Créche-sindroom

akkreditasie
Baie ma's met kinders in 'n dagsorgsentrum boer meer as 'n jaar lank in die doktor se spreekkamer. Hoekom word babas en jong kinders so siek by 'n créche? En kan julle iets doen om al die kwale te keer? 

Die meeste werkende ouers het geen ander keuse as om hul babatjie van drie of vier maande by ’n dagsorgsentrum of crèche te laat nie.

Hierdie kindertjies loop almal die gevaar om herhaaldelik deur infeksies platgetrek te word. Navorsing wys baie crèche-kleuters leef in siklusse van twee weke gesond, twee weke siek. Studies toon dat hulle gemiddeld agt tot 12 infeksies of siektes per jaar opdoen. Sommige dokters noem dit sommer die crèche-sindroom. Voor jy egter te bekommerd raak, wil ons jou gerusstel dat dit taamlik algemeen is. Maar wees gewaarsku, dit slaan veral in die winter toe. Hier is hoe julle jul kleinding kan beskerm.

Hoe ontstaan dit?

Soos enige plek waar ’n klomp kinders bymekaar is, is ’n crèche ’n verspreidingsgebied vir baie bakterieë en virusse. Jou kind se kwesbare immuniteitstelsel is dus baie meer onder druk by ’n crèche as wat dit tuis sou wees of by ’n kleiner dagmoeder-opset.

En omdat babas se immuniteitstelsel nog aan die ontwikkel is (hulle het byvoorbeeld nie meer die beskerming van hul ma se teenliggame nie en het nog nie genoeg van hul eie opgebou nie), is hul liggaam meer vatbaar vir kieme en bakterieë waarteen hulle later in hul lewe bestand sal wees.

Dit is ’n feit dat kinders tussen ses maande en twee jaar se natuurlike weerstand op sy laagste is.

Simptome vs. Oorsake 

Een van die grootste gevare met die behandeling van crèche-sindroom is dat ouers en dokters dikwels net die simptome en nie die oorsake behandel nie.

Daar word dikwels ook te maklik antibiotika voorgeskryf om jou baba te help om van die infeksie ontslae te raak. Hoewel antibiotika in baie gevalle die enigste uitweg is, is dit soms nie die regte medisyne nie, soos in die geval van virale infeksies. Antibiotika maak slegs spesifieke bakterieë dood.

Nog ’n probleem met die gedurige gebruik van antibiotika is dat die bakterieë teen die middel weerstandig raak sodat die middel later nie meer daarteen help nie.

Wat eintlik behandel moet word is jou kind se nog onvolwasse immuniteitstelsel. Maar hoe doen jy dit?

Eet die regte kos 

’n Immuunstelsel wat kan veg wanneer vyandige kieme hom aanval, begin by ’n gesonde dieet. En híér, sê dieetkundiges, is dit ewe belangrik om die verkeerde kosse te vermy as om die regte kosse in te kry.

Dieetkundiges se raad is dat julle groen, oranje en geel kies. Dit is nou groente soos broccoli, wortels en pampoen. Maar soos die meeste ma’s weet is dit makliker gesê as gedaan. As jy weet jou kind kry nie genoeg kleurryke groente in nie, is dit belangrik dat julle die vitamiene en minerale wat in hierdie gesonde kosse te kry is, aanvul.

Aanvullings is egter ’n slagveld op sy eie. Lees in die kassies heel regs en heel onder hoe om ’n goeie aanvulling te kies.

Higiëne in die créche

Sekere kieme soos verkouekieme versprei maklik, veral as daar nie goeie higiëne gehandhaaf word nie. Die griepvirus versprei ook maklik deur direkte aanraking soos wanneer siekes uit dieselfde beker drink of as die kieme iewers op ’n speelding of tafeloppervlak agterbly. Kieme kan letterlik ure lank op ’n voorwerp bly. Stel dus vas of daar gereeld by die crèche met ontsmettingsmiddels skoongemaak word. Hou die personeel en ouer kinders by goeie handewas-roetines?

Bepaal ook of die ventilasie goed is. Vertrekke wat te warm en bedompig is, is ’n teelaarde vir kieme. Goeie lugvloei en genoeg lig is twee van die belangrikste riglyne vir crèches wat deur die nasionalevereniging vir die opvoeding van jong kinders saamgestel is.

Wanneer jy aanvullings koop

Vitamiene en minerale 

Die multivitamiene met die oulike prentjies op is nie noodwendig die beste een vir jou kind nie. Kenners sê jy moet liewer een kies wat al die B-vitamiene (soos B1, B2, B6, foliensuur en B12) bevat, asook vitamiene A en E en ’n bietjie C, en van die belangrike minerale soos chroom, sink en yster.

Dit is ook wys om vas te stel hoeveel suiker by ’n multivitamien gevoeg word om die koubare pilletjie meer aanvaarbaar vir kinders te maak. Koop liefs ook een wat geen kleur- of preserveermiddels bevat nie. Kinderlyfies het dit nie nodig nie.

Probiotika 

Nie alle probiotika help met immuniteit nie. Kies produkte wat ’n kombinasie van Lactobacillus Plantarum HEAL 9 en Lactobacillus Paracasei 8700:20 bevat. En as dit vir jou Grieks is, vra ’n apteker of ’n dokter daarna. Dit is belangrik dat jy die regte soort koop. Onversoete jogurt is ook ’n goeie bron van probiotika, mits daar op die houer aangedui word wat die probiotiese telling is – nie alle produkte wat aandui dat dit lewendige probiotika bevat, bevat genoeg daarvan nie. Dieetkundiges beveel veral probiotika in poeier vorm wat in melk opgelos kan word, vir kleintjies aan.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees