Gooi daai taal

akkreditasie
Moedig taalontwikkeling by jou kind aan met ons ekspert wenke.

Nog voor jou japsnoet die eerste lewenslig aanskou, word die grondslag al gelê sodat sy ’n taal kan aanleer en eendag haar gedagtes, idees en emosies met die mense om haar kan deel en suksesvol kan wees. Soos sy grootword, word hierdie vaardigheid verfyn tot sy met selfvertroue kan kommunikeer en verhoudings kan bou. Met die wenke in dié artikel kan jy jou kind se taalvermoë van vroeg af laat blom en haar help om selfs meer as een taal baas te raak.

Dis verstommend: Een dag kan jou kind nog skaars praat, en ’n paar maande later wil sy nie stilbly nie! Op agttien maande ken die gemiddelde kind sowat twintig woorde, maar teen drie jaar oud spog sy reeds met ’n woordeskat van ’n duisend. In net meer as ’n jaar leer sy dus meer as negehonderd nuwe woorde.

Veral die eerste 3 jaar is belangrik vir kommunikasievaardighede omdat jou kind se brein dan so geweldig vinnig ontwikkel. ’n Kind het meer as 50 000 senupaadjies wat klanke van ’n menslike stem van die ore na die brein dra. Die brein herorganiseer dan as’t ware sy breinselle in verbindings of netwerke om taal te vorm. Maar as ’n kind min of geen taal hoor nie wag die brein verniet, en sal hierdie selle uiteindelik dié funksie verloor en ander funksies kry.

Ouers se rol in taalontwikkeling is dus van kardinale belang. Interessant genoeg pas ons instinktief by ons kinders se taalbehoeftes aan. Die hoë, sangerige stem waarin ons dikwels koer wanneer ons met baba praat, maak dit byvoorbeeld makliker vir baba om taal aan te leer omdat die klanke oordryf word.

Frances Slabber van die Suid-Afrikaanse Spraak-, Taal- en Gehoor-assosiasie (SASLHA) sê elke baba word gebore met die potensiaal om te kommunikeer en taal aan te leer. Sy beklemton egter dat ’n kind se taalontwikkeling baie afhanklik is van die stimulasie wat hy uit sy omgewing kry.
Sy onderskei tussen spraak, taal, gehoor en ouditiewe prosessering – alles dinge wat ’n rol speel in suksesvolle kommunikasie.

Spraak verwys na die fisieke oordrag van woorde vanaf die spreker na die luisteraar. Dit behels die vorming van klank met behulp van die tong, lippe, verhemelte en tande, asook met die stem wat geproduseer word deur die vibrasie van stembande. Spraak hou ook verband met hoe vlot woorde, klanke en frases gesê word.

Taal, daarenteen, verwys na ’n reeks georganiseerde simbole wat gebruik word om gedagtes en gevoelens te kommunikeer. Daar word onderskei tussen reseptiewe taal (wat jou kind verstaan) en ekspressiewe taal (die woorde, sinne en gedagtes wat sy kan weergee).

Jou kleinding se gehoor gaan oor die fisieke waarneming en identifisering van klank, terwyl ouditiewe prosessering verwys na die vermoë van jou kind se brein om te interpreteer wat sy gehoor het.

“Die sukses van suksesvolle spraak-, taal- en ouditiewe ontwikkeling hang baie af van ’n taalryke omgewing met baie stimulasie van almal in die omgewing,” sê Frances. “Meer klem moet op die ontwikkeling van luistergedrag geplaas word, want wie hoor, kan luister en wie luister, kan leer.”

Taalontwikkeling, jaar vir jaar

0–12 maande

Navorsing wys dat babas in die baarmoeder al hul ma se taal begin “aanleer” en dat die boustene vir grammatika, sinsbou en selfs die korrekte uitspraak dan al gelê word.

As jou pasgebore babatjie in jou arms lê, kan sy dalk nog nie praat nie, maar sy kan al met jou kommunikeer, hoofsaaklik deur te huil. Sy sal baie belangstelling toon in jou gesigsuitdrukkings, bekende stemme herken en reageer op harde geluide. As jy met haar praat, sal sy haar tongetjie in en uit stoot en haar lippies beweeg asof sy wil saamgesels.

Teen drie maande sal sy begin geselsgeluidjies maak en al meer met klankies eksperimenteer. Sy sal jou ook “antwoord” as jy met haar gesels en geluidjies maak net om jou aandag te kry.
Die beste ding wat jy vir jou baba se taalontwikkeling kan doen is om soveel moontlik met haar te gesels en vir haar te vertel wat jy doen. Moenie bang wees om jou instinkte te volg en in ’n “ander” stem met haar te praat nie.

Vanaf ses maande kry baba se klankies stembuigings by. Sy reageer op haar eie naam en op verskillende stemme, al kan sy die nie persoon sien nie. Sy sal glimlag vir ’n vriendelike stem of begin huil wanneer sy ’n kwaai stem hoor.

Jy kan nou reeds vir jou kind begin boekies lees, Kies dié met net een prentjie op ’n bladsy. Gesels baie met haar en gee haar kans om jou te “antwoord”. Sing vir haar en prys haar as sy “praat”.
Die groot oomblik het aangebreek! Teen twaalf maande sal jou baba haar eerste woordjies betekenisvol gebruik. Sy verstaan egter al baie meer, onder meer eenvoudige vragies soos “Waar is die liggie?” Sy sal groot plesier daaruit put om verskillende stembuigingspatrone te oefen en begin haar spraak vir sosiale doeleindes gebruik. Sy kom ook agter dat sy situasies met spraak kan manipuleer.

Gesels steeds baie met haar, lees boekies, speel speletjies waar jy haar liggaamsdele benoem en sing aksieliedjies soos Wielie-wielie-walie. As sy na iets wys, benoem dit. Hoe meer sy woorde hoor, hoe makliker sal sy dit onthou.

1–2 jaar

Jou agttien maande oue kleinding is ’n regte klein papegaaitjie wat alles herhaal wat sy hoor. Sy het ’n woordeskat van vyf tot twintig, maar is ook gek daaroor om kamma-gesprekke te voer met die regte infleksie sodat dit nes ’n volwasse gesprek klink – luister maar hoe sy oor die telefoon gesels! Sy kan eenvoudige opdragte volg soos “Gee vir mamma die bekertjie”.

Lees saam boekies. Kyk saam na prentjies en gesels oor wat julle sien. As sy iets sê, brei daarop uit: As sy sê “sappies”, sê: “Soek jy sappies?” Neem haar op uitstappies sodat sy ’n woordeskat vir die wêreld daarbuite kan opbou.

Twee jaar is ’n opwindende jaar vir jou kind se taalontwikkeling en jy sal lekker lag vir wat sy kwytraak. Iewers rondom twee vind ’n taalontploffing plaas en kort voor lank spog jou peutertjie met ’n woordeskat van 150 tot 300 woorde. Sy kan verskeie voorwerpe benoem en sal woorde in kort sinne kombineer, soos “baba sit” en “daar mamma”. Sy begin voornaamwoorde soos “ek” en “myne” gebruik, en gebruik al twee voorsetsels soos “op” of “in”. Sy sal reageer op instruksies soos “Wys my jou ogies”.

Brei jou kind se sinnetjies uit. As sy sê “Baba sit”, sê jy: “Baba sit mooi soet.” Praat liewer grootmenstaal as babataal. Sing saam, sê lawwe rympies op en speel woordspeletjies soos Duimpie en Duimpie se maatjie.

3–5 jaar

Jou driejarige se spraak is nou al grotendeels verstaanbaar. Sy spog met ’n woordeskat van sowat duisend woorde en gebruik al meer voornaamwoorde korrek, sowel as sommige meervoude. Sy ken minstens drie voorsetsels, gebruik werkwoorde al meer algemeen en kan al drie-woord-sinnetjies begin maak. Sy sal graag vir jou haar naam sê en weet gewoonlik van watter geslag sy is. Sy kan ook vir jou vertel hoe oud sy is en ken die algemeenste liggaamsdele.

Ruim elke dag ’n spesiale tydjie in met jou kleinding waar julle gesels oor alles wat die dag gebeur het. Jy kan stories oor en oor vertel, jou kind sal nie moeg raak daarvoor nie. Gee haar geleentheid vir verbeeldingspel en gesels oor kleure, vorms en wanneer wat gebeur.

Teen vier jaar oud sal jou kind al die name vanbekende diere soos ’n leeu, kat, padda ken. Sy sal graag verbeeldingspeletjies speel en bekende voorwerpe in prenteboeke en tydskrifte uitwys en benoem. Sy begin al begrippe soos “oor” en “onder” verstaan en gebruik sowat vier voorsetsels. Sy kan al minder konkrete opdragte begin volg en herhaal woorde, sinne en klanke nou makliker en meer gereeld.

Gee jou kind geleentheid om haar luistervaardighede te gebruik. Blaai saam deur tydskrifte en boekies en bespreek wat julle sien. Leer haar liedjies en rympies. Gesels oor die dae van die week, dinge wat reeds verby is en dinge wat nog moet gebeur.

Jou vyfjarige se spraak behoort heeltemal verstaanbaar te wees. Haar taal word al meer beskrywend, sy begin langer sinne gebruik en haar sinne is ook meestal grammatikaal korrek. Haar woordeskat neem vinnig toe. Sy kan die funksies van bekende voorwerpe beskryf en twee tot drie opdragte op ’n slag uitvoer. Sy kan liedjies volledig sing en rympies opsê. Tipiese dinge wat sy nou onder die knie kry is die dae van die week, haar ouderdom en die meeste teenoorgesteldes. Sy kan tot tien tel, ken ses kleure en drie vorms en het al ’n eenvoudige tydsbegrip.

Laat jou kind toe om haar eie stories op te maak en te vertel. Vat haar na toneelopvoerings en help haar om dinge soos die dae van die week te leer. Verskaf deurentyd ’n goeie taalmodel.

6–7 jaar

Op 6 jaar kan jou kind heeltemal duidelik praat en taal sosiaal suksesvol gebruik. Sy kan ’n storie met taamlike akkuraatheid vertel en die eerste klanke in woorde identifiseer. Sy kan woorde wat rym identifiseer soos kat en mat, en self rympies maak. Sy kan hoor as woorde dieselfde of verskillend klink en sal die ritme van woorde kan uitklap. Sy moet al tot by twintig kan tel, kleure en vorms herken en haar adres en telefoonnommer begin onthou.

Antwoord jou kind as sy wil weet wat iets is en hoe dit werk. Maak saam lawwe rympies op. Vra vir haar watter woorde eenders klink en speel speletjies waar julle die eerste klanke in woorde identifiseer.

Teen 7 jaar spog jou kind met ’n uitgebreide woordeskat en gebruik sy al saamgestelde sinne waarmee sy gebeure kan beskryf en boodskappe kan oordra. Moeilike taalbegrippe soos “verskillend”, “soortgelyk”, “minder as” en “meer as” word nou vasgelê. Sy moet ook ’n horlosie kan begin lees. Sy kan klanke in drieletter-woorde identifiseer en in graad 1 kom ’n nuwe dimensie van taal by: lees en skryf.

Speel speletjies soos Krabbel om haar woordeskat uit te brei en lees, lees, lees. Sorg dat julle genoeg eenvoudige boekies het as sy self kan lees.

‘My kind praat nog nie!’

Prof. Alta Kritzinger, spraaktaalterapeut van die Universiteit van Pretoria, sê hoewel hulle nie werklike bewyse het nie en daar nog geen navorsing daaroor gedoen is nie, sien hulle deesdae meer kinders met spraak- en taalprobleme, asook kinders wat laat begin praat.

Sy sê faktore soos middeloorontsteking en meer vroeë geboortes speel ’n rol, maar hulle raak ook al meer bewus van omgewingsfaktore wat ’n invloed het op taalontwikkeling. “Die outjies wat nie goeie taalmodelle kry nie is geneig om later te praat, so ook kinders wat in ’n veeltalige omgewing grootword waar die eerste taal nie voldoende ontwikkel nie.”

Sy het die volgende riglyne:

Moenie jou kind vir ure voor die televisie laat sit nie. “Kinders sal oor en oor na ’n storie kan kyk. Hulle raak visueel ingestel en nie op taal nie, veral as die program in Engels is en die kind is Afrikaans. Hulle leer om nie te luister nie en af te skakel, want dis deur die prentjies wat hulle die storie volg,” verduidelik Alta. Sy beklemtoon dat televisie nooit jou interaksie met jou kind moet vervang nie. “Die ideaal is om saam te kyk en daaroor te gesels.”

Sorg vir gereelde een-tot-een interaksie met jou kind. “ ’n Mens het empatie met ouers wat lang ure werk, maar niks kan een-tot-een interaksie en kommunikasie met ’n kind vervang nie,” sê Alta. “Dit kan maar verweef wees met jou kind se daaglikse versorging, soos met badtyd of etenstyd. Al daardie geleenthede vir taaluitbreiding en interaksie moet benut word.”

Maak seker jou kind se versorger gesels baie met haar. “In groepe is dit moeiliker vir ’n kind om individuele aandag te kry. Kinders stimuleer mekaar se taalontwikkeling, maar een kind kan nie aan ’n ander ’n taalmodel verskaf nie, want hulle is op dieselfde vlak. Volwassenes het ’n natuurlike manier om die taalmodel te vereenvoudig. Hulle praat in korter sinne en herhaal baie en hulle het ’n verskeidenheid van taal wat kinders nie het nie.”

Wanneer moet jy begin bekommerd raak? Elke kind se spraak ontwikkel teen sy eie pas, maar sodra jou kind se spraakmylpale te ver van die normale afwyk, moet jy hulp soek, raai Alta aan.

Leer jou kind ’n tweede taal

Al meer Afrikaanse ouers wil hê hulle kinders moet ’n tweede taal – gewoonlik Engels – vlot en aksentloos praat. En, is die redenasie, hoe vroeër hulle begin, hoe makliker.

Heila Jordaan, dosent by die departement spraakpatologie en oudiologie aan die Universiteit van die Witwatersrand en een van Suid-Afrika se voorste kenners van tweetaligheid, sê kinders leer taal gewoonlik makliker aan omdat mense in eenvoudiger taal met hulle praat en hulle meer tyd het, maar volwassenes kan ’n tweede taal net so goed aanleer. “Al wat volwassenes nie so goed soos kinders bemeester nie, is uitspraak.”

Sy reken die beste manier om jou kind te help om ’n tweede taal tuis te leer, is om haar dikwels die geleentheid te gee om met iemand wat die taal goed praat, te kommunikeer soos sy in haar eerste taal kommunikeer. “Die besluit om ’n kind tweetalig groot te maak, sal slegs slaag as daar volgehoue, konsekwente blootstelling van ’n goeie gehalte aan albei tale is. Kinders leer nie ’n taal as ’n mens nie dikwels en op hulle vlak met hulle kommunikeer nie.”

En, beklemtoon sy, “die kind moet nie geleer word nie, maar mee gesels word!” Sy sê blootstelling kan vanaf babadae geskied; ouers hoef nie te wag tot op ’n sekere ouderdom nie.

Heila waarsku wel dat die tweede taal nie ten koste van sy eerste taal geleer moet word nie. “As dit gebeur, kan die kind met veral verstandelike vaardighede begin sukkel en mettertyd sal die tweede taal oorheers.”

Heila sê dis nie nodig om jou kind in ’n anderstalige skool te sit om sy tweede taal goed te vestig nie. “Maar jy kan as jy wil. As jy volhou om jou eie taal tuis te praat, sal die kind ten volle tweetalig anderkant uitkom.”

In so ’n geval, sê sy, moet ouers verseker dat die kind wel ook in sy eerste taal lees en skryf. “Dis makliker as die eerste taal ook as vak by die skool aangebied word.”

Dit kan aanvanklik ’n jaar of twee duur voor die kind op dieselfde vlak is as kinders wat in hul eie taal skoolgaan.

Heila reken ook dit is ’n goeie idee as jou kind se oppasser in haar eie taal met jou kind kommunikeer. “Sy praat immers haar eie taal beter as joune!”

‘Yebo, mamma!’

Bitter min Afrikaanssprekendes is ’n inheemse Afrikataal soos Xhosa of Zoeloe magtig. Iemand wat nie hierdie probleem het nie, is Marlette Visagie van Randburg, ma van Melissa (4 jaar) en Ruben (4 maande). Marlette het op ’n plaas in KwaZulu-Natal grootgeword waar haar oppasser en haar beste maatjie Zoeloesprekend was. Deesdae pluk sy die vrugte van haar gereelde Zoeloe- geselskap: Sy praat steeds vlot Zoeloe en gebruik dit elke dag van haar lewe. “Ek wil graag hierdie voorreg met my kinders deel en het hulle oppasser dus gevra om net Zoeloe met hulle te praat,” vertel sy.

“Sy praat al vandat Melissa ses maande oud was net Zoeloe met haar. Ek het Melissa op twee jaar na ’n Afrikaanse kleuterskool gestuur en sy het nou minder blootstelling aan Zoeloe, maar sy verstaan presies wat ons oppasser sê, hoewel sy dit nie vlot praat nie. Ook met Ruben praat die oppasser net Zoeloe.

“Omdat hulle van kleins af Zoeloe leer, sal dit die taal uiteindelik vir hulle makliker maak. Ek sal dit definitief aanmoedig. Ek dink dis belangrik om ’n ander taal magtig te wees in die land waarin ons woon.

“Ek praat nooit self Zoeloe met my kinders nie, want ek glo elke persoon moet altyd dieselfde taal met hulle praat.”

Moederstaal, vaderstaal

Hoe gemaak as die ouers verskillende tale praat? Die tweetaligheidskenner Heila Jordaan sê ouers moet dan verseker dat hulle albei gereeld met hulle kind praat en ook ewe veel in albei tale praat. “As dit nie moontlik is nie, moet hulle onthou dat die kind die taal waarin die meeste met haar gepraat word, die beste sal leer.”

Sy sê dis beter om nie met jou kind te praat in ’n taal waarin jy jouself beswaarlik kan uitdruk nie, maar as albei ouers albei tale goed kan praat, kan hulle maar in albei tale met hul kind ook praat.
Daar is geen bewys dat kinders nie twee tale gelyk kan leer nie, sê Heila. Dis dus nie nodig dat die kind eers in een taal vaardig is voor ’n tweede geleer word nie. “Ouers moet egter seker maak dat hulle gereeld in albei tale met hul kind gesels, boekies in albei tale lees en albei tale oor die algemeen stimuleer.”

Wanneer die ouers met mekaar praat in ’n taal wat nie een van hulle se moedertaal is nie – soos wanneer die ma Afrikaans is, die pa Duits en hulle praat Engels met mekaar – het Heila die volgende raad: “ ’n Ma moet liefs met haar kind in haar eie taal praat. Hulle kan dan kies watter ander taal hulle die kind wil laat leer. Om prakties te wees, sal dit seker die taal wees wat hulle albei goed kan praat soos Engels, maar die pa kan ook met sy kind Duits praat. Al die tale hoef nie gelyk te kom nie.”

Een huis, 3 tale

Shupu Heil is Sepedi en haar man Duits.

“Ek kan Duits praat, maar my man kan baie min Sepedi praat. Engels is ons verhoudingstaal. Ons praat Engels of Duits met mekaar. Die taal wat die minste gepraat word, is Sepedi.

“Met my oudste, Moora (elf jaar), het ek net Sepedi gepraat tot sy twee en ’n half was. Maar toe sê sy een keer iets in Sepedi vir haar pa en hy kon haar glad nie verstaan nie. Ek onthou ek het gedink: ‘Wat is ek besig om te doen?’ Van toe af het ek Engels met haar gepraat sodat my man ook kan verstaan. Agterna was ek spyt daaroor. Moora is steeds Sepedi magtig, maar sy verstaan meer as wat sy regtig praat.

“My seun, Maxmillian (8), het gekom toe Engels vir my belangrik was. Hy hou daarvan om goed te wees met alles en het weerstand gebied teen Sepedi, want hy kon dit nie goed praat nie.
“Met my jongste, Antonio-Pheladi (4), was ek ouer en wyser. Ek het geweet ek wil nie ’n kompromie aangaan nie en het Sepedi met haar gepraat. Maar met ’n broer en suster wat ’n ander taal praat, is dit moeilik.

“Hoewel Engels ons huistaal is, het die kinders mettertyd heelwat Duits opgetel en hulle is in ’n Duitse skool. Hulle praat vlot Engels en Duits, maar net Moora en Antonio-Pheladi praat ’n bietjie Sepedi. Wat die gebruik van Sepedi in ons huis verder bemoeilik, is die gebrek aan boeke in die taal. Ek dink ek doen hulle ’n onguns deur nie daardie deel van hulle herkoms ook aan hulle oor te dra nie. Daarom wil ek ’n dag instel waarop hulle net Sepedi mag praat, want dis belangrik dat hulle ook ’n Afrikataal leer.”

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees