Hoekie toe!

akkreditasie
Uitsittyd is 'n dissiplinetegniek wat jou kan help om plofbare situasies te ontlont en jou klein terroris kan leer hoe om homself tot bedaring te bring. 

Eintlik is uitsittyd maar net een van die moderne woorde vir die “hoekie toe” van ons kindertyd. Dis ’n dissiplinetegniek wat bedoel is om jou peuter kans te gee om weer tot verhaalte kom as sy kop ’n bietjie uitgehaak het. Klein kinders bevind hulle dikwels in situasies wat vinnig buite hul beheer raak en hulle weet nie hoe om daar uit te kom nie. Dis tipies dan dat stout gedrag of vloerstuipe kop uitsteek. Uitsittyd kan help.

Hoekom uitsittyd?

Deur jou kind vir ’n rukkie te verwyder uit die geselskap, of van waar julle aan die speel was, wil jy dit by hom tuis bring dat goeie gedrag lekker voel en dat slegte gedrag glad nie lekker voel nie. Mettertyd sal hy gemotiveerd voel om hom goed te gedra omdat hy dit self ook so verkies. Dis nie lekker om stout te wees nie! Uitsittyd is nie ’n straf nie – dis bloot bedoel om ’n gedragsverandering teweeg te bring. Julle kan dit ook afkoeltyd noem as dit vir jou beter klink.

Vir wie is dit?

Uitsittyd kan doeltreffend ingespan word as jou peuter tussen 18 en 24 maande is, en werk tot op omtrent ses jaar. Voor 18 maande werk dit beter om maar net jou kind se aandag af te trek of hom te vang voor hy iets verkeerds doen en hom in ’n ander rigting te stuur. Ná ses jaar kan jou kind al logieser dink en redeneer, en het hy hopelik al genoeg selfdissipline ontwikkel dat uitsittyd nie meer nodig is nie.

Wanneer?

Gebruik uitsittyd wanneer jou kind regtigmoed swillig stout is en beheer verloor het. Dis beslis nie bedoel vir wanneer hy vergeet het om “asseblief” te sê, of iets per ongeluk omgestamp het nie. Hou uitsittyd vir wanneer hy maatjies slaan of kos aspris rond gooi om jou te tart, of wanneer hy aan hou met gedrag waaroor jy hom al berispe het. Dis vir gedrag wat hy baie goed weet verkeerd is.

Waar?

Kies ’n plek soos ’n hoekie, stoel of trappie, of ’n kamer waar hy alleen maar steeds veilig en naby jou kan wees, soos die waskamer by die kombuis, die gastetoilet of voorportaal naby die sitkamer of speelkamer. Hou die deur oop. Dit moet verwyder wees van waar julle is, maar jy moet steeds ’n ogie oor hom kan hou. Die idee is nie om tronkstraf in die kleine toete pas, of hom bang te maak deur hom toe te sluit nie.

Hoe werk dit?

Jou kind word na die afkoelplek gestuur waar hy stil moet bly sit vir sowat een minuut vir elke jaar wat hy oud is. Hy sal nie noodwendig gedwee daar gaan sit wanneer jy dit beveel nie. Jy sal hom saaklik moet optel en daar gaan neer plak.Bly kalm, ferm, hou jou stem laag en sê: “Ek kan sien jy is kwaad, maar jy moet nou ophou skree.” Sit hom dan daar neer. Jy kan baie kortliks verduidelik hoekom, maar dis nie nou die tyd vir lang argumente nie. Moenie skel nie, maar jou stem en lyftaal moet duidelik sê “dié nonsens gaan nou end kry”.

As hy opstaan voor die minuut om is, sit hom ferm terug. Hy sal gou die boodskap kry.

Maar onthou, as die uitsittyd verby is, is dit verby. Vra jou kind om mooi jammer te sê, gee hom ’n drukkie en gaan op ’n normale trant aan met dit waarmee julle vroeër besig was. Hy sal waarskynlik ’n paar keer die grense toets en die gedrag herhaal. Sorg dat jy konsekwent bly! Later, wanneer alles oor gewaai het, kan julle gesels oor wat gebeur het en hoekom. Verduidelik dat die afkoeltyd bedoel is sodat hy kan nadink oor hoe hy hom moet gedra sodat almal in vrede saam kan lewe.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees