Koeimelk: hoekom, hoeveel en watter soort is die beste

akkreditasie
Jou klein woelwater is dalk nie 'n kalfie nie, maar koeimelk het sy beslis nodig. Leer hier hoekom, hoeveel en watter soort die beste is. 

Mamma se melk is die beste vir babas en ook vir peuters, maar ongelukkig kan mamma nie vir altyd bly melk gee nie, en hulle verkoop ook nie botteltjies borsmelk in die supermark nie. Koeimelk is dalk bedoel vir babakoeie, maar is ook goed vir mense en ons kleingoed en is ’n belangrike bron van voeding as ma se melkgeetyd verby is.

Jy kan koeimelk in klein hoeveelhede begin insluit wanneer jou baba begin eet, en van haar eerste verjaardag af kan sy dit ook drink. (As sy koeimelk begin drink voor sy ’n jaar oud is, kan sy ’n ystertekort opdoen.) Leer jou peuter maar van ’n jaar af om koeimelk te drink, selfs al borsvoed jy nog. So kan jy seker wees dat sy later van hierdie voedsame drankie sal hou.

Witgoud

Melk en melkprodukte is van die voedingrykste kosse wat jy jou kleinding kan gee. Dit bevat proteïene, koolhidrate, vet, vitamiene en minerale en daarom kan dit ’n vinnige maaltyd-in-’n-glas wees.

Die gehalte van die proteïene in melk kan vergelyk word met dié van vleis en twee glase melk verskaf die helfte van die proteïene wat jou peuter elke dag nodig het om te groei. Suiwel is ook die beste bron van kalsium, fosfate en magnesium en twee glase melk voorsien in onderskeidelik 90, 100 en 75 persent van jou peuter se behoeftes aan hierdie voedingstowwe.

Die verhouding van kalsium, fosfate en proteïene in melk maak dit ideaal vir die bou van sterk bene en tande. Kinders wat genoeg melk drink se tandjies is sterker as dié wat dit vermy en hulle kry dus nie so maklik gaatjies nie. Melk bevat ook ’n groot klomp vitamiene en twee glase sorg vir 200 persent van die vitamien B12, 160 persent van die vitamien B2, 125 persent van die biotien en 40 persent van die vitamien A wat jou peuter nodig het. Jy kan dus nie bekostig dat jou kleinding nié hierdie witgoud elke dag inkry nie.

Volroommelk bevat wel ook heelwatv ersadigde vet en cholesterol, terwyl laevetmelk minder bevat en vetvrye melk feitlik niks. Een ander fantastiese feit is dat alle suiwel ’n lae glikemiese indeks het, wat beteken dat dit volgehoue energie vir jou besige bytjie gee en nie ’n lae bloedsuiker met die gepaardgaande vloerstuipe sal veroorsaak nie.

Sonder suiwel?

Van ’n jaar oud af behoort elke kind 500ml melk of jogurt per dag in te neem; nie méér nie en ook nie mínder nie. Te veel melk kan lei tot hardlywigheid, ystertekort en oorgewig. Maak egter seker sy kry haar 500ml elke dag in deur eerder melk en jogurt as koeldrank en koekies as peuselhappies te voor te sit.

Kinders onder twee behoort volroommelkprodukte soos volroommelk en-jogurt te kies omdat hulle meer vet as grootmense nodig het vir breingroei. Vanaf twee jaar oud kan jou kleinding laevet- of vetvrye melk en jogurt gebruik. As jy haar dit van kleins af leer drink, sal sy nie later soos haar pa weier om ‘blou’melk te drink nie. Dit is ’n goeie gewoonte wat haar die res van haar lewe sal baat.

Leer jou kind ook van kleins af om ongegeurde jogurt te eet. Dit is ’n smaak wat aangeleer moet word en as jy van die begin af net dit vir jou peuter gee, sal sy gek wees daaroor. Terwyl jy besig is kan jy sommer self ook leer om dit te eet. So sal julle onnodige ekstra suiker uitskakel wat kan bydra tot gesondheidsprobleme. Pleks van versoete jogurt kan jy soms vars vrugtestukkies of vrugtepuree by ongegeurde jogurt roer.

Wanneer dit kom by kaas is dit goed om een te kies wat laag is in vet. Beproef mozzarella of laevetmaaskaas en gebruik hoëvetkase soos gouda, cheddar, feta en roomkaas minder gereeld. Al het kleingoed meer vet nodig, moet ons van kleins af vir hulle gesonde plantvette eerder as diervette gee en die regte gewoontes vestig. Bly ook liefs weg van kondensmelk en koffieverromers en vervang room in resepte met ongegeurde jogurt.

Kul jou hier, kul jou daar

As jy een van die kleingoed het wat haar mamma probeer terugkry omdat jy nie meer vir haar die bors wil gee nie, het ons vir jou ook raad.

Werk eenvoudig suiwelprodukte in by die kos wat jy kook. Maak hawermoutpap met melk pleks van water, voeg melk by bredies, souse en soppe of maak ’n gladdejantjie met vars vrugte, groente en melk of jogurt.

Jy kan ook gegeurde melk beproef of ysies maak van vars vrugte en jogurt of gegeurde melk. Roer sommer reg deur die dag poeiermelk by haar kos en gee laevetkaas om aan te knibbel. Maak net seker jy tel hoeveel jy gee dat jy nie altesaam te min of te veel suiwel inwerk nie.

Intoleransie

Laktose-intoleransie is ’n onverdraagsaamheid teenoor die suiker in melk .’n Tekort aan die laktase ensiem wat die melksuiker moet afbreek veroorsaak opgeblasenheid, winderigheid, maagkrampe en diarree. Dit kom selde by peuters voor, maar as jou kleinding langer as twee weke diarree het, het sy dalk ’n tydelike intoleransie. Gee haar ’n paar dae lank ’n laktosevrye melk soos Parmalat Easygest; daarna kan jy weer gewone melk begin gee.

Hoe gemaak met allergieë?

As jou klein lyfie as baba ’n koeimelkallergie gehad het, is daar geen ander opsie as om suiwel te vermy nie. Bokmelk en rysmelk sal nie vir kleingoed werk nie, maar sojamelk kan in sommige gevalle gebruik word.

Die kans is gelukkig goed dat jy vinnig weer jou koepon vir ’n kan sal kan ruil, aangesien sy heel waarskynlik die allergie sal ongroei. Ongeveer die helfte van kinders met ’n koeimelkallergie ontgroei dit teen een jaar, nog 25 persent teen twee en teen drie jaar het 90 persent dit ontgroei. Laat toets haar dus gereeld en begin melk gee sodra jy kan.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees