Beweeg en leer

akkreditasie
Beweging speel in die eerste 3 jaar van jou kind se lewe 'n deurslaggewende rol in sy ontwikkeling.

In die eerste lewensjare is een van die sleutels tot jou baba se breinontwikkeling sy beweging. Dit oefen sy sintuie, leer hom om beheer oor sy lyfie te kry en help hom om die wêreld te verken.

Die teenoorgestelde kan ook gebeur: ’n Gebrek aan beweging kan lei tot ’n breinontwikkelings- agterstand. Hoe kan jy agterkom of jou baba se brein na wense ontwikkel?

Vertraagde breinontwikkeling

Die verskillende stadiums van motoriese ontwikkeling soos sit, kruip en loop is ’n aanduiding van hoe jou baba se brein ontwikkel. Môre se verstandelike sukses word gebou op vandag se balans, postuur
en koördinasie.

As beweging nie na wense plaasvind nie, bly die ontwikkeling van liggaam en brein agter, sê Amy Goodlace, ’n spesialis in breinontwikkeling verbonde aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Neuro Fisiologiese Sielkunde. Dié instituut spits hom daarop toe om kinders en volwassenes met spesifieke
leer-, koördinasie en gedragsprobleme te help deur navorsing te doen en inligting en opleiding oor vertraagde breinontwikkeling te verskaf.

“Vertraagde breinontwikkeling vind plaas as ’n bepaalde stadium van vroeë ontwikkeling vertraag word of nie plaasvind nie,” sê Amy. Elke normale voltermynbaba beskik in die eerste lewensjaar oor ’n aantal primitiewe of oorlewingsreflekse wat deur sekere dele van die brein beheer of onderdruk word. As dié reflekse nie op die regte tyd onderdruk word nie, kan dit later inmeng met die ontwikkeling van balans, motoriese beheer, oogfunksie, oog-hand-koördinasie en waarnemingsvaardighede.

Vertraagde breinontwikkeling beïnvloed kinders se leervermoë en sosiale gedrag en lei tot emosionele probleme, sê Amy.

Oorsake van vertraagde breinontwikkeling

Vertraagde breinontwikkeling word nie deur ’n enkele faktor veroorsaak nie, sê Amy. Gewoonlik lei ’n kombinasie van ontwikkelings- en omgewingsfaktore daartoe dat primitiewe reflekse voortduur.

Swangerskap

Vertraagde breinontwikkeling kan tydens swangerskap geskied weens:

  • Oormatige drank- of dwelmgebruik;
  • ’n Onvoldoende of te klein plasenta;
  • Bestraling;
  • Rook;
  • ’n Ongeluk of infeksie;
  • Vergiftiging;
  • Ernstige siekte
  • Hewige stres;
  • ’n Dreigende miskraam;
  • ’n Kwaai virusinfeksie in die eerste 12 weke of tussen week 26 en 30;
  • Hoë bloeddruk; en
  • Onbeheerde of onbehandelde diabetes.

Geboorte

Geboorte-oorsake van vertraagde breinontwikkeling sluit in:

  • Fetale nood;
  • Vroeë geboorte (meer as twee weke te vroeg);
  • Laat geboorte (meer as twee weke te laat);
  • ’n Te hoë verlostang;
  • ’n Suierverlossing;
  • ’n Bevalling wat te lank duur of te gou verby is;
  • As die koord om die nek gewikkel is;
  • Placenta praevia (wanneer die plasenta te na aan die serviks is of die serviks bedek);
  • Keisersnee; en
  • Stuitligging.

Pasgebore stadium

Pasgeborenes kan vertraagde breinontwikkeling opdoen weens:

  • Wanvorming van die skedel;
  • ’n Harde kneusing;
  • Langdurige geelsug;
  • Voedingsprobleme in die eerste ses maande;
  • Lae geboortegewig (minder as 2,2 kg)
  • Bybringing wat genoodsaak is omdat baba sy bewussyn verloor het;
  • Verblyf in die broeikas; en
  • ’n Suurstoftekort.

Help jou baba beweeg

Gee jou baba die geleentheid om soveel as moontlik te beweeg. Een van ’n baba se eerste maniere van
kommunikeer is deur te beweeg, sê Amy Goodlace, ’n breinontwikkelingspesialis by die SA Instituut vir
Neurofi siologiese Sielkunde.

Dinge wat beweging inperk, is die gebrek aan ’n voldoende en veilige ruimte en ’n doek of klere wat te styf of te los sit. Jou baba moet vry wees om te kan beweeg en veilig voel.

  • Sit jou baba gereeld op sy maag neer op ’n veilige oppervlak sodat hy kan leer beweeg. (Moet hom net nie so laat slaap nie.)
  • Sit of kniel op die vloer voor hom en roep hom sodat hy nader kom.
  • Hou sy handjies vas en trek hom op sodat hy op jou skoot staan.
  • Sit ’n kussing of handdoek onder sy bors sodat hy meer van sy omgewing kan sien en met sy hande teen die vloer kan druk.
  • Laat jou baba op jou knie of voet “perdjie ry” terwyl jy sy handjies vas hou.
  • Speelgoed wat hy kan stoot of trek sal hom aanmoedig om te beweeg.
  • Speel saam met sagte balle om hom aan te moedig om te beweeg.
  • Interaksie met ander babas, kleuters, kinders en troeteldiere bevorder ook beweging.

Die ontwikkelingsspesialis dr. Melodie de Jager sê hoe meer motoriese bewegings jou baba uitvoer, hoe
meer word sy sintuie gestimuleer en daardeur verbreed sy kennis van die wêreld.

Hoe beweging help

Een van ’n baba se eerste skynbaar onbeheerde bewegings is om sy koppie te draai om te suig. Met die hulp van sulke bewegings leer hy mettertyd om beheerde bewegings uit te voer. Net babas wat onwillekeurige reflekse (soos hul koppie draai om te drink) suksesvol met beheerde bewegings
vervang, kan met die wêreld om hulle begin kennis maak.

Eers wanneer baba geleer het om om te rol begin hy werklik sy omgewing verken en ontdek. Teen drie en ’n half jaar oud behoort ’n baba se primitiewe reflekse deur posturale reflekse vervang te wees.

Posturale reflekse help met balans, koördinasie en postuur. Daarsonder kan ’n baba nie leer loop nie.
Deur te beweeg leer kinders belangrike waarnemingsvaardighede en konsepte soos “binne”, “buite”,
“bo-op” en “onder”.

Beweging stimuleer die ontwikkeling van babas se sintuie. ’n Baba wat kruip voel verskillende teksture en materiale. Babas wat goed beweeg leer vinniger om onafhanklik te wees en met ander te speel en te kommunikeer.

Navorsing wys dat babas wat flink beweeg vinniger leer praat en ook ’n beter taalvermoë het. ’n Baba se vermoë om dinge bewustelik te onthou ontwikkel op dieselfde tyd as wat hy begin loop.

Simptome van vertraagde breinontwikkeling

Baba, peuter en kleuter

  • Simptome van vertraagde breinontwikkeling tydens die vroeë kinderjare sluit in:
  • As baba laat begin praat en of loop (ná 18 maande);
  • As hy ná vyf jaar oud steeds bed natmaak;
  • Ernstige allergiese reaksies;
  • ’n Geskiedenis van herhaaldelike oor-, neus- en keelinfeksies;
  • Siektes in die eerste 18 maande wat hoë koors, ylkoors of stuiptrekkings veroorsaak;
  • As hy sukkel om aan te trek;
  • ’n hewige reaksie op inentings; en
  • As hy tot ná vyf jaar oud nog duim suig.

Ouer kind

  • Jou kind sukkel om ’n pen reg vas te hou.
  • Hy sukkel met fiets ry.
  • Hy word ná puberteit maklik naar as hy op ’n boot, motor of in ’n vliegtuig ry.
  • Hy sukkel om stil te sit of stil te bly.
  • Hy leer moeilik lees en skryf.
  • Hy sukkel om gewone skrif onder die knie te kry.
  • Liggaamsopvoedingsklasse en sport is moeilik.
  • Hy sukkel om ’n gewone horlosie te lees.
  • Hy leer moeilik swem.
  • Sy hand-oog-koördinasie is swak.
  • Hy het spraak- en uitspraakprobleme.
  • Hy’s angstig.

Dié lys sluit nie alle simptome in nie, maar as jy vermoed dat jou kind se brein nie na wense ontwikkel nie, moet jy so gou moontlik ’n spesialis raadpleeg, sê Amy.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees