwe kossoort op ’n slag aan. As sy dit weier, kan jy ’n paar dae wag en weer probeer.

Flater #11: Ons eet self ongesond

Hoekom nie?

Jy is jou kind se rolmodel. As jy groente vermy, koeldrank drink en lekkers eet gaan jou kind dieselfde doen.

Sorg dus dat elke lid van die gesin gesond leef en eet, want jou kind volg jou voorbeeld.

Oplossing

As jy nie sonder jou glas koeldrank kan leef nie, drink dit dan waar jou kind jou nie kan sien nie.

Maar dit bly ’n goeie plan om self te doen wat jy graag wil hê jou kind moet doen.