"Aantrek!"

akkreditasie
Een ma vertel van die oggend-aantrek sessies met 'n kreatiewe dogterjie en hardkoppig seuntjie!

Toe ek weer die naweek verby ’n vrou stap wat ons oopmond aangaap besluit ek: miskien moet ek dit neerskryf. Vir al die mense wat nie 5-jarige prinsessies met boheemse modegiere het nie... Sien die saak staan só.

Vir die afgelope 2 en ’n half jaar is daar soggens ’n ritueel in ons huis wat geheel en al gedikteer word deur my sprankelende 5-jarige dogter, salig onbewus van al die reaksie wat haar voorkeure van kleur en kombinasie uitlok.

Dit begin gewoonlik só:

Ek: "Skattebol, gaan trek vir jou klere aan toe". Ek sien die eerste tekens, blink ogies, afwagting en verbeelding wat reeds sy eie rigting inslaan.

Sy: "Warm of koud mamma?".

My antwoord hang natuurlik geheel en al af van die weer maar nou, in die winter, is dit natuurlik meestal : "Warm".

In my dogter se geval is die antwoord gewoonlik nie ’n struikelblok nie. Daardie eer behoort aan my seun, wild en impulsief, wat glad nie die sin van skoene of enige klere behalwe ’n kortbroek en T-hemp insien nie. Nee wat, skoene, onderbroeke, truie, kouse en langbroeke is iets wat vir hom geheel en al oorbodig is. Dit, natuurlik alles tot my afgryse wanneer ek bibberend elke oggend die ’Oorlog van Mount Aantrek’ aanpak.

Wanneer dit by ’n keuse van uitrusting kom het my dogter ’n wil so sterk dit laat Robert Mugabe na ’n slapende babahondjie lyk.

My eerste gedagte is dat sy eintlik sou verkies om heeldag sonder klere rond te loop. Sy's nog onskuldig genoeg om te dink dat dit bevrydend is en nie gepla deur die onvolmaaktheid van ’n naakte liggaam nie. Maar gelukkig hou sy genoeg van dinge wat pienk en blink is, dat die feit dat sy wel iets moet dra nie te veel oorreding kos nie. Dit is die ’wat’ wat meer problematies is.

Glo my, ek het al probeer. Subtiel probeer rigting aanwys oor wat sy moet dra en selfs gedreig en gesmeek. Soms selfs amper die verbode woorde (reël deur myself opgelê): "Wat gaan die mense sê?", geuiter maar gelukkig betyds genoeg op my tong gebyt. Het myself belowe ek sal my kinders so lank moontlik probeer kwytskeld van die bekommernis (of dalk eerder die beslommernis) oor wat ’die mense’ nou eintlik dink.

Uiteindelik het ek tot die slotsom gekom dat dit baie minder moeite, onsteltenis, opondhoud en trane is om haar eerder te laat begaan. So het ek al talle interessante uitrustings ’beleef’. Ja, mens ’beleef’ hierdie skeppings, jy sien hulle nie net nie. Daar is groot beplanning, redenasie en kontemplasie oor elke laag van die dag se spesifieke kombinasie.

En nou moet ek seker eers verduidelik dat elke uitrusting uit verskeie ’lae’ bestaan. Dit blyk ook dat die lae groei soos die maande verby gaan. Ek bid steeds dat dit iewers ’n versadigingspunt sal bereik.

My eerste blootstelling aan díe hardkoppigheid was toe sy omtrent so twee en ’n half was. Die dag toe sy daarop aandring (sagkens gestel) om haar flennie winterpajamahemp saam met die onderste helfte van haar swembroek (die soort met ’n klein rompie dankie tog!) en haar reënstewels aan te trek vir ons maandelikse inkopiesessie.

Daarby moes sy natuurlik ook haar eie grimering aansit en haar hare vasmaak in twee poniesterte. Dit het ’n paar uiteenlopende reaksies uitgelok. ’n Kopskud van die kinderloses, ’n paar vingers is gewys (meestal meisies in hul vroeë tienerjare), ’n verbaasde giggel van die meisie wat ons inkopies inpak en darem ook ’n paar simpatieke glimlagte van medevegters met soortgelyke klein wesentjies.

Wat kon ek doen? Ek het maar my skouers opgetrek en geglimlag vir die wat verbaas toegekyk het.

Net die ander dag was daar die ’skok-jou-wakker-met-kleur-uitrusting’. Ek beskryf dit so goed ek kan: helderblou sonrok met ’n skokpienk langmou t-hemp onderaan (dis immers winter). ’n Ligpienk net-rompie onder die blou rok sodat dit kan uitsteek en uitbol as sy ’draai’ (sien alles het ’n goeie rede), ’n skelgroen langbroek met uitklokpype en wit blommetjies om die koue van die bene af te keer, kouse met feetjies op en somersandale met vlinders.

Dank ons liewe vader dat die meisies nie grimering mag skool toe dra nie want dit sou beslis iemand ’n naar kol op die maag gegee het.

Daar is natuurlik ook die kwessie van die blommemeisie-rok. Gelukkig was ek helder genoeg van verstand om van die begin af die reël te maak dat díe pragtige rok net kerk toe gedra mag word (dit sal andersins vuil word). Die wit spookasem rokkie is enige 5-jarige se droom maar kan ook ontaard in ’n nuwe skepping met pienk reenstewels en jassie om te ’match’. Die veelkleurige winterskouse en bruidsluier-en-kroon (wat ’n verjaarsdagpersent was) daarby sit natuurlik die kersie op die koek.

’n Ander gunsteling is die helderpienk sykouse met rooi hartjies en silwer kruisies wat my niggie wat in Spanje woon vir haar gestuur het. Saam met ’n ligter pienk romp, wit skoene, ’n bont poncho en pienk en silwer t-hemp was dit nogal ’n aardige uitrusting vir kerk op ’n Sondagoggend. Sy het ook besluit dat die speel-grimering wat sy die vorige dag gekoop het ’n wonderlike aanwins vir die skepping sal wees.

Hier moet ek ook uitbrei oor die ’Groot Trek’. Sussie moet altyd iets saamneem as ons ry. Haar baba, dié se waentjie en doeksak. Klere ingeval sy mors, ’n tassie vol goeters wat nie eers name het nie en ’n teddie. Dit moet als eers in die kar gepak word en by die kerk word die hele kaboedel met moeite gestoot tot by ons sitplek in die kerk. Soms moet die ’baba’ se drastoeltjie en eetgoed ook saam.

Dit is ’n groeiende monster. Ek staan deesdae ’n halfuur vroeer op om tyd op te maak vir die inpak en uitpak-sessie. Asof die hele kleurskema en klerekombinasie debakel nie genoeg is om my senuwees tot breekpunt te dryf nie is daar natuurlik ook my seunskind om aan te dink. Hy het geen probleem om aan te trek wat ek kies nie, inteendeel hy verkies dit so (behalwe natuurlik vir die skoene, kouse en wintersdrag soos ek vroeer verduidelik het).

Dit is net om die dekselse klere aan sy lyf te kry wat ’n hele oggend neem.

"Zane, trek aan jou klere." Geen reaksie.

"Zane trek asseblief nou jou klere aan" Hy trek die helfte van sy nagklere uit en sy aandag word eers weer afgetrek deur ’n stukkie wol wat hy MOET probeer aftrek van die mat af.

"Zane, is jy al aangetrek?" Daar gaan die pajamabroek. As ek weer daar kom is die skoolbroek darem al aan.

"Zane, het jy jou onderbroek aan?" Kwaai kyk volg.

"Ja, Mamma!" Giggel. "Nee eintlik het ek nie." Giggel.

"Nou trek hom ASSEBLIEF aan." Uit is die broek, onderbroek aan en, skoolbroek weer bo-oor. Dankie tog, die hemp is ook al aan.

"Zane, maak vas jou knope en druk jou broek se sakke binne-in." Dié hang soos twee swart tonge aan weerskante van sy heupe uit. "En trek jou skoene en kouse en jou baadjie aan."

Sug. "Mamma ek wil nie ’n baadjie aantrek nie, ek kry nie koud nie!" Dis 12 grade buite.

"Zane, trek aan jou baadjie, jy gaan siek word!" Ek's nou al naby breekpunt.

"Maar Maaaamaaaa..." Hou jou in.

"Niks ge’maar’ nie, jy gaan siek word as jy so uitgaan!" Uiteindelik is die baadjie ook aan nadat ’n kompromie bereik is dat dit nie toegerits sal word nie. Nou nog die skoene.

"Ek wil nie skoene aantrek nie, dit maak my seer." Here, help my asseblief (my smeekgebed).

"Zane trek net aan jou skoene!" Die skoene kom wel aan maar sonder kouse.

Ek het nie die krag om nog daaroor te stry nie en so gaan ons maar skool toe. Wie weet in elk geval hoe lank hulle aan die voete bly? Dat ’n ding wat eintlik net 10 minute behoort te vat ’n hele uur kan neem is seker vir meeste mense onverstaanbaar maar ek weet dit is heeltemal, totaal en al prakties moontlik.

En julle wonder hoekom ek soms uitgeput by die werk aankom... So juffrou, as my kind sonder sokkies by die skool aankom is dit nie omdat ek nie omgee of omdat hy nie het nie. Daar is inderdaad ’n hele kas vol. En aan al die tannies by die supermark wat wonder hoe ek my kind so in die publiek kan loslaat: ek hoop my kind sal hierdie kreatiwiteit van haar eendag op ’n bruikbare manier kan uitleef as ek haar nou laat begaan.

So leef ek en geniet selfs die verrassings elke oggend. Wie weet watter nuwe uitvindsel daar more gaan wees?

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees