15 wenke vir fyn motoriese vaardigheid

akkreditasie
Volg hierdie wenke om jou peuter die regte opleiding te gee.

1. Laat haar oefen om ’n sirkel akkuraat te teken. Jy kan dan ogies, ’n neus en mond byvoeg.

2. Laat haar groot vorms met dik vetkryt inkleur. So leer sy sommer ook die name van kleure en vorms.

3. Laat haar verskillende teksture knip, soos koerantpapier, toiletpapier en foelie. Kies ’n stomppuntskêrtjie. As sy nog met knip sukkel, kan jy haar met net die punt van die skêr fraiings laat knip.

4. Teken met stokke, vere en strooitjies in die sand. Bak modderkoekies.

5. Laat sy ’n wekker of ’n opwenspeelding opwen.

6. Laat sy wasgoed met pennetjies vasmaak. As jul lyn te hoog is, span ’n toutjie tussen stoele en laat sy haar popklere ophang.

7. Skaf ’n swartbord op ’n esel aan en laat sy staan en met kryt daarop teken.

8. Laat sy staan en die vensters was.

9. Sing liedjies en laat sy met haar vingers sterretjies op die maat van die musiek skiet.

10. Laat sy haar hand plat op die tafel sit en kyk of sy die vingers een-een kan optel.

11. Kyk of sy ’n hele blad koerantpapier met een hand kan opfrommel.

12. Laat sy ’n los skroef met haar vingers vasdraai.

13. Vorm en rol groot kleiballe met die handpalms, en vorm en rol klein ertjie-grootte balletjies met die vingerpunte. Maak dan slangetjies en rol die slangetjies op.

14. Laat sy met ’n medisynedrupper speel en ’n kunswerk maak deur gekleurde water daarmee op te suig en op papier te drup.

15. Laat haar probeer om tandestokkies met ’n haartangetjie op te tel. Gee ’n beloning as sy dit regkry.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees