Kweek só optimisme by jou kind

akkreditasie
Hier is wat jy kan doen om 'n optimistiese houding by jou kleinding te kweek en só die depressie gogga weg te hou.

Onder 1 jaar

Babas is baie sensitief vir hul omgewing en die mense om hulle. Jou pasgebore baba het nodig om veilig te voel, seker in die wete dat iemand in liefde gaan reageer as hy sy behoeftes bekend maak deur te huil.

Hierdie eerste tyd is ’n belangrike wegspringblok vir sy gemoedstoestand die res van sy lewe. As jy hom nou verwaarloos of sy behoeftes ignoreer, kan dit hom knou. Selfs babas so jonk as vier maande kan al aan depressie ly en hulle emosioneel van die wêreld afsluit; daarom is dit van dag een af nodig om ’n omgewing te skep waarin optimisme blom.

Jou aksieplan

  • Gee jou kleinding maksimum sekuriteit en veiligheid. Tel hom op as hy huil sonder om bang te wees jy bederf hom. Jou baba moet weet jy is daar vir hom.
  • Maak jou baba elke dag met ’n glimlaggende gesig wakker.
  • Maak van elke doekomruiling ’n geleentheid om hom te laat lag of glimlag: Speel trippe-trappetrone met sy toontjies of blaas soentjies op sy magie.
  • Wees self positief: Jou baba kan aanvoel as jy terneergedruk is en dit kan ’n invloed op sy gemoedstoestand hê. As jy sukkel met gevoelens van depressie, kry hulp.

Onder 2 jaar

Jou kleinding sal nou die wêreld verken en met alles eksperimenteer. Dis dus die ideale tyd om hom te help om sukses te ervaar, ’n belangrike boublok vir optimisme.

Hy is ’n klein sponsie wat houdings en inligting leergierig opsuig; doen dus moeite om hom van die mooi in die lewe te leer terwyl julle verken.

Jou aksieplan

  • Begin elke dag deur jou kleinding te vertel hoe ’n wonderlike dag dit gaan wees en watter lekker goed julle gaan doen: Onthou, elke uitstappie is vir jou peutertjie ’n avontuur, of dit nou reën- of sonskynweer is!
  • Fokus daarop om vir jou peuter te wys hoe wonderlik die wêreld is. Gaan stap en wys vir hom die
    voëltjies, die bome en die tuin en vertel hom hoe mooi dit gemaak is.
  • Moedig jou kleinding aan om uitdagings self aan te pak en prys hom as hy dit regkry. Wees spesifiek met jou lof: “Jy het darem baie hard gewerk!” Waak egter teen oordrewe lofuitinge – dit kan bydra tot pessimisme.
  • Laat hom goed voel oor homself. Vertel hoe wonderlik jul dag saam was en hoekom.
  • Gee hope drukkies en liefde en sorg dat jou kleinding veilig voel deur ’n roetine te volg.

Onder 3 jaar

Jou kleutertjie se leefwêreld raak nou groter en hy sal hope nuwe belewenisse hê. Hy kan hom al ’n bietjie beter uitdruk, wat dit moontlik maak vir jou om met hom te gesels oor dinge wat hom dalk pessimisties stem, sodat jy hom leiding kan gee.

Jou aksieplan

  • Gesels met hom oor sy dag se gebeure, vind uit wat hom kwaad of hartseer gemaak het, en plaas dit in perspektief. Wys uit dat sekere moeilike situasies net tydelik was, en help hom soek na ’n oplossing vir die volgende dag.
  • As jou kind wil moed verloor met iets, gee erkenning aan sy gevoelens: “Mamma sien jy sukkel om daardie vormpie in sy gaatjie te kry.” Maar herinner hom ook aan vorige suksesse: “Onthou jy hoe oulik jy gister almal ingekry het?”
  • Wees self optimisties oor die lewe en elke dag se gebeure. Onthou, jy is jou kleinding se grootste
    leermeester.
  • Help jou japsnoet om die positiewe raak te sien. As ’n speelafspraak met ’n maatjie gekanselleer
    moet word, wys hom daarop dat dit beteken julle kan saam speel.
  • Rig dissipline op wat hy gedoen het eerder as op hom as mens.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees