Lesse oor swemlesse

akkreditasie
Dis somer en jy wil graag jou kleinding leer swem. Hier's alles wat jy wil weet.

Die somer is in aantog en jy kan nie wag om die swembad saam met jou kleinspan aan te durf nie. Maar is hulle al oud genoeg om te leer swem? Watter hulpmiddels kan jy aanskaf om hulle veilig in die water te hou? Hoe maak jy seker dat hulle nie ’n vrees vir water ontwikkel nie? En is dit waar dat babas instinktief hul asem onder water kan ophou? Ons het twee kenners gevra om al jou swemtyd-vrae te beantwoord.

Ons kenners:

Nell White, eienaar van Aquatots Suid-Afrika
Cecile Kilroe van The Swim School aan die Wes-Rand

Op watter ouderdom kan ek my kind leer swem? Ek weet van swemskole waar babas van ’n paar maande oud al leer swem...

Nell: Leer jou kind so vroeg moontlik swem, veral in ’n land soos Suid-Afrika waar die statistiek vir peuter- en kleuter-verdrinking drie keer hoër is as in enige ander ouderdomsgroep. Dit is ook vyf keer hoër as vir kinders tussen die ouderdom van vyf en veertien jaar.

Volgens die Amerikaanse Akademie van Pediaters behoort babas onder ses maande nie in openbare swembaddens te swem nie omdat hul immuniteit nog nie ten volle ontwikkel is nie. Hoewel daar swemskole in Europa is wat babas van so jonk soos ’n maand al in openbare swembaddens laat swem, wil ons by Aquatots nie daardie gevaar loop nie.

In lande soos Swede, waar die swembadwater so skoon en suiwer soos drinkwater is en waar almal (babas inkluis) moet stort en hare was voor hulle in die water klim, is openbare swembaddens veilig vir babas.

Dit beteken egter nie dat babas onder ses maande nie aan Aquatots mag deelneem nie. Ons wys in die eerste ses maande vir ouers hoe om baba in die bad te hanteer. Teen die tyd dat hulle ses maande oud is, kan baie babas al heeltemal alleen op die water dryf wanneer hulle vir die eerste keer in die swembad gesit word.

’n Baba het nie ’n swembad nodig om te leer wat hy in die water moet doen nie.

Cecile: Daar is baie prettige swemprogramme waar ma’s en babas of peuters saam in die water kan baljaar, maar ’n mens moet altyd in gedagte hou dat dit nie ontwerp is as waterveiligheidskursusse nie.

Die probleem is dat dié programme nie verseker dat ’n baba of peuter presies verstaan hoe gevaarlik die water kan wees of hoe om in gevaarlike situasies op te tree nie. Geen studie het nog gewys dat dié programme jou kind van verdrinking vrywaar nie.

Dis waarom baie kundiges voel dat ’n kind eers teen drie of vier werklik gereed is om te leer swem. Daarvóór is hulle nie gereed om formele opdragte te begin volg nie.

Pediaters waarsku ook dat kinders onder drie meer geneig is tot middeloor-infeksie omdat die Eustachius-buis in die oor nog nie ten volle ontwikkel is nie. Kinders onder drie se immuunstelsel is ook nog nie ten volle ontwikkel nie – alles redes om versigtig vir swembaddens te wees.

Hoe kan ek my kleuter op swemlesse voorberei?

Cecile: Maak jou kind lief vir water deur met hom in die bad te speel. Leer hom om borrels op die water te blaas en laat hom gewoond raak aan water op sy kop en in sy gesiggie.
Moenie hom bang maak vir water deur sy kop onder die water te druk nie.

Is dit waar dat babas gebore word met ’n natuurlike instink om te swem, maar dat hulle dié instink ontgroei as ouers dit nie bly oefen kort ná baba se geboorte nie?

Nell: As babas van drie maande en jonger se koppies onder die water gedruk word, sal hulle onmiddellik hul asem ophou en refleks-swembewegings begin maak wat min of meer lyk soos dié van babakatjies en -rotte wanneer hulle in die water gesit word.

Dié refleks neem dramaties af en teen die tyd dat baba vier of vyf maande oud is, het dit heeltemal verdwyn.

Niemand weet presies hoe lank babas onder die water kan bly nie, want hulle word gewoonlik binne vyf sekondes uit die water gelig. Dit is ’n algemene feit dat wanneer babas onder drie maande onder die water gehou word, hul hartklop en asemhaling stadiger raak. Hulle hou onwillekeurig op met asemhaal. Kinders kan eers teen die ouderdom van twee hul asem willekeurig begin ophou.

Daar is lyfbande, opblaas-armpies, swemringe, noem maar op. Wat is die beste bybehore en swemdrag wanneer ek my kind wil leer swem?

Nell: Nee, nee, nee! Kinders moet leer om op hul eie hulpbronne staat te maak sonder enige spesiale swemdrag. Hulle behoort hul eie vaardighede en swak punte te verstaan.

Hulle moet geleer word om in die vlak water te swem of aan die kant van die swembad waar hulle kan vashou as dit moet.

Moet nooit jou kind in die middel van die swembad los met enige hulpmiddels nie. Al wat jy daardeur bereik, is om hom ’n vals gevoel van veiligheid te gee.

Cecile: Wanneer jy swem-hulpmiddels kies, moet jy onthou dat die boonste helfte van jou kind se lyfie die swaarste is. Dis dus waar hy die meeste ondersteuning nodig het. So nie, loop jou kind die gevaar om om te kantel met sy kop onder die water en sy voete bo. Dis presies wat jy moet vermy.
Die outydse opblaas-vlerkies om hul armpies is steeds die beste. Onthou egter dat dit jou kind nie teen verdrinking beskerm nie en dat jy altyd moet toesig hou.

Hoe weet ek my kind is gereed vir formele swemlesse?

Nell: Kinders kan self begin swem sodra hulle kan loop.

Moet ek my huishulp leer swem?

Cecile: Die ideaal is om jou huishulp vir swemlesse te stuur. Vind in jou omgewing uit oor kursusse; dieselfde swemskole wat kleintjies leer swem, sal ook volwassenes kan leer swem.

Nie alle huishulpe sal seker ewe geneë wees om formele swemles te neem nie, maar leer haar dan hoe om jou kind in ’n noodgeval uit die water te kry en wat sy daarna moet doen. Maak seker daar is noodnommers by die telefoon opgeplak wat sy kan bel indien nodig.

Hoe kies ’n mens die regte swemskool?

’n Persoonlike verwysing van ’n vriendin is waarskynlik die beste plan, maar gesels ook met die swemafrigter en vra die regte vrae. Wat is haar kwalifikasies en haar filosofie oor swem? Mag ouers by wees met die lesse en indien nie, waarom nie? Vertrou jou instink oor die plek!

’n Afrigter wat met klein kindertjies werk, behoort nooit kwaai te wees of te skree nie, want dit sal jou kind bang en verbouereerd laat voel.

Kyk verder na die water en algemene higiëne van die plek. Is die watertemperatuur geskik? Die ideaal is tussen 28 en 32 °C.

Wat is hul beleid oor swem in die winter? En hoe warm sal die swemomgewing in die winter wees? Dis belangrik dat ’n swemskool wat in die ysige wintermaande swemlesse aanbied, daarvoor toegerus moet wees. Sommige swemskole sluit in die winter – as jy wil hê jou kind moet regdeur die jaar swemles neem, moet jy dus vooraf hieroor uitvind.

Is die groepies waarin kinders onderrig word klein genoeg sodat jou kind die aandag kry wat hom toekom? Vir ’n klein kind is individuele afrigting die beste opsie.

Nog veiligheidswenke

  • Leer jou kind van dag een af om op sy magie te lê wanneer hy naby water kom, sê Cecile Kilroe van The Swim School aan die Wes-Rand. Dié oefening sorg dat sy gewig eweredig versprei is en dit voorkom dat hy sy balans verloor en in die water val.
  • Leer jou peuter om die water binne te gaan soos hy by trappe afklim: agteruit, sê Cecile.
  • Maak ’n punt daarvan om altyd te vra of daar ’n swembad is wanneer jy saam met jou kinders by ’n plek aankom. Maak selfs seker van ’n visdammetjie, watervalletjie of enige water rondom die huis. Jou gasheer is dalk nie bedag daarop dat jou kleuter daarin kan verdrink nie.
  • Wees eerder ’n paranoïese ouer as iemand wat vir die res van jou lewe spyt is. Moet nooit jou swembad oop los nie, nie eens vir ’n paar minute nie. Kry ’n net of heining en sorg dat daar ’n slot aan die heining is. ’n Mens weet nooit wie die hekkie oop vergeet nie.
  • Al is jy hoe streng en het jy jou kind hoe mooi geleer om nie naby ’n swembad te kom nie, is dit nie ’n voorsorgmaatreël wat goed genoeg is nie.
  • Moenie te gerus wees nie, selfs al kan jou kinders goed swem. Kinders jonger as tien jaar mag in geen omstandighede alleen swem nie. Hou altyd toesig.
  • Kinders verdrink selfs in skottels met water, badwater, toilette, hondebakke ens. Jy kan nooit te versigtig wees nie.
  • Al dra jou kind ’n goeie opblaasband of Polyotter-dryfpakkie, is hy nie veilig nie. Hou steeds toesig terwyl hy in die water is.
  • Onthou, ’n kind kan verdrink in daardie drie minute wat jy net wegkyk. Moenie dat dit met jou gebeur nie.

Voetnota: Swemlesse is geen waarborg teen verdrinking nie.

Is dit veilig om te swem terwyl jy swanger is?

As jy tydens jou swangerskap kan swem, is dit wonderlike oefening omdat jy albei jou groot spiergroepe – arms en bene – tegelykertyd kan oefen.

Dit laat jou logge lyf byna gewigloos voel, die gevaar van beserings is skraal en dit doen jou hart en bloedsomloop baie goed. Daarby bou swem stamina en jou spiertonus word verbeter. En die beste van alles: Dit laat jou snags beter slaap!

As jy voor jou swangerskap feitlik nooit geswem het nie, is dit nie wys om skielik vir die Midmar-myl te begin oefen sodra jy uitvind jy is swanger nie. Begin liefs stadig, strek en warm goed op voordat jy in die water gaan en koel af nadat jy geswem het. Moenie jouself vermoei nie!

’n Mens kan maklik ontwater terwyl jy swem en dis dus belangrik om deurentyd water te drink terwyl jy oefen. Drink ook ’n glas voor en ná jou swemsessie.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees