As vloerstuipe jou die aapstuipe gee

akkreditasie
Vloerstuipe, vloermoere, tantrums... enige ma van 'n 2-jarige sal presies weet watter horries dit mens kan gee. Hier's 'n blitsgids om te oorleef.

Dis ’n toneeltjie wat jy maar alte goed ken: Jou kleuter is verveeld, moeg, knorrig en maak gereed om die moeder van alle vloermoere te gooi terwyl jy in die winkeltou/restaurant/wagkamer ’n plek soek om jou kop in te druk. Jy weet klaar die mense om jou gaan dink jy’s ’n heeltemal onbevoegde ouer ... Vloerstuipe is helaas nie iets wat ’n mens heeltemal kan voorkom nie, maar daar is gelukkig baie wat jy kan doen om dit te beperk en te beheer.

As ma van twee kleintjies kan jy my niks vertel van vloerstuipe nie. Pas ná my tweede kind se geboorte neem ek my oudste ná skool winkel toe. Hy was baie moeg en ons was skaars in die winkel, toe gooi hy al ’n vloermoer.

Asof dit nie erg genoeg was nie, kom ’n mamma na my toe en sê: “Gee hom pak, dis al wat werk.”
Terwyl ek nog wonder hoe om vir haar te vertel ek weet dit werk nié, voeg sy ewe by: “En ek sien daar’s nog een op pad!” Ek het haar aangegluur en my woorde gesluk voor ek ook die stuipe kry.
As ons grootmense soms so gefrustreerd raak dat ons goed wil rondgooi, hoe moeilik moet dit nie vir kinders wees om hulself te beheer wanneer hul geduld opraak nie? Hier’s raad.

Hoekom kry kinders vloerstuipe?

Vloerstuipe is ’n normale deel van ’n kind se ontwikkeling. Dis moeilik vir kleintjies om selfbeheersing toe te pas en hulle weet nie wat om met hul emosies aan te vang nie. Hulle het ook dikwels nie die woordeskat om hul gevoelens uit te druk nie. Dus skree, skop en slaan hulle wanneer hulle gefrustreerd, kwaad en teleurgesteld is.

Daar broei ’n storm...

’n Mens kan nie altyd vloerstuipe keer nie, maar daar is dinge wat jy kan doen om te sorg dat dit nie te gereeld gebeur nie:

  • Moenie jou kind winkel toe vat as sy moeg of honger is nie
  • Vloermoere is dikwels ’n manier van aandag soek. Maak dus seker dat jou kind genoeg positiewe aandag kry.
  • Berei jou kind lank genoeg voor die tyd voor as daar ’n verandering in sy lewe gaan wees.
  • Hou die omgewing rustig.
  • Hou jou kind besig, veral in winkels. Verveeldheid lei dikwels tot vloerstuipe.
  • Beplan vooruit en probeer om nie te lang uitstappies aan te pak of jou kind te lank ná haar slaaptyd wakker te hou nie.
  • Probeer by jul daaglikse roetine hou sodat jou kind weet wat om te verwag.
  • Moedig haar aan om woorde te gebruik om haar gevoelens uit te druk.

Die storm het losgebars!

Die manier waarop jy vloerstuipe hanteer, hang af van die rede vir die uitbarsting. Hier volg ’n paar redes en hoe jy daarop kan reageer:

Jou kind gooi ’n vloermoer om jou te manipuleer

Hanteer dit so:

Wanneer jou kind haar wil aan jou wil opdwing, is die beste plan om haar te ignoreer. Erken haar emosie deur byvoorbeeld te sê: “Ek sien jy is kwaad, maar die lekkertjies is nou op.” As sy aanhou skree, ignoreer haar tot sy ophou. Jy kan in dieselfde kamer bly; moet net nie vir haar kyk nie. Lees ’n boek of doen iets sodat sy kan sien jy gee nie aandag aan haar nie. Onthou, ’n vloermoer werk gewoonlik net as iemand vir jou kyk!

Veiligheidswenk: As jy besluit om die vertrek te verlaat, maak eers seker dat daar niks is wat jou kind tydens haar vloermoer kan seermaak nie. Jy kan ook nie vloerstuipe ignoreer as jou kind iemand anders seermaak of gevaarlike goed rondgooi nie.

Jou kind gooi ’n vloermoer want sy is gefrustreerd

Hanteer dit so:

’n Frustrasie-vloermoer moet met empatie hanteer word. Help jou kleintjie wanneer jy sien sy is gefrustreerd met ’n taak. So wys jy haar dat haar emosies belangrik is en dat jy daar is om te help. Moedig haar ook aan om vir jou te probeer sê wat sy wil hê.

Jou kind gooi ’n vloermoer en lyk of sy haarself gaan seermaak

Hanteer dit so:

Hou jou kind styf vas tot sy bedaar. Terwyl jy haar vashou, kan jy iets sê soos: “Jy is kwaad, maar jy het beheer verloor. Ek hou jou vas, want ek is lief vir jou.” Gewoonlik sal jou kind ná ’n paar minute bedaar.

Jou kind hou aan skree al ignoreer jy haar en al hou jy haar vas

Hanteer dit so:

Verwyder haar uit die situasie wat haar kwaad maak en gee haar uitsittyd (’n minuut vir elke jaar).

Stilte ná die storm

Wanneer jou kleinding eindelik bedaar het, kan jy weer beklemtoon dat daar niks daarmee verkeerd is om kwaad te wees nie, maar dat julle nou praat oor wat gebeur het en wat julle kan doen om te keer dat sy weer so kwaad word. Onthou om vir haar water te gee om te drink; al die geskree maak ’n mens dors.

Jou vloermoergids in ’n neutedop

Dinge wat jy glad nie moet doen nie:

  • Moenie kwaad word of afgryse toon nie.
  • Moenie ingee nie, anders leer jou kind vloermoere werk en hou sy net daarmee aan.
  • Moenie probeer om met jou kind te redeneer tydens ’n uitbarsting nie.
  • Moenie met straf dreig nie, anders kan jou kind dalk haar woede en frustrasie probeer inhou en dis nie gesond nie.
  • Moenie jou kind vergoed as sy opgehou het met die vloermoer nie.

Wat jy moet doen:

  • Bly kalm en moenie skree nie.
  • Noem jou kind se emosie in ag. Sê byvoorbeeld: “Ek sien jy is kwaad” of “Ek sien jy is gefrustreerd.”
  • Laat die vloermoer homself uitwoed.
  • Maak seker dat jou kind haarself nie kan seermaak nie. As jy bang is daarvoor, hou haar vas.
  • Moet beslis nie jou kind pak gee nie!
  • Kies jou gevegte! Wanneer jy reëls neerlê, besluit wat werklik belangrik is, soos byvoorbeeld: Jou kind móét in haar karstoeltjie sit, maar dis nie die moeite werd om haar ’n vloermoer te laat gooi omdat jy vir haar die rooi hemp wil aantrek en sy eintlik die pienke wil dra nie.

Laastens maar die minste nie: Moenie dit persoonlik opneem as jou kleinding ontplof nie. Daar is niks met haar verkeerd nie en jy is nie ’n slegte ouer nie! Vloerstuipe is normaal en deel van grootword.

Vloerstuipe en ouer kinders

Hoewel ouer kinders minder vloerstuipe kry, gebeur dit tog soms, veral as jou kind agterkom dat sy haar wil aan ander kan opdwing.

So hanteer jy ’n ouer kind se vloermoer:

  • Gee haar duidelik boodskappe oor wat jy verwag. Verduidelik wat sy nie mag doen nie en hoekom nie.
  • Wees ’n voorbeeld. Jou kind gaan jou gedrag naboots.
  • Moenie ingee as sy in woede uitbars nie.
  • Hanteer die vloermoere net soos met ’n kleiner kind. Wees egter versigtig vir die vasdrukmetode, want jou kind is nou groot genoeg om jou te kan seermaak!
  • Rus jou ouer kind toe met alternatiewe om van haar frustrasie ontslae te help raak, soos om in haar kussing te skree wanner sy gefrustreerd is.
  • Gee haar die geleentheid om baie aktief te wees. Dit help ook om van ontwrigtende emosies ontslae te raak.

As jou ouer kind uit die bloute weer vloerstuipe kry, kan jy gerus seker maak dat daar nie dalk iets met haar gebeur het wat haar ontstel het nie.

En as Mamma haar geduld verloor?

Hoewel ’n mens dikwels lus is om saam met jou kind ’n vloermoer te gooi, is dit baie belangrik dat jy kalm bly. Jou kind het klaar beheer verloor en dis nodig dat mamma beheer behou.

As julle op ’n openbare plek is, dra jou kind kalm na ’n private plek soos ’n badkamer of jou kar waar sy kan bedaar. As jy nie self kalm kan bly nie en voel jy verloor elke keer beheer, moet jy professionele raad inwin omdat jy jou kind dalk sielkundig kan seermaak.

Baie dankie aan Maryna Edwards, ’n kliniese sielkundige van Pretoria, vir haar hulp met dié artikel. Bel Maryna gerus by 012-361-7448.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees