1. Ek eet self

Jou peutertjie se selfvertroue neem vinnig toe en jy hoor ál meer die woordjie “self!” Een van sy eerste treetjies na onafhanklikheid is dat hy daarop aandring om self met ’n lepel te eet, gewoonlik so teen 18 maande oud.

Hoewel ’n peuter die lepel of vurk self wil hanteer (en jy dit ook moet toelaat), het hy steeds iemand nodig wat die lepel doeltreffend met kos kan vul voor hy dit na sy mond bring, sê Madelein Koen, ’n spelterapeut van Rustenburg in Noordwes.

“So verseker jy dat hy wel iets inkry en nie net speel nie. ”Jou peuter is ook nie in staat om self te keer dat die lepeltjie onderstebo draai nie. Hy moet ook nie nét ’n lepel of vurk gebruik nie, maar sy handjies.”

Maak jou maar reg vir ’n gemors, want sy vingers is nog onhandig. Jy sal waarskynlik teen badtyd kos op allerhande vreemde plekke ontdek, soos agter sy ore en tussen sy tone!

Maak die lewe makliker deur koerantpapier of ’n plastiektafeldoek onder sy eetstoeltjie te pak sodat jy makliker kan opruim as die helfte van sy bord kos op die vloer beland.

WENK Maak seker jy neem minstens een foto van jou kleinding waarop sjokoladekoek sy hele gesig versier!

2. Ek stap

Dis die een mylpaal waarvoor alle ouers asem ophou en wat hulle uiteindelik breëbors laat glimlag as die groot oomblik aanbreek: daardie eerste wankelrige treetjies gewoonlik kort ná die eerste verjaardag, wat die peuterjare inlei.

Skielik is hy nie meer ’n babatjie wat vir byna alles van jou afhanklik is nie, maar hy kan self oor die weg kom – en sommer blitsvinnig ook!

Volgens Madelein moet jy jou peuter aanmoedig om sy arms te laat sak wanneer hy stap. Dit sorg dat hy meer stabiel stap en ’n beter balans handhaaf.

WENK Sorg dat jy ’n kamera of videokamera byderhand het om hierdie spesiale oomblik vas te vang. Maak ’n voetafdruk in ’n stukkie sement buite jul huis – dit sal ’n baie spesiale plekkie word!

3. Ek kan klim

Jou kleinding het skaars die wonder van loop baasgeraak of hy ontdek ’n nuwe vaardigheid: klim. Sommer gou sal jy agterkom dat niks meer veilig is met jou waaghals in die omgewing nie – as hy nie teen jou diefwering uitklouter nie, klim hy op jou banke (en val anderkant af) of trek ’n stoel nader en klim op jou kaste.

Hy sal ook waarskynlik leer om op te klim voor hy leer hoe om af te klim, en jy sal hom dus gereeld uit netelige situasies moet red. Jou kleinding leer ook teen 20 maande hoe om trappe met een voet op ’n slag af te klim – ’n reusesprong in sy groot motoriese ontwikkeling.

En teen twee jaar leer hy om met albei voete gelyk te spring, iets wat hy oral beproef. Veiligheid is nou van kardinale belang, want ’n peuter ken nie vrees nie.

WENK Saam met ons volgende uitgawe kry jy ‘n gratis Veiligheid-en-Noodgeval-Gids, vir al die bloukolle.

4. Ek hardloop vinnig

Peuters hou nie van stadig beweeg nie en sodra hy die lopery goed onder die knie het, sal hy sy hardloopvermoë tot die uiterste toets. Dit kan gevaarlik word omdat jou kleinding se kop swaar is in vergelyking met die res van sy lyf, wat hom maklik sy balans kan laat verloor as sy voete nie meer kan byhou nie.

Wees dus gewaarsku dat jou kind waarskynlik meer as een bloukol gaan opdoen. “Moedig jou peutertjie aan om oor oppervlaktes van verskillende teksture te loop. Laat hy oor die sand in die sandput of oor ’n dik kombers op die vloer loop. Dit help om die spiere van sy voete te ontwikkel en maak dit makliker om doeltreffend te hardloop,” sê Madelein.

WENK As hy en sy hondjie ál hardlopende op die gras baljaar en jil van plesier, is dit pure vreugde! Bêre hierdie herinneringe in jou onthoubottel. 

Getty Images
Getty Images

5. Ek teken self

Jou kleinding se fyn motoriese vaardighede verbeter in die peuterjare met rasse skrede. Teen omtrent 18 maande sal hy met ’n kryt op papier begin krabbel.

Hy sal die kryt waarskynlik nog met sy hele vuis vashou, maar teen drie sal hy ’n dik kryt in ’n normale skryfposisie kan hou en al sirkels met strepies deur kan teken terwyl hy in alle erns vir jou vertel dis ’n prentjie van homself.

Wees gewaarsku: Nou is die tyd dat jou mure as skilderdoek gebruik gaan word!

WENK Raam sy eerste tekening van homself met ’n datum by. Doen dit elke ses maande en kyk hoe hy vorder.

6. Ek soek ’n grootmensbed

As jou peuter eers ontdek het hoe om te klim, is sy kot nie meer veilig nie en is dit tyd vir die groot trek van kot na bed. Dis ’n mylpaal waarvoor jy dalk hare op jou tande nodig sal hê, want dis veel moeiliker om hom in sy eie bed te hou as in sy kot.

Belê gerus in ’n mooi duvet om sy nuwe slaapplek vir hom spesiaal te maak. Madelein se raad is dat jy by die gewone slaaptydroetine hou, al slaap hy nie meer in sy kot nie.

“Dit gaan dalk nodig wees om die eerste paar aande by hom te sit tot hy aan die slaap raak. Later kan jy voorstel dat jy gou die ketel gaan aansit of die wasgoed gaan ophang en dat jy binne twee minute weer ’n draai sal maak.”

Nog ’n moontlikheid is dat jou peuter op ’n matrassie voor jul bed slaap.

WENK Al ooit gesien hoe jou peuter uit sy bed sluip om by julle te kom inkruip, net om halfpad van sy bed af weer aan die slaap te raak in die vreemdste posisie? Lê dit vas!

7. Ek is klaar met doeke

Meer as twee jaar lank was doeke koop deel van jou maandelikse begroting en die doeksak altyd reg en gepak – en dan is dit skielik nie meer nodig nie.

Nie alle peuters is ewe gou gereed vir potjielesse nie, maar die meeste raak dit iewers tussen hul tweede en derde verjaardag baas. Moenie haastig word nie en laat jou deur jou kind lei om dié groot mylpaal te bereik.

Pasop om te vroeg met potjielesse te begin, waarsku Madelein wel. As jou kind nog nie gereed is nie, gaan die proses baie langer duur as wat nodig is. Jou kind kan ook die potjie met negatiewe gevoelens begin verbind.

Jy sal dalk lag oor jou eie opgewondenheid wanneer daardie eerste pieps in die potjie val, maar dis ’n groot stap vooruit vir jou peuter!

WENK Potjielesse in die somer is groot pret as jou kleinding kaalbas in die tuin rondhardloop om te probeer agterkom hoe die storie nou eintlik werk. So nie, laat hy hom met ’n boek op die toilet tuismaak. Moet ook nie van belonings en beloningskaarte vergeet nie, is Madelein se raad. “Dis ’n wonderlike manier om jou peuter tot potjie-sukses aan te moedig.”

Getty Images

8. Ek is klaar met my foppie

Jy het waarskynlik al begin dink jou kleinding gaan eendag voor die kansel staan met sy bababottel of foppie in die mond, maar dan verras hy jou eendag deur self sy bottel weg te gooi of sy foppie vir die kat te gee.

Of dalk het hy ’n bietjie meer aanmoediging nodig om van sy gunsteling-troosvoorwerp ontslae te raak. Hoe dit ook al sy, nou is die tyd dat jou kind afskeid neem van sy bottels en soos ’n groot kind uit ’n bekertjie begin drink.

WENK Julle kan ’n spesiale ritueel daarvan maak om sy bottel of foppie weg te gee aan ’n baba wat dit nodiger het.

9. Ek trek self aan

Iewers ná 18 maande sal jou kleinding daarop begin aandring om self aan te trek. Sy sal waarskynlik eers leer hoe om haar self uit te trek (en dan jillend kaalbas deur die huis hardloop) voor sy teen omtrent drie jaar self kan aantrek.

Die eindresultaat kan krom en skeef wees. “Prys haar oor die uitrusting wat sy bymekaargesit het, al voel dit julle kan nie die huis so verlaat nie,” sê Madelein.

WENK Jy kan dit makliker maak deur klere te verskaf wat maklik aangetrek word, soos broeke met rekke, T-hemde en skoene met velcrobande. Jy sal steeds hier en daar ’n handjie moet bysit. Madelein se wenk is dat jy ’n sleutelring vasmaak aan ritssluiters wat moeilik werk sodat klein vingertjies dit makliker op en af kan trek.

10. Ek het ’n maatjie

Jou peuter is ’n sosiale wesentjie. Tog speel sy eers net langs haar maatjies pleks van met hulle. Maar teen so twee jaar sal sy ál meer interaktief met maatjies begin speel.

Madelein sê dat jy jou kind verál nou moet dophou, want op hierdie ouderdom vestig kinders graag dominansie deur te stoot of te slaan, wat tot ongelukkigheid kan lei.

Dis ook iewers tussen twee en drie dat jou peuter die wonder van fantasiespel ontdek en in haar eie verbeeldingswêreld wegraak waar haar teddiebeer kan praat of haar motorfietsie haar na Kabouterland kan wegvoer.

WENK Luister gerus af terwyl jou kleinding (en haar maatjies) speel. Dis kosbaar! Kyk ook of jy dit ongemerk op jou videokamera kan vasvang.

Getty Images

11. Ek kan praat

Teen ’n jaar oud kan jou kleinding al enkele woordjies kwytraak, maar in die peuterjare begin haar woordeskat werklik ontluik en ná haar tweede verjaardag groei dit vinnig tot tweewoordsinnetjies.

Kinders het op 21 maande ’n woordeskat van 50 tot 80 woorde. Nou breek die tyd van oulike sêgoed aan! Maak jou egter ook maar reg vir frustrasie as sy sukkel om haar uit te druk.

Moenie jou kind korrigeer as sy ’n opgemaakte woord gebruik nie. Maak dit duidelik dat jy verstaan waarna sy verwys en reageer dan met die korrekte weergawe van die woord in ’n sin.

Wanneer sy byvoorbeeld na haar bottel wys en sê: “tel”, kan jy reageer met: “Ja, dit is jou bottel. Jy drink uit jou bottel”, sê Madelein.

WENK Skryf elke skattige sêding neer. Dis so kosbaar en jy sal dit so altyd onthou.

12. Ek slaap minder

Iewers in die tweede lewensjaar maak die meeste peutertjies die sprong van twee dagslapies na een. Dis ’n aanpassingstyd, aangesien jou kleinding dikwels moeg en knorrig raak as sy net een keer slaap, maar ook nie meer twee slaapsessies nodig het nie.

Wees daarop ingestel om dit te wissel na gelang van behoefte. As jou kleinding teen die einde van ’n oggend oormoeg begin word, kan jy middagete vroeër gee en haar langer in die middag laat slaap.

WENK Moegheid kan jou peuter soms op die mees onwaarskynlikste oomblik oorval, wat vir skreeusnaakse fotogeleenthede kan sorg. Kiek jou kleinding as sy oor haar bord kos aan die slaap raak, of al sittend terwyl sy nog besig was om met iets te speel.