Dring deur

akkreditasie
Thinkstock
Is jy al moeg vir die klank van jou eie stem omdat jy alles moet herhaal? Maak só seker jou peuter hoor jou die eerste keer.

Oë luister ook

As jy oogkontak maak, sal jou kind jou hoor. Gaan sit op jou hurke voor hom sodat julle op dieselfde hoogte is en mekaar reg in die oë kan kyk. Moenie dan met ’n lang storie wegtrek nie; gee jou opdrag in kort, maklike sinne wat hy kan volg. As hy ook ’n groot behoefte het om iets belangriks aan jou oor te dra, doen dieselfde. Gaan sit en kyk hom stip in die oë. So weet hy dat jy werklik luister.

Sê min

Peuters luister baie selektief. Hoe meer jy aframmel, hoe minder gaan hy waarskynlik hoor. Hou jou boodskap bondig – een sin as dit kan.

Eers dit, dan dat

Jy kan gerus maar bietjie onderhandel om sy samewerking te kry. Hy’s darem nie meer ’n baba nie. ’n Wortel voor die neus is ook meer aangenaam as om net die heeltyd stok te gee. Sê gerus dus “as jy klaar tandjies borsel, kan ons nog ’n storie lees.” Dit skep ’n aangenamer en meer positiewe atmosfeer as dreigemente.

Gee redes

Moenie jou kind onderskat nie. As jy wil hê hy moet leer dink, moet jy dit aanmoedig. Verduidelik dus soms vir hom hoekom dinge werk soos dit werk. Sy insig oor die saak sal jou dalk verras ook. ’n Kalm verduideliking bly beter as ’n histeriese geskree.

Fluister 

As jy onverwags optree, kan dit jou kind se aandag ook onverwags trek. Probeer hierdie een: Hoe harder hy skree en raas, hoe sagter praat jy. Fluister later, en net dalkies hou hy op skree omdat hy wil hoor wat jy sê.

Onthou jou a's en d's

Dit staan vir “asseblief” en “dankie”. As jy wil hê jou kind moet eendag hoflik wees, moet jy self hoflik wees – nie net met ander nie, maar ook met hom. Onthou jou maniere en behandel hom met respek en liefde.

Skree klaar

Jy hou nie van skree nie, en hy hou nie van skree nie. Probeer dus om dit nie te doen nie, want dis in elk geval nie besonder effektief nie. Jy is die rolmodel en leermeester. As jy dag in en dag uit op hom skree, moet jy nie verbaas wees as hy ook op jou begin skree nie – dis dan wat jy hom geleer het!

Skep asem

As gemoedere hoogloop, is dit ’n goeie plan om asem te skep voor jy met ’n gesprek voortgaan. Laat almal eers afkoel. Wanneer jy en jou kind rustiger is, kan julle weer probeer om tot ’n vergelyk te kom. Loop weg as hy nie ’n kalm gesprek kan voer nie en gee hom later kans om sy saak te stel.

Herhaal maar

Hy is nog nie groot nie, en dis normaal dat hy nie alles verstaan wat jy probeer oordra nie. Wees geduldig, en herhaal maar sonder om jou humeur te verloor. Hy vergeet ook maklik. As jy sien hy’s aan die oortree, herinner hom aan die reël en waarsku voor jy inspring. So kry hy kans om self te kies om soet te wees.

Bly waardig 

Moenie met ander oor hom praat waar hy jou kan hoor nie. Dis vir baie kleintjies ’n groot verleentheid. Respekteer sy menswaardigheid en privaatheid.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees