V&A: "Hy klou soos 'n neet!"

akkreditasie
My peuter is 16 maande oud. Hy het twee maande geleede by die kleuterskool ingeval. Als het goed gegaan tot verlede week. Skielik is hy baie klouerig as ek hom aflaai en hy huil só, hy wil letterlik nie my rokpante los nie. Elke dag word dit net erger. Die juffrou moet hom van my lyf as skeur. Die skool is wonderlik en ek weet hy's gelukkig daar, maar die aflaai is besig om in 'n nagmerrie te ontaard. Wat kan ek doen? 

René Daniels antwoord:

Dis deel van jou peuter se normale ontwikkeling om tussen 12 en 36 maande klouerig te wees. Dis 'n peuter se natuurlike reaksie op sy groeiende onafhanklikheid.

Skeidingsangs weerspieël die peuter se pogings om vas te hou aan dit wat hy as veilig beskou in 'n onbekende en soms vreesaanjaende wêreld. Alle babas raak afhanklik van hul primêre versorgers en het gewoonlik een of twee belangrike mense wat hulle vertrou en by wie hulle geheel en al veilig voel.

Die eerste stappe na onafhanlikheid is 'n geleidelike proses en kan 'n peuter baie bang maak. Klouerigheid wys daarop dat die peuter probeer om die rigting wat sy ontwikkeling inslaan om te keer- in sy kop het hy nou te ver gegaan en het hy die behoefte daaraan dat sy ma of pa weet dat hy bang is.

Die gedrag kan voorkom selfs al is die peuter reeds 'n maand of twee lank by die sorgsentrum. Dis belangrik om met jou peuter se juffrou te praat en vas te stel hoe jou kind hom gedra en of hy dalk geboelie word. Jy moet weet of jou kind werklik gelukkis by die sentrum is.

As jy oortuig is dat alles in die haak is, is dit beter om ou kind telkens in die hande van dieslefde bekende persoon te laat wanneer jy hom aflaai. Groet altyd en sê totsiens, en verseker hom dat jy vanmiddag sal terugkom. Dit bou die kind se vertroue. Moenie net wegsluip nie!

Laat ou kind miskien toe om 'n trooskombersie, gunsteling-speelding of selfs iets wat aan jou behoort vas te hou. Erken altyd jou kind se onsteltenis en sê: "Ek weet jy wil hê ek moet bly, ek wens ek kon, maar ek sal jou kom haal net ná slaaptyd", of iets soortgelyks. Dit sal jou kind help om te weet wanneer jy kom op 'n manier wat vir hom verstaanbaar is.

Probeer ferm bly wanneer jy jou kind aflaai deur daarop aan te dring dat jy werk toe moet gaan, maar hom ook te verseker dat jy hom na skool sal kom haal. Benadruk die feit dat jou peuter dapper is en al so groot, dat hy skool toe gaan en met nuwe maatjies speel. Jy moet betroubaar wees en altyd terugkom wanneer jy beloof het. As jy laat gaan wees of hom nie self kan gaan haal nie, bel die juffrou sodat sy jou kind daarop kan voorberei.

Jy kan ook probeer om, wanneer jy hom gaan aflaai, jou kind in sy klassie besig te hou met iets wat hy geniet, soos om te teken, en dan ná 'n rukkie te groet en sê jy kom later. Bring gehaltetyd saam met jou kind deur nadat jy hom gaan haal het, want dit sal hom van jou liefde verseker en 'n sin van veiligheid skep. 

Die meetse peuters word bang wanneer hulle met aflaaityd van hul ouers geskei word. Die onsteltenis duur gewoonlik nie lank nie en baie kinders gedy in hul nuwe, veilige omgewing.

Alle kinders moet leer hoe om skeiding te hanteer- dis 'n lewensles en 'n belangrike bousteen op hlu pad na uiteindelike onafhanklikheid.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees