Leer jou kind opruim: Ma's gee raad

akkreditasie
Laat jou spruit van vroeg af takies in en om die huis verrig om haar netjies en verantwoordelik te leer wees – en begin sommer by speelgoed opruim.

Kinders kan in ’n oogwink jou huis omdolwe en dan kos dit ure om die gemors op te ruim. Ma, jy het drie keuses: Jy kan die huis in ’n chaos los en maak asof dit nie bestaan nie, jy kan self opruim – of jy kan jou kind leer dat ’n mens moet skoonmaak waar jy gemors het.

Buig die boompie terwyl hy jonk is

Carmen Lewis (27), ma van Jaydon (2), van Horizon View, Johannesburg

Baie ma’s maak die fout om te dink hul kinders is te klein om in die huis te help, maar as jy hulle ’n bietjie dophou, kom jy gou agter hulle is natuurlike helpertjies.

Omdat Jaydon so gretig is om meer te leer oor die wêreld om hom, is daar vir hom niks lekkerder as om my te help nie. My ma, Bernadette (61), het 14 kleinkinders en was ’n dagmoeder, en sy het my geleer dat takies een van die maklikste maniere is om jou kind tuis te stimuleer en toe te rus met nuwe vaardighede. Die bonus is dat daar in die proses ook ’n gesonde verhouding tussen ma en kind opgebou word.

Glo my, dis nooit te vroeg om jou kinders te leer opruim nie. As Jaydon vrugtesap op die vloer gemors het, gaan haal hy self die mop in die badkamer en begin skoonmaak. Hy weet ook al dat as hy klaar gespeel het, hy eers die speelding moet wegpak voor hy ’n ander een vat.

Daar is ook niks verkeerd mee om hom af en toe by die huistakies te betrek nie, al kos dit jou ook twee keer langer om die taak af te handel. So leer jou kind dat hy verantwoordelikheid moet aanvaar.

Wenk 1: Sê iets soos “Is jy klaar gespeel met jou Lego-blokkies? Wil jy vir Mammie help om dit in die boks te pak voor jy Barney kyk? Mooi so! Mamma sal die boks wegpak op die rak waar ons dit gekry het.”

Wenk 2: As jy wil hê jou kinders moet hul eie goed opruim, is dit belangrik dat jy die gereedskap vir opruiming binne hul reikafstand los. Maak dit pret deur bokse in verskillende kleure vir spesifieke speelgoed en voorwerpe te gebruik. Maak opruiming ’n speletjie om te sien wie sy boks eerste kan vol maak. Voor jy jou kom kry, ruim jou kind op en sal hy jou betig as jy die verkeerde boks gebruik.

Herhaal, Herhaal, Herhaal

Beatrice Reid (37), ma van twee seuns, Kraaifontein, Kaapstad:

Met twee seuns (3 en 7 jaar oud) kan dinge nogal omgekrap raak. Wat soos ’n bom werk, is om die outjies se ego gereeld te streel en hulle te prys al is hul opruimswerk nie juis op standaard nie.

Dit help ook as jy hulle gedurig aanmoedig en vertel watter knap werk hulle doen. Kinders is taamlik vergeetagtig en om hulle in ’n opruimingspatroon te kry, moet jy hulle daagliks daaraan herinner.

As ons ’n kamer verlaat, vra ek hulle om eers te kyk of enigiets rondlê. Ons los nie dinge vir later nie, want anders is die dag verby, die kinders pootuit en arme Ma moet die aand ure lank opruim. Ruim eerder kort rukkies gedurende die dag op as om dinge vir later te laat wag.

Wenk 1: Sê iets soos, “Kom ons maak gou seker die sitkamer is opgeruim voor Mamma middagete maak. Sien jy enigiets op die mat? Aha, jou motortjies. Nou waar moet hulle weggepak word?”

Wenk 2: Kinders hou nie van alle takies nie, maar hou van presteer. Koop goue sterretjies wat mooi blink en elke keer as hulle goeie werk gedoen het, kry hulle sterretjies op die kop of in hul sterretjieboek of -kaart. Hulle kan dan vir ouma en oupa die boek wys wanneer dié kom kuier.

Motiveer jou kind deur hom die takie te laat verrig met die belofte van plesier agterna: “As jy gou jou klere van die grond af optel, kan ons daarna inkleur.”

Waarmee werkies help

  • Dit maak slim: Tafel dek leer jou kind tel, wasgoed sorteer leer hom kleurherkenning, speelgoed opruim leer hom sorteer.
  • Dit leer goeie waardes. Jou kind leer dat huishoudelike take deel is van ’n normale gesinslewe en die nodigheid vir werk word deel van sy interne waardestelsel.
  • Dit leer jou kind empatie. Hy kan verstaan as jy moeg is nadat jy heeldag in die huis gewerk het.
  • Hy leer selfversorging.
  • Hy leer take beplan en aanpak.
  • Hy leer samewerking.
  • Hy leer verantwoordelikheid aanvaar vir sy dade soos om sy speelgoed op te ruim nadat hy daarmee gespeel het.
  • Hy leer selfrespek.
  • Hy voel soos ’n belangrike lid van die gesin wat ook ’n bydrae kan lewer, al is hy klein.
  • Hy ontwikkel vaardighede en kennis wat hy lewenslank kan benut.
  • Dit maak jou lewe makliker. Wanneer elke kind sy kant bring, laat dit meer tyd vir julle toe om saam deur te bring.

Vertrou jou kind

Navorsing toon dat volwassenes wat op die ouderdom van drie en vier jaar huishoudelike takies verrig het, groter sukses in die lewe bereik as dié wat nie takies verrig het nie.

Hulle het ’n groter kans om hul studies te voltooi, ’n goeie loopbaanbegin te maak, gesonde volwasse verhoudings te ontwikkel en gedragspatrone soos dwelmmisbruik te vermy.

As kinders egter nie kleintyd reeds takies verrig het nie en hul ouers hulle eers as tieners sover probeer kry het om dit te doen, het dit ’n teenreaksie tot gevolg gehad met ’n negatiewe invloed op hulle sukses as volwassenes.

Deur jou kind die verantwoordelikheid van takies te gee, dra jy die boodskap hard en duidelik oor: “My ma glo ek kan dit doen!” Hierdie vertroue beteken ongelooflik baie vir jou kind se selfbeeld.

Maak jou kind van kleins af opruim slim:

  1. Jou kind moet weet daar is ’n plek vir alles en wanneer sy klaar is met iets, moet sy dit terugsit waar sy dit gekry het. As jou kind dit leer, sal jy vir lank orde in die huis hê!
  2. Kies takies wat ouderdomsgepas is. ’n Te moeilike taak sal jou kind moed laat verloor. Takies moet uitdagings bied, maar nie oorweldigend moeilik wees nie. Laat haar met selfversorgingstakies begin.
  3. Leer jou kind hoe. Jy hoef nie meer twee keer te dink oor hoe om jou bed op te maak nie, maar vir jou kleinding is dit ’n nuwe leerkurwe. Verduidelik stap vir stap hoe jy dit doen. Jou kleinding sal dit waarskynlik ’n paar keer saam met jou moet doen voor sy dit self regkry.
  4. Breek groot take op in kleiner, meer hanteerbare porsies. Om vir jou kind te sê om ’n chaotiese speelkamer op te ruim, sal haar moed laat verloor. Maar as jy haar aansê om net die blokkies op te tel, sal sy dit kan doen. Daarna kan sy al die karretjies optel.
  5. As jou kind haar klere of speelgoed rondgooi, hou iets terug tot sy dit opgeruim het. Byvoorbeeld: As sy ontbyt wil hê en jy sien haar pajamas lê nog op die vloer, lig haar in dat jy met liefde haar ontbyt sal maak sodra haar klere weggepak is.
  6. Wanneer jou kind televisie kyk of buite speel en jy sien iets is nie weggepak nie, roep haar dat sy dit wegpak. Dis dalk makliker om dit self te doen, maar dit gaan jou kind niks leer nie. Dit sal haar irriteer as sy haar pret moet onderbreek om iets te doen wat al gedaan moes gewees het, maar later sal sy leer om dinge die eerste keer reg te doen sonder dat sy gevra word.
  7. Maak skoonmaak deel van jou kind se lewe. Laat sy leer om haar bed op te maak, haar vuil klere in die wasgoedmandjie te gooi en haar kosblik kombuis toe te vat. Betrek haar by klein ouderdomsgepaste takies in en om die huis en voor jy jou kom kry, is dit ’n tweede natuur.
  8. Moenie jou peuter se eindresultaat kritiseer of haar foute voor haar korrigeer nie.
  9. Prys jou kind as sy goeie werk verrig het.
  10. Wees geduldig en aanmoedigend. Jou kind sal dalk meer mors as skoonmaak, maar dis belangrik dat sy oefen en probeer.
  11. Verlaag jou standaarde en prys die poging en haar gewilligheid eerder as die eindresultaat.
  12. Moenie takies geslagspesifiek maak nie. Daar is niks verkeerd met seuns wat skottelgoed was of meisies die motor was nie.
  13. Takies in die huis moet deel van jul gesinslewe wees en nie ’n straf vir jou kind nie.
  14. Onthou, jou kind is nie jou slaaf nie; moet dus nie takies op haar afskuif net omdat jy nie lus het daarvoor nie.
  15. Bly in die omgewing sodat jy kan monitor hoe sy vaar en haar kan help waar nodig. Hoe kleiner jou kind, hoe meer sal jy moet help.
  16. Sê altyd dankie as jou kind ’n takie verrig het en prys haar as sy dit goed gedoen het.

Takies vir kleuters

JOU KINDERS KAN VAN TWEE JAAR AF MET TAKIES BEGIN HELP, MAAR ONTHOU DAT KINDERS SE VAARDIGHEDE VERSKIL. WAT VIR EEN KIND MAKLIK IS, IS DALK VIR ’N ANDER MOEILIKER. WISSEL TAKIES AF SODAT HY NUWE VAARDIGHEDE ONTWIKKEL.

SELFSORGTAKIES

  • Bed opmaak
  • Klere regsit vir die volgende dag
  • Tande borsel
  • Goed bêre wat hy uitgehaal het
  • Kamer opruim en speelgoed optel
  • Vuil klere in die wasgoedmandjie gooi
  • Handdoek in die badkamer bêre
  • Bordjie ná ete in die wasbak sit

GESAMENTLIKE TAKIES

  • Dis altyd lekkerder as Ma dit saam doen en kan heerlike bindingstyd wees. Julle kan ...
  • Saam huis skoonmaak.
  • Saam wasgoed was, ophang, opvou en wegpak (hy kan help sorteer, die sokkies en sakdoeke ophang en agterna weer help om die sokkies op te vou en die klere te sorteer).
  • Saam in die tuin werk.
  • Saam kruideniersware bêre.
  • Saam kos maak (hy kan die bestanddele ingooi of help roer).
  • Saam tafel dek of afdek.
  • Die skottelgoedwasser uitpak.
  • Saam die inkopies dra.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees