Einstein in die bad

akkreditasie
Maak badtyd pret met hierdie slim speletjies

Selfmoord-uur? Moenie glo nie! Die paar minute wat jou baba saans in dié berugte tydgleuf in die bad deurbring, kan groot pret vir julle albei wees. Sy daaglikse bad kan boonop meer as net sy lyfie laat blink. Hieronder is ’n paar plesierige badspeletjies en -aktiwiteite wat ook vir ’n blink brein sal help sorg.

Die badkamer is die ideale klaskamer want hier is jou baba in ’n ontspanne luim, maar steeds gefokus. Dis ook die ideale tyd vir aanraking, wat die tassin van kleiner babas help ontwikkel omdat dit een van die min geleenthede is wanneer baba kaal is. Hou egter altyd in gedagte dat die laatmiddagbadsessie die begin van jou baba se slaaptydroetine is, so hou alles kalm nadat hy gebad het.

Swem, Jannie, swem

Jy kan jou baba van so jonk as 3 maande in die bad laat “swem”. Laat hom “rugslag” swem deur sy kop en boudjies te ondersteun of hou jou hand onder sy ken en magie en laat hom heen en weer in die bad beweeg.

Díé aksies sal sy motoriese ontwikkeling aanhelp terwyl die rustige gesjoesj van die water hom sal kalmeer.

Jy kan jou baba ook in en uit die water te lig, maar hou in gedagte dat hy sal bibber as hy langer buite as binne die water is.

Bring ’n beker

Span ’n ou kombuisbeker – plastiek of emalje – in en gebruik dit in die bad om water te skep en weer uit te gooi. Jou baba sal sy eie badwaterval baie geniet. Hou sy hande onder die lopende water sodat hy dit kan voel, of giet die water oor sy magie. Hy sal hou van dié sensasies wat sy tassin stimuleer.

Hy sal later self met die beker wil skink. Dís weer ’n uitstekende oefening om sy skouerspiere te ontwikkel. Hou die beker egter klein en lig sodat hy dit maklik kan hanteer.

Nog ’n badspeelding uit die kombuis is ’n sif. Jou baba sal baie daarvan hou om te ontdek hoe water deur ’n sif sypel.

Skuim, seepbelle en skeerroom

Watter beter plek as die bad is daar om jou baba bekend te stel aan wolke van skuim en stringe seepbelle?

Hou badskuim in jou hande en blaas dit in sy gesiggie of bring seepbelle bad toe en blaas dit op sy ooghoogte. Aanvanklik sal hy die seepbelle net dophou tot dit in die niet verdwyn, wat daardie oogspiertjies lekker sal laat werk. Later sal hy die seepbelle wil vang en só sy armspiere behoorlik rek en strek.

Dit is ook ’n goeie plan om pappa se skeerroom (met sy toestemming, natuurlik!) in te span. Spuit dit teen die bad se rand of op die teëls teen die muur en laat jou baba daaraan vat om sy tassin te stimuleer.

Badskuim wat lekker ruik – soos laventel- of kamille-produkte – sal sy reuksin ontwikkel en hom kalmeer.

Badspeelgoed kan ook wegkruipertjie speel in die skuim – steek vir Petrus Padda of Mamma Eend in die skuim weg en vra jou baba om hulle te soek. Dít help hom om ’n sin vir voorwerp-permanensie te ontwikkel. Hierdie speletjie is gepas teen so 9 maande oud, want dis eers dan dat baba begin verstaan dat goed buite sy sig wel bestaan.

Let wel: Skuimbaddens is sleg vir kinders met ekseem-velletjies, want dit kan dié toestand vererger. Dit kan ook meisietjies se genitale area irriteer en aanleiding gee tot urienweg-infeksies. Probeer ook om die seep uit jou kleinding se oë (en mond!) te hou. As jou kind ’n skuimbad geniet en nie een van dié probleme het nie, speel voort!

Wat is ’n bad sonder ’n eendgesin?

Jou baba se eerste dieregeluid hoef nie woef te wees nie. Dit kan ook kwaak wees – veral as ’n mamma-eend en haar kroos van vroeg af saam met hom bad. Jy kan ook die eendjies gebruik om ’n liedjie soos Eendjies Eendjies Stap in ’n Ry te demonstreer.

Jou baba sal daarvan hou om badspeelgoed wat wegdryf en weer nader dryf, dop te hou. Dít help om sy oogspiere te ontwikkel.

Getekstureerde plastiek-badspeelgoed soos gladde eendelyfies, glibberige seekatte en stekelrige visse sal ook sy tassin stimuleer.

Later kan jy belangrike begrippe soos swaar en lig demonstreer met sekere speelgoed wat sink en ander wat dryf. Of maak die ingenieur in hom wakker met ’n waterwiel.

Kweek ’n boekwurm in die bad

Plastiek-badboekies is volop en groot pret vir babas. So leer hulle nie net om lief te word vir boeke nie, maar konsentreer ook ’n bietjie in ’n kalmerende omgewing.

Onthou egter om hierdie boekies altyd ná badtyd af te droog om te keer dat dit muf word.

Bad-graffiti

Met kleurryke badkryte, wat taamlik algemeen by babaspeelgoedwinkels beskikbaar is, kan jou baba op die badrande of op sy lyfie teken. Jy kan ook self met die kryt teken en vertel. Die kryt was maklik af.

As jy teken, stimuleer jy sy gesig-sintuig en as hy teken, is dit sy fyn motoriese ontwikkeling wat ’n hupstoot kry.

B staan vir bad

Hoewel jou baba nog veels te jonk vir die ABC is, kan sponsbadletters lekker speelgoed wees. Dié bonkige sponsletters – wat ook by die meeste babaspeelgoedwinkels te koop is - is net reg vir daai vet vingertjies om aan te vat en sal ook sy fyn motoriese ontwikkeling aanhelp.

Spring self in

Jy hoef nie hoog en droog te sit terwyl jou baba bad nie. Spring self in en bad saam. Vir ’n klein babatjie sal hierdie intieme oomblik en vel-teen-vel kontak wonderlik wees. Hou hom op jou skoot vas en kombineer badtyd met ’n massering.

(Hier is ’n praktiese wenk as jy alleen is met badtyd: Voer sy karstoeltjie met ’n handdoek uit en sit dit langs die bad. Klim eerste in en tel dan jou baba uit sy stoeltjie. Sit hom weer in die stoeltjie wanneer julle klaar gebad het.)

Saam bad sal ook vir jou ouer baba groot pret wees en hom soos ’n groot seun laat voel, veral as hy lekker stewig tussen jou bene sit en jou in die oë kan kyk.

Maak ’n diepseeduikertjie groot

’n Ou duikbril is ’n lekker badspeelding vir ouer babas. As jy ’n paar keer vir hom gewys het waar ’n duikbril hoort, sal hy gou self leer om die bril voor sy oë te hou. Skaf ’n paar plastiekvissies aan vir die bodem van die bad (seedierplakkers op die bodem sal ook werk) sodat hy hom oop-oë kan verwonder aan die onderwaterwêreld. Só stimuleer jy sy gesig-sintuig.

Vrye teuels

Koop vir jou baba sy eie spons of waslap waarmee hy homself kan was. (Probeer om verskillende teksture te koop, want dis goed vir die ontwikkelling van sy tassin.) Moet egter nie deeglike waswerk verwag nie, maar gebruik dié geleentheid om hom te leer van sy nekkie, arms, elmboë, magie, bene, voete en tone. Vra hom om die verskillende liggaamsdele self te was.

Jy kan ook daai vuil troosspeelding saam met jou ouer baba in die bad gooi. Laat jou baba jou dan help om dit skoon te kry.

Leer van kleur

Koop badprodukte wat die water kleur om jou baba bloot te stel aan verskillende kleure. Peuters kan later self kies in watter kleur hulle wil bad, of julle kan die dag van die week aan ’n kleur koppel.

Bronne:
• Koester jou baba deur Megan Faure en Ann Richardson (Metz Press)
• www.bbc.co.uk
• Onderhoude met ervare ma’s

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees